Metrorail sê oor oorsaak van Germiston-treinongeluk

Foto: Verskaf.

Metrorail het Dinsdag gesê ʼn ondersoek is van stapel gestuur na die oorsaak van die ongeluk waartydens 226 mense Dinsdag by die Geldenhuys-treinstasie in Germiston beseer is.

Lillian Mofokeng, woordvoerder van Metrorail, het gesê die ongeluk het gebeur toe ʼn passasierstrein teen die agterkant van ʼn ander stilstaande trein gebots het. Die ongeluk het glo in spitstyd plaasgevind.

ʼn Treinspoor is gesluit, maar die stasie is nog in werking.

Mofokeng het gesê die ongeluk het vanoggend omstreeks 07:45 plaasgevind.

“Twee Metrorail-passasierstreine het vanoggend by die Geldenhuys-treinstasie in die ooste van Johannesburg gebots. Albei treine het in dieselfde rigting van Springs na Johannesburg gereis,” het Mofokeng gesê.

“Die een trein het by die Geldenhuys-stasie stilgestaan en die ander trein het van agter gekom. Die besonderhede oor wat presies die ongeluk veroorsaak het, is nog nie duidelik nie. Ons sal ʼn raad van ondersoek saamstel om ons te help verstaan wat die oorsaak was,” het Mofokeng gesê.

Vogens Mofokeng is aanvanklik berig kabeldiefstal kon dalk die rede vir die ongeluk gewees het. Sy het bygevoeg Metrorail sal alle moontlike scenario’s ondersoek omdat daar tans geen bewyse is dat kabeldiefstal direk met die oorsaak van die ongeluk verbind kan word nie.

“Dit het sedertdien aan die lig gekom dat dit nie die kwessie was nie. Ons probeer om al die bydraende faktore vas te stel,” het Mofokeng gesê.

“Ons sal onmiddellik ná ons al die beseerdes laat verwyder het ʼn verslag gereed hê.”

Volgens haar is 226 pendelaars tydens die ongeluk beseer – 67 matig en 159 gering.

Mofokeng het gesê daar is tans ʼn uur lange vertraging tussen Johannesburg en Germiston weens die enkelspoor wat gebruik word.

Die botsing kom minder as ʼn week nadat die Shosholoza Meyl-trein Donderdag naby Kroonstad in die Vrystaat ontspoor het nadat dit teen ʼn vragmotor gebots het. Minstens 19 mense het in dié ongeluk gesterf en meer as 250 passasiers moes na hospitale gehaas word.

Die 19 oorledenes se naasbestaandes sal hul liggame vandag uitken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

alida ·

Dit is omdat mense in poste geplaas word sonder enige ondervinding of behoorlike opleiding. Dit gebeur al te dikwels.

PJC ·

Hulle probeer die onbevoegdheid nou verdoesel deur te beweer daar was kabeldiefstal.

Kosie Kramer ·

Die mens is nie `n perfekte wese; die lewe is nie `n perfekte proses. Baie ontdekkings het ontstaan weens ongelukke en foute. My ma se oom was `n “sporie”. Na sy aftrede is hy teruggelok om die Spoorweg uit te help. Sy dood was pynlik en wreed: hy is deur twee treintrokke vasgedruk. Wetende dat hy sal sterf sodra een van die trokke weggetrek word, is sy familie laat kom om afskeid te neem.

Andries Visagie ·

Ons kan hierdie soort goed probeer versag of regverdig op watter manier ookal, maar die harde werklikheid bly steeds dat die vlak van bevoegdheid konstant daal – hoekom? Aanstellings word lankal nie meer op meriete gedoen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.