Meyerton-brand: ‘Dit was ʼn vreeslike dood’

Tommie Strauss en sy gesin is Maandag in die huisbrand in Meyerton dood.

“Dit is net vreeslik, so wreed. Veral die kindertjies wat dood is… hulle het ʼn vreeslike dood gesterf.”

Só het Tommie Strauss se werkgewer Woensdag aan Maroela Media gesê nadat Strauss, sy vrou, Sibongile, en dié se drie kleinkinders Maandag in ʼn huisbrand in Meyerton omgekom het.

“Hy het na die hele familie omgesien,” het Paul Jordaan, eienaar van P&F Vleismark in Meyerton, gesê.

“Ek gaan twéé mense in sy plek moet aanstel. Hy het nege jaar lank vir my gewerk en was ʼn uitstekende werker.

“Sy bure het my so 20:00 gebel en gesê die huis brand, maar toe ek daar kom, was hulle reeds dood,” het Jordaan gesê.

Tommie en Sibongile en haar drie kleinkinders is eergister in die brand dood. Brandbestryders het Tommie en die twee oudste kinders aanvanklik uit die huis gebring, maar paramedici het hulle vergeefs probeer bybring.

Sibongile en haar dogter se ses maande oue baba is in die huis deur die vlamme oorval en het daar gesterf. Paramedici het al vyf slagoffers op die toneel dood verklaar.

Sibongile se dogter, wat op dieselfde perseel woon, het klaarblyklik kort tevore na ʼn nabygeleë kafee geloop. Met haar terugkeer het sy op die huis, omring deur nooddienswerkers, afgekom. Bure het ʼn ruk tevore die nooddienste ontbied nadat hulle onraad by die huis vermoed het. Hulle het intussen ook sélf probeer om die brand met ʼn tuinslang te blus.

Konst. Tlaleng Moloi, woordvoerder van die Meyerton-polisie, het gesê die ondersoek na die voorval duur voort. Die oorsaak van die brand is in die stadium nog onduidelik.

Hannes Steyn, brandweerhoof van die Midvaal-munisipaliteit, het vroeër gesê hulle kon vasstel waar die brand ontstaan het, maar nie wat dit veroorsaak het nie.

Volgens Moloi word geregtelike doodsondersoeke gedoen, asook ʼn forensiese ondersoek na die oorsaak van die brand.

Jordaan het gesê die gesin word na verwagting Saterdag begrawe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

se maar net ·

kind stap winkel toe, net daarna die brand?????????????????????

L ·

Se maar net Ek het ook daaraan gedink toe ek dit lees iewers is daar meer agter die storie

Johanna ·

Dalk moet julle lees en mooi lees voor julle vriende en familie omkrap……. Die ma van die kinders wat ook dan die dogter van oorledenes is was kafee toe nie na dit gebeur het met haar terugkoms was huis klaar aan die brand!……….. Tommie ou vriend rus sag jy gaan gemis word nederig vriendelik hart van goud….. As n mens nie omstandighede ken nie of te veel tv kyk moet n mens liewer nie bobejane agter die bult gaan haal nie maar die oorledenes net repekteer. Verskoning aan die familie wat die smerige opmerkings en “assumptions” moet lees ……………Simpatie

Dorothy ·

Wonder ook “se maar net” daar word ook nie berig of die ma in skok is nie en waar sy haar bevind aangesien sy nou dagloos is nie.

@foto ·

Jammer, die berig effe mis gelees. Weer gekyk en besef ja dit is ‘n foto van hom.

Mariaan ·

Die mamma dus haar ouers en al 3 haar kinders verloor…o genade nee!!! Hoop saak word deeglik ondersoek

Quinette ·

so jammer om hiervan te lees, Tommie was ‘n wonderlike mens met soveel talent

Joe ·

Hier is n hele paar sulke stories deesdae waar huise af brand en gesinslede winkel toe stap. Dis vreemd

Angelique ·

Tommie was n beleefde mens, altyd vriendelik en ordentlik, Rus sag ou Tommie en gesin, ek hoop dat geregtigheid sal geskied. Dinge maak nie sin nie… Oom Paul gaan meer as net twee in jou plek moet aanstel.

madels ·

Dis so verskriklik! Ek verstaan nie dat daar soveel huise deesdae afbrand met gesinne binne nie?? Die waarheid sal uitkom. Sterkte en my innige meegevoel vir die familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.