Meyerton-egpaar sterf in motorfietsongeluk

Andre en Sonika Schreiber (Foto: Sonika Schreiber/Facebook)

Die familie van André en Sonika Schreiber van Meyerton, Gauteng, is hartgebroke nadat dié egpaar Saterdagaand in ʼn motorfietsongeluk omgekom het.

Die ongeluk het omstreeks 18:00 naby die Midvaal-renbaan in Meyerton gebeur.

Etienne Schreiber, ʼn familielid, sê die familie het verneem dat ʼn bakkie ʼn ander voertuig verbygesteek en in die aankomende baan die motorfiets waarop die Schreiber-egpaar was, reg van voor getref het. Die motorfiets het met die impak aan die brand geslaan en die Schreiber-egpaar is op die toneel dood.

Die bestuurder van die bakkie het ook in die ongeluk omgekom. Sy naam is nie in hierdie stadium bekend nie.

Volgens Schreiber is ʼn saak by die polisie aanhangig gemaak en forensiese ondersoekspanne was op die toneel.

Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, polisiewoordvoerder, het bevestig ‘n saak van strafbare manslag word ondersoek.

André en Sonika was Etienne se oom en tannie.

Andre en Sonika Schreiber (Foto: Sonika Schreiber/Facebook)

Die familie het ʼn Back-a-Buddy-fondsinsameling van stapel gestuur om die egpaar se broer en suster in die buiteland se vlugkoste te dek om hul geliefdes se begrafnis in Suid-Afrika by te woon.

André se broer woon in Nieu-Seeland en Sonika se suster werk op ʼn passasierskip.

“André se broer was drie weke gelede in Suid-Afrika vir ʼn ander familielid se begrafnis. Hy het die meeste van sy spaargeld hiervoor gebruik en dit het sy gesin reeds finansieel geruk. Hy het nie verwag om drie weke later weer te kom vir sy broer se begrafnis nie,” sê Schreiber.

Sowat R6 600 van die R150 000 wat vir die vlugte nodig is, is reeds ingesamel.

Die familie is nog besig met begrafnisreëlings.

André was ʼn toesighouer by ʼn ingenieursmaatskappy en Sonika was ʼn verkoopsverteenwoordiger. André word deur ʼn 12-jarige seun oorleef.

“My oom en tannie was wonderlike mense met goeie harte. Hulle het uit hul pad gegaan om ander te help en gelukkig te hou.

“Die familie het die nuus oor hul dood nie goed hanteer nie en is baie hartseer.”

Andre was president van Vaal Toppies-motorfietsklub en ʼn ywerige motorfietsryer.

“Hulle was groot name in die motorfietsgemeenskap en laat ʼn merk in elke liewe persoon daar se lewe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Lila ·

Dit is so hartseer…. Sterkte aan almal wat vir hul lief was en hul sal mis. My hart gaan uit aan die Seun en familie wat agterbly.

Skappie ·

Sterkte aan hulle familie, vriendekring en almal wat hulle geken. Mag onse Liewe Heer julle almal styf in Sy arms vashou en julle deur hierdie moeilike tyd dra.

Nettie ·

Dis hartseer. Innige simpatie.
Ek wonder net soms hoekom mense Suid-Afrikaners vra om hulle wat in die buiteland is, finansieel te ondersteun. Hulle het die land verlaat REEDS oor tye en dinge so moeilik is hier. Almal sukkel, almal kry swaar, werk is skaars en kosbaar. Ek verstaan mens is nie ryk in ander lande nie, maar dis die besluit wat jy neem wanneer jy emmigreer. Nou moet ander die gevolge vir jou dra? Dis vir my ‘n vreemde gedagte.

Elma ·

Oral is back-a-buddy al wat mens sien. Mense kan nie net aanhou gee nie. Soos jy tereg sê, almal kry swaar.

daarsdit ·

Wonder ook altyd oor daai een, dis nie ons skuld hulle sit oorsee en kan nie kom nie.

Anonymouse ·

Ek verstaan dit ook nie. Toe ek vir lank in die buiteland gewerk en bly het, het ek geld SA toe gestuur. Dink net hoe krimp daai ou Randjies teen die tyd wat hulle in Dollars uitbetaal word. Ek dink mense is al voos gelees aan al die versoeke vir hulp, wat jammer is. Sterkte aan die familie.

Andries ·

Lees jy nie die berig nie of wil jy nie verstaan . Sy broer was drie weke ook in SA vir ander lede van die gesin se begrafnis. Nou waar de hl moet hy soveel geld verdien om so gou weer teug te keer SA toe. As jy nie wil gee nie, bly eerder stil. Maggies Man.

Miskruier ·

Ek gee eerder vir mense wat nie n mediese fonds het en swaar kry. Glo my hier is baie onbekendes hier op die platteland wat in die posisie kan kom.

AH ·

Jy hoef nie ‘n skenking te maak nie. Dit is vrywillig, so hou verby die versoeke as jy nie daarmee saamstem nie.

Niklaas ·

Motorfiets bestuurder en passasier het nooit veel , indien enige , kans in motorongelukke nie.

Amelia ·

Jy’s heeltemal reg. Ek ken te veel mense wat dood is in motorfietsongelukke. Die risiko is aansienlik hoër as vir motorbestuurders.

Meinung ·

So onnodig. Ek het al hoeveel idiote gesien wat verbysteek oor sperstrepe.

SjN ·

Party motor bestuurders misreken hul in baie gevalle met die afstand en spoed van n motorfiets ryer, tragiese geval, sterkte aan die geliefdes.

Amelia ·

Dit klink meer of die bakkie verbygesteek het op ‘n plek waar hy nie kon sien wat aankom nie.

Susan ·

Wat n tragedie. Pragtige 2 mense. Mag familie & vriende vertroosting ontvang. RIV.

Hannes ·

Dit is n tragiese berig, maar ek is jammer: fonds insameling vir R150,000 reis kostes vir broer New Zealand RSA retoer vlieg kaartjie is belaglik. Dit behoort nie meer as R40,000 te wees nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.