Metrorail in WK glo doelbewus gesaboteer

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Metrorail se bedrywighede in die Wes-Kaap is glo Donderdagaand tydens spitstyd doelbewus gesaboteer toe ʼn kragtoevoerkabel na dié treindiens morsaf gesny is.

Dit kom kort nadat die einste kabel vroeër vandeesweek deur Eskom vervang is nadat dit glo deur boosdoeners geknip is.

Maroela Media het vroeër berig dat Metrorail se treindienste tot ʼn stilstand gekom het weens ʼn substasie wat onklaar geraak het nadat beurtkrag ingestel is. Dit het egter later aan die lig gekom dat daar met die substasie, wat krag aan die treindiens verskaf, gepeuter is.

Treine wat Donderdagaand van Kaapstad af na Muizenberg gereis het, moes gekanselleer word en na naburige treinstasies terugkeer weens die kragtoevoeronderbreking om 18:30.

Kaparo Molefi, waarnemende streekbestuurder van Metrorail in die Wes-Kaap, sê Prasa en Eskom werk onvermoeid om hierdie kabel te vervang.

“Die vandalisme van elektriese infrastruktuur – op ʼn lyn wat reeds suksesvol herstel is – dui op blatante sabotasie van Metrorail se treindienste en ons sal dit nie duld nie,” sê hy.

“Metrorail sal met Eskom en ander wetstoepassingsagentskappe skakel om ʼn ondersoek na die sabotasie van stapel te stuur.”

Die treindienste het intussen bykomende veiligheidsmaatreëls ingestel in ʼn poging om enige toekomstige sabotasie te voorkom.

“Die sabotasie van die spoorinfrastruktuur bemoeilik ons pogings om dié broodnodige diens aan diegene te lewer wat dit so desperaat nodig het,” sê Molefi.

“Ons sal hoegenaamd nie terugstaan vir misdadigers nie en is daartoe verbind om so gou moontlik die geraakte treindienste te herstel.”

Die kragtoevoerkabel is glo doelbewus gesny. (Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

casper ·

ANC belofte deur al die jare = maak die land on regeerbaar !!

Magda ·

Orals waar di DA in beheer is probeer ander party e hulle saboteer(TERRORISTE) plaas hulle do hoeveel Aandag, tyd en geld spandeer om hulle munisipaliteite te leer om hulle dienste te doen.

Di ·

Hierdie tipe gedrag is Sabotasie – Hierdie kriminele moet gevang word en lewenslank in die tronk gegooi word. Een of ander groep sit agter al hierdie landwye sabotasies en brandstigting, dis verseker. Tyd dat die Valke aangewend word om hierdie spul op te spoor

Misky ·

Wie verloor geld as treine werk? Wie is die enigste instansie wat daarby baat as treine staan…… TAXIS!!!!!

Boon ·

Dis n sterk moontlikheid en moet baie dringend ondersoek word

Chris dupreez ·

Dit is seker maar die anc en eff gespuis se jaloesie omdat dinge in die weskaap so goed loop.

Bernard ·

Gaan soek die skuldiges by die taxi verenigings. Hoe meer skade hulle aan die trein sisteem berokken, hoe meer mense moet taxi’s ry.

Petrus J ·

Wat ek nie kan verstaan nie is dat die kabels nie ordentlik beveilig word nie. Hoekom is daardie kabel so oop bo die grond? Giet dan eerder beton oor dit….

Jacobus ·

Jammer om te sê dat indien jy nie sabotasie met skerp punt ammunisie beveilig nie is dinge klaar verlore. Die alternatief is ‘n ligte tikkie oor die vingers!

Boon ·

Sabotasie is n baie ernstige aanklag en moet eenvoudig as n prioriteit ondersoek word om by die kop van die sindikaat uit te kom.

Nommer 7 ·

“Morsaf”, ‘n mooi woord. Kan Taaltoffie dalk die oorsprong verduidelik?

Ian ·

Taxis voel hulle gaan geld verloor nou word die treindienste gesaboteur. Niks anders as terrorisme nie. Die klienkind van die ANC.

Genis ·

Ek stem Casper… Dit is en was hulle plan, om alle staats instansies, dienste en verdediging te vernietig… Hulle het dit goed reggekry

JohanR ·

Hoef nie verder as die taxi’s te kyk nie, As ie treine nie ry nie dan maak hulle lekker geld!

Deon Ronald ·

WK regering kry n kwotasie van iemand wat ken. Iemand soos Elon Musk. Hoeveel sal dit kos om een trein op batterye te laat ry ( son krag). Kry al die kostes voor daar n besluit geneem kan word en hou daar by. Sorteer een probleem op n slag uit en gaan voort. 30 jaar gelede het die kiesers nog die treine herstel en onderhou. Dit kan weer gedoen word. Vergeet van die N R. Neem leiding .Doen self.

Pietertjie ·

Doelbewus? Ek het nie geweet mens kan iets per ongeluk saboteer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.