Metropolisie vra ‘Mello Yellos’

Argieffoto

Die land se metropolisiemagte wil nou gepantserde voertuie hê om onluste te beheer – dieselfde Njalas wat in die 1980’s berugtheid in die townships verwerf het as ‘Mello Yellos’.

Die nasionale SAPD-leierskap en die hoofde van die land se metropolisiedienste het Woensdagoggend aan die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie verslag gedoen oor die sterk punte en swak punte, en die motiveringsvlakke, van die land se metropolisiemagte.

Suid-Afrika het tans ses metropolisiemagte, in Kaapstad, Johannesburg, Ekurhuleni, die Tshwane-metro in Pretoria, die Nelson Mandelabaai-metro in Port Elizabeth en die Ethekwini-metro in Durban.

Die land se ander twee metro’s, te wete die Mangaung-metro in Bloemfontein en die Buffalo City-metro in Oos-Londen, het aansoek gedoen om hul eie metropolisiemagte te vestig, maar het nog nie die nodige toestemming ontvang nie.

Van die kant van die nasionale polisieleierskap is die motiveringsvlakke van metropolisielede geloof, en gesê daar is goeie samewerking tussen die SAPD en die verskillende metropolisiemagte.

Al die metropolisiemagte het aangedui dat hulle Njala-voertuie wil hê. Van die kant van die Tshwane-metropolisie is verduidelik dat dit baie moeilik is om oproeriges te beheer sonder gepantserde voertuie. Veral as klippe gegooi word, word gewone passasiersvoertuie omvattend beskadig.

Verdere prioriteite vir die Tshwane-metropolisie is die bevegting van kabeldiefstal en die beveiliging van watersuiweringsaanlegte en elektrisiteitsubstasies.

Die ANC-LP Leonard Ramatlakane het die Kaapse metropolisie probeer kruisig oor die patrollering van die strand in Clifton, wat onlangs tot ʼn skaapslagtery gelei het. Die Kaapse metropolisie het Ramatlakane egter daarop gewys dat hulle niks met die hele kwessie te doen gehad het nie, wat sy stoom gou laat opraak het.

Voorts het die Kaapse metropolisie die suksesse met die beveiliging van die Stockweg-korridor van Lansdowne af deur Athlone tot in Nyanga benadruk.

Die Johannesburgse metropolisie het gesê die SAPD in Thabazimbi lei hul offisiere op in skarebeheer. Op kritiek dat hulle dwelmgebruikers eerder as dwelmhandelaars arresteer het die Johannesburgse metropolisie gesê dit is so, maar daardie dwelmgebruikers word dan op aandrang van die Johannesburgse burgemeester, Herman Mahlaba, in klinieke behandel.

Die Nelson Mandelabaai-metropolisie het gekla dat hulle nie genoeg geld kry nie en het onderneem om meer lede aan te stel.

Die Ekurhuleni-metropolisie het erken dat hulle interne probleme met korrupsie het, maar dat hulle dit intern probeer oplos.

Die hoof van die Mangaung-metropolisie het baie gesukkel om te verduidelik hoekom hy ʼn salaris betaal word, aangesien die polisiemag wat hy veronderstel is om aan te voer, nie bestaan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dries

Sjoe hoe het ons samelewing ni agteruit gegaan nie?
Dat prioriteite moet wees:
Beveg kabeldiefstal,
Beveilig watersuiweringaanlegte en sub-stasies…

Piet Pompies

Nogal vreemd…. gedurende my jonger dae van Diensplig en Burgermag kampe was ek betrokke by onluste beheer vir omtrent 12 jaar. Die Njalas en Casper was die Polisie se voertuig en die Buffel was die weermag se voertuig wat gebruik is vir skare beheer. Die Buffel is ‘n oop voertuig en petrol bomme was ‘n groot bekommernis. Gedurende patrollie was die kante oopgemaak om gou op te tree waat dit nodig is. Daardie tyd was al die voertuie die “vyand” van die onderdruktes, vandag is die onderdruktes in beheer van die land. Panser voertuie word nou weer aangewend, wat sal… Lees meer »

D B

LOL, Metropolisie vra vir Njala’s. LOL, LOL, LOL, LOL.

Snaaks hoe, as dit te laat is, hulle altyd weer terug gaan na die verlede.

Wel, ek wil die Suid Afrika wat gewerk het weer terug hê. Mens kry nie altyd wat jy wil hê nie.

Karl

N lekker STEWIGE waterkanon daar bo op, en dan gesels ons. Of speakers wat hoe frequency speel, werk nogal baie goed.

Hanna Hoekom

Wat van lewendige ammunisie? Daai ou rubber koeels help niks.