Metropolisielid voor sy huis vermoor

Mhlengi was 19 jaar lank ’n beampte by die metropolisie se radiobeheer-eenheid in N1 Stad, Goodwood, en laat ʼn vrou en tienerdogter agter. (Argieffoto: Pixabay)

Die metropolisie in Kaapstad is in rou gedompel ná die skietdood van konst. Mzuvukile Mhlengi (49) Woensdag buite sy huis in Philippi-Oos.

Hy was 19 jaar lank ’n beampte by die metropolisie se radiobeheer-eenheid in N1 Stad, Goodwood, en laat ʼn vrou en tienerdogter agter.

Volgens JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, is Mhlengi Woensdag in sy bakkie buite sy huis in die informele nedersetting Marikana doodgeskiet. Hy was nie ten tye van die voorval aan diens nie en ook nie gewapen nie.

Dit blyk dat die moordenaar(s) in Mhlengi se tweede voertuig, ’n rooi Toyota Corolla, gevlug het. Hulle word steeds gesoek.

Die metropolisie het die moord ten sterkste veroordeel en gesê dat hulle alles in hulle vermoë sal doen om die polisie met die ondersoek te help.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het gesê dat ’n saak van moord tans ondersoek word en dat die motief vermoedelik diefstal was.

“Ons innige meegevoel aan sy vrou en tienerdogter, sy familie, kollegas en vriende,” het Smith in ’n verklaring gesê.

Mhlengi se kollegas sal hom onthou as iemand wat hard gewerk het en sê dat hulle sy grappies sal mis.

“Hy het altyd gesê dat hy eendag sy eie trekker wil koop en boer. Ongelukkig sal dié droom nou nooit ’n werklikheid kan word nie,” het Smith gesê.

Smith het ’n beroep op mense gedoen om met enige inligting in verband met die moord vorendag te kom en die stad se openbare noodkommunikasiesentrum by 021 480 7700 te bel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sarel ·

Hoekom het hy en sy gesin nax19jr fiens nog in ‘ n
Informele nedersetting gebly.
Tienerdogter haar Pa kwyt

Nico ·

Dit is jammer dat hierdie man vermoor is. Die polisie gaan alles in hul vermoë doen om die wat verantwoordelik was vir sy dood sal aangekeer word. Wat gebeur nou in Piet Retief met daar die boere, die inligting word verdraai om te wys dat die boere skuldig is, en dit deur die ondersoek beampte, hoekom, omdat dit wit boere is en dat die swartes wat betrokke was is onskuldig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.