Metro’s: ‘Waterskeidingsoomblik,’ sê DA; ‘Les vir ANC,’ sê Ramaphosa

(Foto: Reint Dykema)

“Die deurslaggewende drempel wat oorgesteek is, is ’n sielkundige een. Die hele Suid-Afrika weet nou dat die ANC geklop kan word.”

Só het DA-leier John Steenhuisen reageer nadat die party die mag in verskeie metro’s en munisipaliteite oorgeneem het na afloop van die verkiesing vroeër die maand.

“Ons leef nie meer in ’n enkelparty-gedomineerde demokrasie nie, en dit is ’n waterskeidingsoomblik in ons geskiedenis.”

Die DA het nie net beheer in Tshwane, Johannesburg en Ekurhuleni oorgeneem nie, maar het ook nou burgemeesters in onder meer die Thabazimbi-, George-, Mogale City-, Beyers Naude- en Knysna-munisipaliteit.

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Siyabulela Duda)

Die ANC het vir die eerste keer beheer in al drie Gautengse metro’s verloor.

Pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdag gesê dit is teleurstellend vir die ANC, maar dat die party die “duidelike boodskap van sy mense” moet aanvaar. Ramaphosa is oor die ANC se prestasie uitgevra terwyl hy en pres. Uhuru Kenyatta van Kenia by die Uniegebou die media toegespreek het. Kenyatta was op ’n ampsbesoek aan Suid-Afrika.

“Ons het ag geslaan, ons het geluister en dit is vir ons ’n groot terugslag, maar dit is ook ’n groot les en ons is ’n party wat baie vinnig leer. Ons gaan terug na die tekenbord gaan en ons gaan oor al hierdie terugslae besin,” het Ramaphosa gesê.

As staatshoof het Ramaphosa ’n beroep vir stabiele plaaslike regerings gedoen.

Johannesburg en Ekurhuleni ’n ‘verrassing’

John Steenhuisen (Foto: DA/Facebook)

Steenhuisen het intussen gesê die aanwysing van dr. Mpho Phalatse en Tania Campbell, as onderskeidelik die nuwe burgemeesters vir Johannesburg en Ekurhuleni, het as ’n verrassing vir almal gekom, selfs die DA.

“Ons het nie die EFF se hulp gevra om hier in beheer te kom nie, en ons het nie verwag om hierdie raadsvergaderings met twee nuwe DA-burgemeesters, en albei hierdie metro’s se eerste vroueburgemeesters, te verlaat nie.”

Volgens Steenhuisen sal die DA absoluut geen kompromie rakende sy beginsels aangaan om in beheer te bly nie. “Ons is beslis nie hier om ten alle koste aan mag vas te klou nie en sal eerder na die opposisiebanke terugkeer as om toe te gee aan eise wat onrealisties en korrup is of van ons vereis om swak te regeer.”

Hy het dit ook duidelik gemaak dat die DA nie steun van die EFF, of selfs ActionSA, vir sy kandidate in hierdie metro’s gewerf het nie. “Al wat ons hierdie partye bied, is die geleentheid om aan die regte kant van die geskiedenis te wees.”

Die DA het egter geen illusies oor die stabiliteit van die koalisieregerings nie. “Ek dink dit is vir almal duidelik dat die EFF meer teen die ANC gestem het as wat hulle vir die DA gestem het. Hulle het geen toegewings van ons gekry nie, en hulle sal geen kry nie. Wat dit beteken, is dat hierdie regerings heel moontlik van korte duur kan wees. Maar of hulle nou vyf jaar of vyf dae hou, ek kan jou verseker dat die DA sy tyd in sy amp geheel en al in diens van die inwoners van hierdie metro’s sal gebruik.”

Dit word ook verwag dat die DA suksesvol in eThekwini (Durban) kan wees.

“Die verwydering van die ANC kan nie op ’n gunstiger tyd kom nie, minder as drie jaar voor die volgende nasionale en provinsiale verkiesings. Ons het nou ’n seldsame kans om ’n nuwe ANC-vrye era vir hierdie metro’s in te lei. Maar dit sal samewerking en ’n verbintenis tot onbaatsugtige diens van alle betrokke partye vereis.”

Herman Mashaba, president van ActionSA (Foto: Action SA)

Herman Mashaba, president van ActionSA, het intussen gesê die party het sy stemme in die betrokke rade gebruik om DA-burgemeesters te verkies omdat die ineenstorting van koalisie-reëlings en weiering van die DA om te onderhandel beteken die alternatief sou ANC-regerings in hierdie stede gewees het.

“ActionSA is absoluut daartoe verbind om alle vorige ervarings met die DA opsy te sit om saam te werk in die belang van dienslewering, die bekamping van korrupsie en werkskepping. Ons het dit gedemonstreer met ons stemme en nie net ons woorde nie.”

Julius Malema, leier van die EFF, het intussen gesê sy party sal Donderdag tydens ‘n mediakonferensie meer duidelikheid gee oor die afgelope paar dae se gebeure.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Shakespeare ·

Rama……groot terugslag ????? Ek sou dit eerder bestempel as n SKANDE op steroids.

Barney ·

Kyk hoe word die erf belasting 300% verdubbel onder DA bewind in daai metro’s. Leer uit wat in JHB gebeur het toe Herman Burgemeester was onder DA bewind.

piper ·

die volgende algemene verkiesing gaan n lekker partytjie wees

Deon ·

Ek het konflikterende gevoelens oor hierdie tipe politiek, dit word gebou op voete van klei

Harley Davidson ·

Dit is positief dat die mense begin stem vir ‘n beter lewe vir almal en nie vasklem aan die ANC ongeag hoe sleg die hulle behandel nie,maar tyd sal leer.

Frik ·

Die DA moenie arrogant wees nie en besef al die ander opposisiepartye het gesorg dat DA die poste kry want DA sou dit nooit op hul eie kon doen nie.
Dit is ook nie gedoen omdat opposisiepartye glo dat die DA die beste regeer soos die DA loop en vertel nie, maar om die ANC uit te hou en die mense se belange voorop te stel.
Die DA wou nie met ander partye saamwerk nie en as die ander opposisiepartye nie ingegryp het nie, sou die ANC in beheer gewees het en dit sou die DA se skuld gewees het, juis oor hul hardkoppigheid en arrogansie.

piet ·

Jy vertel halwe-waarhede. Die DA wil met ander partye saamwerk maar mens kan verstaan as hulle as die grootste party (van die samewerkende partye) daarop aandring dat hulle die burgemeesterspos wil beklee. As dit nie vir die DA was nie het kleiner partye nooit geleentheid gehad om deel van regering te wees nie. Niemand het die ander partye gedwing om saam met die DA te werk nie, hulle het self so besluit anders was hulle UITGESLUIT. DA se goeie dienslewering het definitief OOK ‘n rol gespeel hoekom van die partye met hulle wil saamwerk en nie met die ANC nie. Jy klink suur, hoekom? Hier het die VF darem ‘n voetjie in die deur, hoop net nie hulle gaan ‘n remskoen wees nie.

Frik ·

Wie het besluit om nie voort te gaan met die koalisies nie?
Die DA!
Hulle het net aan hulself gedink en nie die mense ne!

piet ·

ActionSA en DA wou nie voortgaan nie. ActionSA omdat hulle aangedring het dat EFF saam in die koalisie moet wees (siende dat hulle reeds ‘n samewerkingsooreenkoms met EFF het en daarop steun) en die DA geweier het om EFF in te bring. Die DA weet ons het gese hulle neem nie aan koalisies deel waar EFF betrokke is nie. ActionSA is kop in een mus met EFF en is glad nie wat hulle voorgee om te wees nie.

Suzette ·

Kan nie glo les geleer en vinnig leer is woorde wat uit cr se mond kom nie – dis nou 27 jaar en dit lyk eerlikwaar nie vir my of julle ENIGIETS geleer het nie, wat nog te sê vinnig in hierdie tydperk nie. Kyk waar is SA sedert julle in bewind gekom het. Wys my asseblief enigiets wat julle OPgebou het!!
Julle luister nie na raad van deskundiges nie en foeter net voort.
Watter les sou julle nou so vinnig geleer het?

Ben ·

CR is reg, die ANC leer vinnig. Kyk hoe vinnig het hulle 27 jaar gelede geleer om n land te verwoes, en hulle doen dit beter by die dag.

Willem ·

Nou moet hierdie samewerking net uithebrei word na die provinsiale en nasionale vlak toe dan kan die anc opisisiebanke toe gestuur word en suid afrika weer opgebou word tot die model land wat dit eens was.

Misky ·

Ek hoop die massas besef nou dat die ANC werklik waar uitgestem kan word en hulle kan ‘n beter kwaliteit lewe leef. Die DA het nou die gulde geleentheid om ‘n daadwerklike diens en verskil te maak en kan dan in volgende verkiesing met die GROOT wen wegstap.

Frik ·

Dit gaan nie net oor die DA nie, dit gaan oor die mense.
Lyk my DA sal nooit leer nie en altyd arrogant bly!

Misky ·

Die uiteinde is om ANC uit die wyke te kry en dan ook nasionaal.

piet ·

Die mense is oor die algemeen gelukkig met die DA dis hoekom hulle nog meer as 20% van die stemme kry en weer gegroei het vanaf die 2019 verkiesing.

piet ·

Stem DA vir ‘n beter SA. Die versplintering van die opposisiestemme werk nie in SA nie, maar ‘n verenigde front party kan werk. Te veel klein haantjies wat op sy eie mishoop wil sit en kraai.

Wat Wou ·

Ons moet nie te gou opgewonde raak oor ander partye se welslae nie. n’ Party kan nie in n’ paar maande opbou wat n’ ander party jare gevat het om af te breek nie. Dit help ook nie dat slegs sowat die helfte van die land se mense gestem het nie. Ek dink eerlikwaar nie of die bevolking weet of besef wat demokrasie beteken nie. Na 1994 het die grootste meerderheid mense net op beloftes van huise , water, yskaste wat uit die hemel uit neerdaal ens. gestem. Die oorgroote meerderheid word elke keer heuning om die mond gesmeer en besef nie dat as die heuning weg is hulle slegter af sal wees as voor die heuning nie. Kyk maar na die onlangse onluste, wie betaal nou die prys?

absoluut ·

dit is mos nou besig om te verander, oral het da beter gedoen as korrupte anc waar hulle die kans gegun is, dit gaan tyd vat en samewerking vat, nie meer verdeeldheid nie

Fanie ·

Die burgermeester is ‘n marionet – kyk wie die stadsbestuurder is….. want die persoon trek al die toutjies

Jackie ·

Dit is nou CR se geleentheid om van al die vrot appels in die ANC se doodskis ontslae te raak. Dis te sê as dit nie reeds te laat is nie.

Kobus ·

Ek stem met meeste kommentare saam. My druppel in die emmer is;
1. Ramaposa het blykbaar die DA gewaarsku dat hulle die dienslewering van die DA gaan dophou…grap van die jaar. Skielik is Ramaposa nou bekommerd oor dienslewering.
2. Die DA blyk heethoofdig te wees. Gaan dit vir hulle om hulle beeld of dien hulle die verwagtinge van die kiesers? My mening is dat die DA nog te veel binne gevegte het met Me Zille die voorbok. Maw , gaan dit vir hulle oor Wie is reg of Wat is reg?
3. Die EFF is nie so “dom” soos almal dink nie. Malema het ‘n plan, wonder hoe lank hierdie huwelik gaan hou.
@ Frik,stem met jou saam en hou van die woord “arrogant” wat jy gebruik. Ek is ook bekommerd hieroor. Maar nou ja, kom ons gee hulle ‘n regverdige kans. Hulle sal ook nie 27 jaar se afbreek en plundery binne ‘n maand kan regstel nie.

Andrew ·

Gaan jare vat, DA het voorheen 2 metro’s gehad maar kon niks reg kry in die rade nie. Al die staatsdiens werkers moet omgeruil word vir “nie kaders” met pakette wat miljoene gaan kos. Elke nie sosialistisiese besluit deur die DA gaan afgeskied word so dit gaan onmoontlik wees om te “govern” . Dan sien die DA ook een ding mis, die res gee vir hulle die Metro’s om dan net om te draai en dit onrigeerbaar te maar. Die DA sal dan in die swak lig gestel word wat die ander weer die kaans sal gee om fingers te wys oor 2 jaar.

Wiehan ·

Ek hoop regig dat die DA saam met die partye wat vir hulle ingestem het kan werk en GOEIE diens na die inwoners kan bring. Ons hier in Midvaal, Meyerton is al jare gewoond aan goeie diens, danksy ‘n Burgemeester, Bongani Baloyi. Ek sien nou hy is die Premier’s kanidaat in 2024 vir Gauteng. Hoop en bid hy word verkies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.