Metropolisielid getuig teen ANC-swaargewig

Tony Yengeni. Argieffoto

Tony Yengeni. Argieffoto

’n Metropolisielid het in die Kaapstad-landdroshof getuig oor die aand in Augustus 2013 toe hy die ANC-swaargewig Tony Yengeni op aanklag van dronkbestuur in hegtenis geneem het.

Sers. Jack Gomba het getuig hoe ʼn wit Maserati, sonder ʼn nommerplaat, op die aand van die voorval by hom verbygejaag het, terwyl hy aan diens was. “Ek het die voertuig agternagesit en hoewel my ligte aan was, het die verdagte voertuig eers tot stilstand gekom toe ek my voertuig se sirene aangesit het.”

Gomba het gesê dat daar ʼn sterk reuk van alkohol was toe hy die voertuig genader het. “Toe ek aan die bestuurder sê dat hy na alkohol ruik, het hy my gevloek en sy vinger voor my gesig geswaai.”

Volgens Gomba het hy nie geweet dat “die bestuurder van die voertuig Yengeni was nie”. Die blaastoestel wat Gomba gebruik het om vas te stel of Yengeni binne die wettige alkoholperk was om te bestuur, het aan die lig gebring dat Yengeni meer as drie keer oor die toegelate perk was, is in die hof getuig.

Gomba het tydens die voorval hulp van sy kollegas ontbied en versoek dat kringtelevisiekameras in die gebied aangeskakel word om die voorval op video vas te lê. Drie van dié video’s is Vrydag in die hof vertoon.

Gomba het gesê hy het eers nadat die blaastoets gedoen is, agtergekom wie die bestuurder is. Gomba het glo hierna vir Yengeni ingelig dat hy oor die wettige perk is waarna drie mans, almal in swart geklee, die toneel genader het.

“Hulle het gesê: ‘Julle stel die man in die verleentheid’, waarna ek vir hulle gesê het ek doen net my werk.”

Yengeni is op 11 Augustus 2013 in hegtenis geneem. Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Pieter dp ·

Hoor daar gaan van hom n voorbeeld ge maak word. Dat selfs die staats amptenare die wet moet gehoorsaam, on ge ag wie en wat hy is.

Manie ·

Wat maak dit saak wie hy is. Hy was onder die invloed en die Verkeersman het sy werk gedoen . Gee die man ‘n BELL’S
Hy doen immers sy werk.

Gerhard ·

swaargewig…ken baie liggewigte wat hom planke toe sal stuur

GES ·

Vasstaan sersant Gomba. Die hele SA hou asem op. Bring die “hooggeplaasde” aarde toe.

Griki ·

Yengeni het nie ‘n polisielid nodig om hom in die verleentheid te stel nie – hy doen dit sommer self baie goed! Mooi so, sers Gomba – doen jou werk en moet jou nie deur houdinkies laat afskrik nie. Hoop jy kry goeie bevordering want jy verdien dit.

M A ·

Laat ons duimvashou! Ek het al te veel gesien hoe die skuldiges met fancy prokureurs loskom op tegniese punte. Die arme mense wat die ontledings doen, word elke keer verneder. Hopelik sal die videos help.

Fanie ·

Sy lisensie moet heeltemal opgeskort word. En toekomstige oortredings met die tronk strafbaar!
Ons wetlike stelsel, prokureurs ens stel die wetsgehoorsame burgers heeltemal telleur!

Karolis ·

Volgens my stel Yengeni vir Maserati in die verleentheid.
Nounet besluit ek gaan nie meer vir my een koop nie.

Dan ·

Maroela julle lok n mens uit om die waarheid te skryf, en doen ons dit dan wil julle dit nie plaas nie. So watse speletjie speel julle regtig?

Mariné Lourens ·

Dagsê Dan

Vergewis jouself gerus van die riglyne van lesersdeelname op Maroela Media soos vervat in ons bepalings en voorwaardes om seker te maak dat jou kommentaar nie gemodereer word nie.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.