Mev. SA-finalis se broer tydens plaasaanval geskiet

Gert en Andrea van Dyk. Foto: Facebook.

Gert en Andrea van Dyk. Foto: Facebook.

Die broer van ʼn Mev. Suid-Afrika-finalis is Vrydag in die vroeë oggendure aangeval op ʼn plaas waar daar na hulpbehoewende mense omgesien word.

Drieka van Staden het Vrydag aan Maroela Media gesê haar broer, Gert van Dyk (30), het omstreeks 03:00 televisie op die plaas, Kairos-huis naby Cullinan oos van Pretoria, gekyk, toe hy ʼn geraas by sy huis se skuifdeur gehoor het. “Hy het geskree en nader aan die skuifdeur geloop om ondersoek in te stel,” het Van Staden, vanuit die hospitaal waar haar broer behandel word, gesê. Drie gewapende mans was by die deur en het hom  deur die glasdeur geskiet. Hy is in sy linkersy getref. Hy het in die gang af gehardloop om sy vrou, Andrea, en vierjarige dogtertjie, Clarissa, te beskerm.

Drieka van Staden, 'n Mev. Suid-Afrika-finalis. Foto: Facebook.

Drieka van Staden, ‘n Mev. Suid-Afrika-finalis. Foto: Facebook.

“Die aanvallers het deur die stukkende deur toegang tot die huis bekom. Hulle het die televisie en Gertjie se selfoon gesteel en gevlug.” Van Staden sê haar ma en ander broer het intussen uit hul aangrensende huise gekom om ondersoek in te stel toe die vlugtende aanvallers ook op haar ma losgebrand het. Haar ma is gelukkig nie gewond nie.

Die Cullinan-polisie is ontbied en was vinnig op die toneel. Van Dyk is na die Wilgers-hospitaal gehaas en later na die Kloof-hospitaal oorgeplaas. “Die koeël het wonderbaarlik nie enige organe getref nie, maar dit is nog onder sy linkernier. Hy moet vandag geopereer word sodat die koeël verwyder kan word,” het Drieka gesê.

Sy het gesê haar broer het tydens die aanval op sy knieë gegaan en gebid. “Dit is absoluut die liewe Vader se hand wat oor hom en sy gesin, en my ma was.”

Andrea en Clarissa is erg getraumatiseerd deur die voorval, maar is ongedeerd.

“Dis nie die eerste keer wat ons familie onder aanvallers deurloop nie,” het Drieka bygevoeg. “Ons bly op ʼn kleinhoewe in Centurion en is al twee keer daar aangeval, aangehou en beroof.” Haar swaer, Koos van Staden, ʼn polisiebeampte by die Wierdabrug-polisiestasie, is ook in 2010 op die Knoppieslaagte-kleinhoewes in Centurion geskiet. “Ons kan al die rowers innooi vir koffie,” het sy geskerts.

Die Cullinan-polisie ondersoek ‘n saak van huisbraak en poging tot moord. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

marietjie ·

kry hulle nie genoeg van moor en roof en seermaak nie. Mens kan net se Dankie Here, niemand is dood of het baie baie ernstig seergekry nie

Sollie ·

Ek verpes opskrifte soos hierdie. Die daad en alles wat gebeur het is sleg – hoekom tog nou noem dat die persoon se suster ‘n Mev SA finalis was – wat het dit nou engisins met enigiets te doene? Dis sommer ‘n simpel sensasionele tipe opskrif. Is die aanval dan nou erger omdat sy suster ‘n Mev SA Finalis was? Ek glo nie so nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.