Metropolisieman geskiet tydens taxi-geweld

Die stad se verkeersdienste het ’n kontrolepunt by die taxistaanplek in die Stadskom opgestel nadat ’n skietvoorval Woensdag daar aangemeld is (Foto: Verskaf)

ʼn Metropolisiebeampte van Kaapstad is Woensdagoggend by ʼn informele nedersetting in die stad geskiet. Dié skietery is een van vele skietvoorvalle wat verband hou met die taxi-geweld wat die afgelope week in die Moederstad heers.

JP Smith, Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sê die metropolisiebeampte het saam met polisiebeamptes ʼn groep verdagtes – wat glo op taxi’s langs Jakes Gerwel-weg geskiet het – agternagesit.

ʼn Skietery het uitgebreek en die beampte is in die been gewond.

Maroela Media het vroeër berig die polisie in Kaapstad ondersoek drie sake van moord en ses van poging tot moord wat met die taxi-geweld verband hou.

“Die stad is daarvan bewus dat die Wes-Kaapse departement van vervoer taxi-organisasies betrek het om die geweld te stop. Ons versoek operateurs om selfbeheersing uit te oefen en hul verskille op te los deur middel van dialoog en nie willekeurige skietery nie. Dit plaas nie net die hulpbronne onder druk nie, maar dit stel ook onskuldige lewens in gevaar. Pendelaars sit ook sonder vervoer omdat taxi-dienste deur die geweld geraak word,” sê Smith.

Die stad se verkeersdienste het ’n kontrolepunt by die taxistaanplek in die Stadskom opgestel nadat ’n skietvoorval Woensdag daar aangemeld is.  Talle gemeenskapstrukture is ook gemobiliseer om hul gebiede te beskerm.

ʼn Plaaslike winkelkompleks in Khayelitsha is Dinsdagaand deur ʼn klein groepie mense geteiken. Die plaaslike buurtwag en polisie se spoedige optrede het hulle egter vinnig in hul spore gestuit.

Geen ander soortgelyke voorvalle is in die stad aangemeld nie.

Smith het dit ook duidelik gemaak dat hierdie geweld nie verband hou met die onluste wat tans in KwaZulu-Natal en Gauteng aan die gang is nie.

Smith het vroeër talle berigte dat die sogenaamde Zuma-onluste na Kaapstad oorgespoel het, in die kiem gesmoor en die publiek gevra om nie valse nuus te versprei nie. Dit volg nadat ’n voorval van diefstal by ’n winkelsentrum in Mitchells Plain Dinsdag onnodige paniek onder Kapenaars gesaai het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anton

Noem dit tog maar die City Bowl. Ek woon al dekades hier en ek het nog nooit iemand hoor praat van die “Stadskom” nie :-)

Tiptol

Taxis begin die land regeer en hul betaal nie eers belasting nie.