Mev. SA in hospitaal ná sy basiskamp van Everest haal

Nicole Capper, Mev. Suid-Afrika (Foto: Facebook)

Nicole Capper, Mev. Suid-Afrika, is in Nepal gehospitaliseer nadat sy hoogtesiekte by die basiskamp van berg Everest in dié land opgedoen het.

Lisa Madibe, woordvoerder vir die Mev. SA-kompetisie, het dié nuus aan Maroela Media bevestig.

Madibe sê Capper is per helikopter na ʼn hospitaal in Nepal geneem. Volgens haar is ʼn helikoptervlug die enigste manier om die basiskamp op ʼn vinnige wyse te verlaat.

“Dit is waarskynlik die lugdruk tesame met ʼn ligte verkoue wat daartoe gelei het dat sy hoogtesiekte opgedoen het,” sê Madibe. “Sy is egter nie na die hospitaal gehaas nie; dit was glad nie ʼn noodsituasie nie.”

Volgens haar is Capper opgeruimd en byna heeltemal gesond. “Ons direkteur [Joani Johnson] het ʼn paar minute gelede met haar gepraat en sy is heeltemal piekfyn. Sy is dankbaar vir al die ondersteuning en boodskappe van bemoediging wat aanhangers aan haar stuur.”

Capper het Suid-Afrika op 2 April verlaat vir dié Everest-staptog wat deel vorm van ʼn bewusmakingsveldtog vir Rare Disease South Africa. Haar reisgeselskap het onder meer die skrywer en motiveringspreker Sibusiso Vilane – die eerste swart persoon van Afrika wat tot op die hoogste punt van Everest geklim het – ingesluit.

Madibe sê Capper het aan dié reis deelgeneem danksy haar “passie vir gesondheid en voorkomende medisyne” aangesien sy ook persoonlik deur ʼn seldsame siekte geraak is. Capper se dogter, Tatum, is op ses weke oud met sistiese fibrose gediagnoseer. “Dit was haar manier om vir diegene te baklei wat nie vir hulself kan baklei nie,” sê sy.

Meer as 350 miljoen mense wêreldwyd ly aan meer as 7 000 verskillende seldsame siektes wat aan mediese kundiges wêreldwyd bekend is. Vir meer inligting of om Rare Disease South Africa te ondersteun, besoek Capper se ondersteuningsblad hier.

Capper keer op 21 April terug na Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Johann ·

Ok, verduidelik asb vir my die logika agter so n ” berg klim” vir n goeie saak? Daars bv elke dan en wan so n “unieke” tog? Hoe kan dit dan enigsins die verwagte positiewe aandag wek as daar gereeld of siek of seerkry of dood verbonde is aan sulke sessies? En die geld wat sulke goed kos vergeleke die “return on investment”? Askuus, maar dit maak min tot geen sin nie.

Alida ·

Om Everest Base camp te stap is nie besonders duur nie. Dit is in lyn met wat n oorsese backpackers vakansie kos. Die return on investment is dus baie goed. Want dis iets wat sy elk geval sou wou doen. Die bonus is dat dit aandag trek vir Rare Diseases. Alles in die lewe het n risiko- selgs net om eeg te gaan vir Paasnaweek. Die risiko met EBC word goed bestuur. Die stap tot basecamp os stadig. Die pilletjies wat jy drink
En dan jou gidse wat jou met n valk oog dop hou.

AmY ·

Baie sterkte. Ek hoop jy word baie gou gesond. Ek ly ook aan ‘n seldsame siekte. Van die familie wil ons nie eers sien nie. Baie dankie vir wat jy vir ons doen.
#Neurofibromatosis #rhuomideatritis

Joe Hall ·

Is nie duidelik by watter basiskamp die helikopter gebruik is om haar op te pik nie. Kan nie baie hoog op wees nie, anders sou die helikopter nie daar kan/mag opereer nie. Dun kwaliteit van lug/atmosfeer en sterk, gevaarlike winde maak dit bykans onmoontlik.
Waar die betrokke ‘basiskamp’ ookal is, dit kan nie naby Everest se piek wees nie.

Senti ·

Ivm die helikopter opmerking – in 2015 het ‘n helikopter wel 2 keer op die piek van Everest geland. Die loods was ‘n Fransman, Dider Delsalle en hy het ‘n Eurocopter AS350 Squirrel gebruik. Dit is welliswaar nie roetine nie, maar daar was al etlike hoë helikopter reddings van Everest af.

Joe Hall ·

Die enkele geleenthede dat ‘n heli op Everest piek geland het, het vir seker nie ‘n reddingsoperasie ingesluit nie. In alle gevalle was die betrokke ge-modifiseerde helikopter(s) gestroop van alle ekstra gewig en uitgevoer deur baie dapper loods(e) wat die onderskeiding van ‘n landing op die piek wou bereik.
“Etlike” of eenmalige reddings mbv van ‘n helikopter vanaf Everest se piek, is tot nogtoe ‘n onbekende/onbereikbare gebeurtenis.

Linda ·

Hierdie vrou was baie braaf, ek saluut haar. Mag sy veilig terug keer !!!

Basson ·

Die tog was tot by ‘Everest Base Camp’, (5364m) sy het nie die piek van Everest bereik, was ook nie so beplan.

Valerie ·

Nicole Capper was ‘n dapper stapper. Sy’t dit gedoen vir haar redes, good on her! Hoop sy word gou gesond; sulke borrels in die bloed en goed is nie aangenaam nie.

Ek sien nie eers kans vir ‘n roltrap nie.

Potlood ·

Rare Decease South Africa met ‘n Suid Afrikaner wat Hoogtesiekte gekry het. Dis raar in Suid Afrika :-)
Sterkte aan jou Nicole! En dankie vir dit wat jy doen en voor staan!

Tess ·

Stylvolle exit. Effektief en sonder pyne. Om tot bo te kom was meer as goed genoeg.

Koos ·

Foutiewe berig. Sy het basis kamp bereik en nie die piek nie . Maak asseblief seker van julle feite . Dit is eedelik maklik om tot by basis kamp te kom.

Tania Heyns ·

Dagsê lesers

Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die opskrif is reeds gewysig. Capper het inderdaad die basiskamp gehaal en nié die piek van Everest nie.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.