Meyerton-gru-ongeluk: Karstoeltjie red babatjie

Die bakkie wat die sleepwa gesleep het se wrak. Foto: ER24

Te danke aan ʼn karstoeltjie het ʼn vier maande oue babadogtertjie slegs met ʼn blou merkie die gru-botsing in Meyerton in Gauteng oorleef waarin drie mense dood, een ernstig beseer en haar ouers lig beseer is.

Maroela Media het Saterdag berig die botsing tussen twee bakkies het naby die aansluiting van Weilbackweg en Bokkie Delportstraat plaasgevind.

Zanel Zeelie (25), wat saam met haar man, Noren (30), en hul vier maande oue babadogtertjie in een van die bakkies was, het Sondag aan Maroela Media gesê hulle was op pad na hul plaas tussen Vereeniging en Villiers toe die botsing omstreeks 11:00 plaasgevind het.

Sy het gesê die botsing het nie plaasgevind toe die ander bakkie vir ʼn koei in die pad moes uitswaai soos aanvanklik deur paramedici berig is nie.

“Die ander bakkie met vier insittendes het ʼn sleepwa met beeste gesleep. Soos ons verstaan was daar agt beeste, waaronder kalfies, op die sleepwaentjie en my man het na die tyd gesien dit is ʼn gehuurde sleepwaentjie, want daar was ʼn bordjie op,” het Zanel gesê.

Sy het gesê Noren het bestuur en opgemerk die sleepwa begin swaai.

“Die bestuurder van die bakkie, wat in ons aankomende baan gery het, het beheer oor die voertuig verloor. Die bakkie het voor ons bakkie geknipmes en ons het dit aan die kant getref.”

Die ander bakkie het ná die trefslag op sy dak tot stilstand gekom. Drie insittendes van die bakkie is op die toneel dood. ʼn Vierde persoon is met ER24 se Oneplan-helikopter na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal geneem vir mediese behandeling.

Die sleepwa het in die proses afgebreek en langs die pad tot stilstand gekom. Drie van die beeste, twee koeie en ʼn kalfie, is in die proses dood. Die ander beeste het in die veld in gehardloop.

Die Zeelie-gesin het met geringe beserings van die ongeluk weggestap.

“Ons is na die Unie-hospitaal geneem vir behandeling en is Saterdag reeds ontslaan. Ek en my man het net ʼn paar snymerkies en steke, maar is oukei. Ons dogtertjie het net ʼn blou merkie op haar been waar die veiligheidsgordel van die karstoeltjie haar gedruk het.”

Zanel het gesê sy is baie streng en maak altyd seker dat hul dogter veilig in ʼn karstoeltjie vasgegespe is.

“Die wonder van ʼn karstoeltjie. Ek is baie bly sy was daarin; dit het haar lewe gered,” het sy bygevoeg.

Die gesin is terug op hul plaas en sterk aan.

Die name van die oorledenes is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Kobus ·

Of ons dit wil erken of nie…die dra van veiligheidsgordels en die veiligheidsstoeltjies vir kleintjies…het al baie lewens gered of beserings beperk…die anderkant van die munt is ook…hoevele was al vasgevang in n brandende voertuig en kon nie ontsnap…maar soos berig uitwys…daar is nou gelukkige ouers teen die einde…hul kleinding en hulself was van die gelukkiges…sterkte en simpatie aan die ander families.

Verskil ·

Ek verskil met jou Kobus. Kyk na https://saferide4kids.com/blog/car-fires-vehicle-submersion/ waar slegs 0,0949% van voertuie aan die brand geslaan het. Dan kon daar ook nie vasgestel word of van die slagoffers dood is agv die ongeluk of die vuur. Word jy uitgeslinger is jou kanse skraal vir oorlewing en sou jy binne bly en kop stamp (byv tromop botsings) gedurende die ongeluk gaan jy buitendien bewusteloos wees om uit te kan klim sou jy dalk oorleef.
Pragtig van die ouers om tyd te spandeer om eers hulle ALLES vas te gespe. Ek glo dat ook hulle veiligheidsgordels aangehad het.
Mag andere ook hier lees voordat spyt té laat kom.

Amanda ·

Baie sankbaar vir julle Zanel, maar net opmerking. Jy sal jou kind moet vat vir skandering van haar nek en rug. Ek was ook 23 jaar terug in ‘n ongeluk waar ‘n dronk man teen omtrent 100km per uur teen my stilstaande Beetle se agterkant vasgejaag het. My dogter van 18 maande was ook in haar karstoeltjie en het ook net skrape gehad. Ons het eers hier in haar laat tienerjare agter gekom dat sy nekbeserings opgedoen het agv daai ongeluk. Maak liewer seker en hou haar dop.

Andre ·

As dit waar is, moet iemand dan vir die Formule 1 jaers, Dakar jaers, Daytona ens wat selfs ses punt gordels dra asb se hoe gevaarlik ‘n veiligheidsgordel kan wees. Want om een of ander rede dring hulle daar op aan. ‘n Person wat met sy kop die binnekant van die windskerm tref teen 100 kilometer per uur het min kans of breinskade. Basiese wette van die natuur geld. Dan is daar nog die lugsak wat jou gaan beseer as jy nie ‘n gordel aan het.

Heilie Cockcroft ·

Hierdie ongeluk het voor ons huis gebeur en in hierdie geval het die stoeltjie die baba se lewe gered. Met die slag van die twee voertuie was ons verbaas daar was enige persone lewendig…

cor ·

Alida die wa is sekerlik gebou om 2000kg te dra , maar as jy te vinnig ry en jou vrag ongebalanseerd is sal die wa begin rondswaai. As jy nie n bekwame bestuurder is wat vertroud is met n wa of woonwa sleep nie gaan jy probleme optel. Duidelik het die bestuurder geskrik toe die voertuig bigin rondswaai en omdat die wa nie inloop remme gehad het of dit het nie gewerk nie het die bakkie en wa geknipmes toe die bestuurder hard op die rem getrap het.

Piet Pompies ·

Ek stem saam met die dra van veiligheidsgordels, van volwassenes en kinders in hul veligheids stoetjies. Ons kleinkind is van dag een geleer om altyd in sy veligheid stoeltjie te sit. Selfs met afstande van 700km plus met uurlikse rustye is hy tevrede. My pa het ligte beserings opgedoen in ‘n ernstige ongeluk, dit te danke aan sy veiligheids gordel.

Spelfout ·

Daar is ‘n fout in die berig, die paragraaf derde van onder af “hy sy”.

Phillip ·

Dankie Spelfout, dit is reggestel

Groete

Phillip Bruwer, nms Maroela Media

Anoniem brandweerman ·

Ek was op toneel en ek kan se dat die ouers van die baba julle was absoluut great om kleintjie so vas te gordel… onbewus van wat op die pad gaan gebeur het julle die lewe gered van julle eie baba… laat dit n goeie les wees vir almal… ons sien elke dag wat gebeur op die paaie… beskerm die vir wie jy lief is….

Zanel ·

Ons kan net dankie se vir die brandweer wat eerste op die toneel was en so mooi na ons omgesien het en alles om ons so goed beheer en hanteer het, ,om vir julle dankie te se regverdig nie eers julle goeie dade daagliks nie, maar dis al wat ons kan doen, baie dankie julle

Ronel ·

Ek’s bly die mamma is een van die wat haar kind vasmaak in die karstoeltjie. Ek wil histeries raak as kinders op die voorste sitplekke staan of sommer net in die stoeltjie gesit word sonder vasgegespe te word. Bly julle is okay. Jammer aan die ander mense wat iemand aan die dood afgestaan het.

Anmari ·

Seker van De Deur se Saterdag veiling gekom. Daar behoort gekyk word dat wanneer diere by veiling gelaai word dat sleepwa dit wel kan dra en padwaardig is.

Ma van twee ·

My kinders is 13 & 8 jaar oud. Hulle mag nie ry in die kar as hulle nie vasgegordel is nie. Dis gru my, as ek kinders op sit plekke sien staan terwyl die ouers vasgegordel is.

Gesiggie ·

So bly en verlig vir die ouers.. ek ry daagliks verby mense wat hul kinders op die voorste op agter sitplek laat regop staan… dit maak my so kwaad om dit te sien, wat as daar n ongeluk kom,,, dan sal speit te laat wees…. veiligheid is belangrik vir kinders….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.