Metropolisie waarsku teen kapers wat hul as beamptes voordoen

Argieffoto ter illustrasie

Die Tshwane-metropolisie waarsku lede van die publiek teen misdadigers wat hulle as metropolisiebeamptes voordoen en motoriste kaap.

Sr.supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, sê die metropolisie het verneem van twee swart mans in uniform wat in ’n wit VW Polo met ’n blou lig in die stad rondry.

Die mans keer dan motoriste voor waarna die motoriste gekaap word. Die mans neem hul slagoffers saam met hulle en laai hul slagoffers elders af voordat hulle in die gekaapte voertuig op die vlug slaan.

Volgens Mahamba word die meeste van die voorvalle in die ooste van Pretoria aangemeld.

“Die Tshwane-metropolisie wil beklemtoon dat dit nie metropolisiebeamptes is nie, maar misdadigers wat hulself as beamptes voordoen. Die metropolisie het wel ongemerkte voertuie. Motoriste word versoek om waaksaam te wees.”

Mahamba raai motoriste aan om na ’n veilige plek of die naaste polisiestasie te ry wanneer hulle deur ’n ongemerkte voertuig voorgekeer word. Motoriste het ook die reg om te versoek om die beampte se bewys van identifikasie  te sien wanneer hulle voorgekeer word.

Enige verdagte aktiwiteite kan by die Tshwane-metropolisie by 082 891 2498/082 320 1757 of die naaste polisiekantoor aangemeld word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.