Metropolisielid gevonnis oor eksmeisie se moord

(Argieffoto: Marcus Trapp/pixabay)

Ndumiso Simiso Khumalo (31), ʼn metropolisiekonstabel in Durban, is Donderdag in die Durbanse hooggeregshof 20 jaar tronkstraf opgelê vir die moord op sy eksmeisie, Zinhle Muthwa.

Die paartjie was in ʼn verhouding, maar hul paaie het in 2019 geskei toe hy haar daarvan beskuldig het dat sy nie lojaal was nie, het Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), in ʼn verklaring gesê. “Hy het later ook ʼn onderonsie met haar gehad oor een van haar mansvriende. Hy het in dié stadium besluit om haar dood te maak en ʼn plan beraam.”

Khumalo het in Desember 2019 ʼn motor gehuur en het, gewapen met sy dienspistool, na Muthwa se huis in Pinetown gery. “Hy het haar oortuig om saam met hom te ry onder voorwendsel dat hy drank wil gaan koop. Hy het haar iewers deur loop van die aand doodgeskiet,” het Ramkisson-Kara bygevoeg. “Hy het na ʼn afgeleë gebied naby Umbumbulu gery en haar liggaam daar gelos.”

Senior staatsaanklaer Denardo Macdonald het in die hof gesê ballistiese toetse wys dat die  koeël, wat uit Muthwa se liggaam verwyder is, dieselfde is as  koeëls van Khumalo se dienspistool. Kringtelevisiemateriaal en verdere bewyse het ook gewys dat die motor wat tydens die misdaad gebruik is, die een is wat Khumalo gehuur het.

Adv. Macdonald het ook getuienis gelei van Muthwa se suster, wat aan die hof vertel het watter impak haar sussie se dood op die familie gehad het.

Die staat het lewenslange tronkstraf versoek, maar die hof het hiervan afgewyk en Khumalo 20 jaar tronkstraf opgelê. Sy ouderdom en die feit dat hy nie enige vorige skuldigbevindings teen hom het nie, is as redes aangevoer vir die afwyking van vonnisoplegging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JM ·

Dus, as ek nie my sin kry nie, maak ek jou dood. Dan was hy nog so arrogant om te dink dat hy daarmee sou wegkom. Gebrek aan opvoeding, selfbeheersing en moreel. Hierdie land verstik aan al die misdaad.

Petrie ·

Die minister van polisie, Cele, het onlangs in die parlement gesê dat meer as 10 000 polisielede aangekla en skuldig bevind was aan ernstige misdade waarvan net 50 afgedank is. Nou is my vraag: Hierdie polisielid gaan nou 20 jaar tronk toe. Gaan hy met volle voordele in die tronk sit of gaan hy darem eers afgedank word?

piet ·

Is jy seker van daai getal van 10000 vir ernstige misdade, klink vir my vreeslik baie.

Willem ·

Waar is die sin in die hof se rede om af te wyk van die lewenslange vonnis? Hierdie moordenaar is nooit voorheen vir iets skuldig bevind nie maar nou gaan pleeg hy moord met voorbedagte rade – dit is nou die ergste wat jy kan oortree maar die hof kry hom jammer omdat dit glo sy eerste oortreding is!? Dit terwyl die hele gemeenskap te kere gaan oor “gender basedviolence’!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.