Meyiwa -verhoor ‘laaste keer’ uitgestel

Die vyf beskuldigdes (Foto: ANA)

Die verhoor van die vyf mans wat van die moord op die voormalige Bafana Bafana-kaptein Senzo Meyiwa beskuldig word, is wéér uitgestel.

Regter Tshifhiwa Maumela het dit egter Dinsdag in die Pretoriase hooggeregshof duidelik gestel dat dit die laaste keer is dat hy aansoeke om uitstel in dié saak sal oorweeg.

Die vyf mans se verhoor is vroeër vandag tot 22 April uitgestel nadat adv. Zandile Mshololo, regsverteenwoordiger van beskuldigde nommer vyf, SifikuhleNkani Ntuli Sifiso, aangevoer het dat sy verdere besonderhede van die staat af benodig en met verdedigingsgetuies moet konsulteer sodat sy vir die verhoor kan voorberei.

Maumela het gesê hoewel Sifiso en sy medebeskuldigdes sekere grondwetlike regte het, die familie van Meyiwa en die gemeenskap óók die reg op antwoorde het oor wat die aand van 26 Oktober 2014 met hom gebeur het.

Senzo Meyiwa. (Foto: soccerladuma.co.za)

Meyiwa is die betrokke aand by sy vriendin, die sangeres Kelly Khumalo, se ma se huis in Vosloorus doodgeskiet.

Sifiso staan saam met Muzikawukhulelwa Sibiya, Bongani Sandiso Ntanzi, Mthobisi Prince Mncube en Mthokoziseni Maphisa tereg op die moord.

Die verhoor was veronderstel om reeds Maandag te begin, maar is toe ook uitgestel om Sifiso die geleentheid te bied om met sy regsverteenwoordiger te konsulteer.

Mshololo het vroeër in die hof aangedui dat sy nog nie met haar kliënt kon konsulteer nie omdat die staat eers op 30 Maart sekere belangrike getuieverklarings aan die verdediging verskaf het.

Sy het vandag aangevoer dat haar kliënt se verdedigingsaak as gevolg van die laat blootlegging van die getuieverklarings nie voldoende voorberei is nie en dat sy meer tyd benodig.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê die eenheid verwelkom die regter se voorneme dat dit die laaste uitstel gaan wees.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ’n waaksaamheidsopdrag namens Meyiwa se ma, Ntombifuthi, en susters Zama en Nomalanga Meyiwa, in die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Swerwer ·

Daar is ‘n slang in die gras. Zuma stel mos die voorbeeld.

Frank ·

As DIT gedoen kan word, hoekom word Zuma anders behandel en laat regters uitstel toe vir jare en jare?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.