Mia Cara, gesin pak tasse vir behandeling in VSA

Mia Cara en haar sussie Sofia (Foto: Facebook via Hope for Mia Cara)

Die sesjarige Mia Cara Ferreira van Somerset-Wes in die Wes-Kaap en haar familie is in die proses om tydelik na Philadelphia in die Amerikaanse deelstaat Pennsilvanië te verhuis waar dié jong kankerlyer die eerste Suid-Afrikaner gaan word om met ʼn nuwe geenterapie behandel te word.

José Ferreira, Mia Cara se pa, het Woensdag aan Maroela Media vertel die gesin het pas na Suid-Afrika teruggekeer ná ʼn twee dae lange besoek aan die Philadelphia-kinderhospitaal.

Ferreira sê personeel by die kinderhospitaal het bloed getrek en Mia Cara vir oulaas getoets voordat haar behandeling in Januarie volgende jaar gaan begin.

Mia Cara veg al vir twee jaar ʼn stryd teen limfoblastiese leukemie en het in Mei vanjaar, net toe dokters gereed was om haar kankervry te verklaar, weer ʼn terugslag gehad. Behandeling in die VSA wat as CAR-T-sel-terapie bekend staan, bied volgens Ferreira die beste opsie op genesing.

Met dié behandeling word haar witbloedselle in ʼn laboratorium geneties aangepas om die kankerselle aan te val en te vernietig en dan weer in haar liggaam “teruggeplaas”. Die liggaam se eie witbloedselle vernietig in wese dan die kanker. In die geval van leukemie val die mens se selle juis nie die kanker aan nie, omdat die kanker in die witbloedselle voorkom en die liggaam die selle erken as “deel van sy eie”. Dit is juis daarom nodig om die selle aan te pas.

Mia Cara (Foto: Facebook via Hope for Mia Cara)

“Die dokters is baie positief,” sê hy. “Hulle het bloed getrek wat tans by die laboratorium is en dit lyk asof alles gereed is sodat die behandeling in Januarie kan begin.”

José gaan tot in Januarie volgende jaar saam met sy vrou, Sumien, en hul jongste dogter, Sofia, in Philadelphia wees voordat hy na Suid-Afrika gaan terugkeer. Sumien se ma sal dan na Philadelphia vertrek sodat sy haar kan ondersteun.

Dit is volgens dokters baie belangrik om net ʼn uur weg van die hospitaal te woon vir wanneer Mia Cara enige newe-effekte van die behandeling toon.

“Sy gaan vir die eerste week in Januarie chemoterapie-behandeling ontvang sodat haar kankertelling so laag moontlik kan wees. Hulle gaan daarna met die CAR-T-sel-terapie begin, waarna haar genesingsproses begin. Dán kan ons net bid,” sê hy.

José en Sumien saam met hul kinders, Mia Cara en Sofia (Foto: Facebook)

Volgens Ferreira is Mia Cara positief en opgewek en sê dié kankerstryd “soos ʼn jong vegtertjie” aan. “As jy haar sien, sal jy nie weet daar is fout nie. Sy is steeds opgewek en vriendelik, sy speel en ry fiets. Sy is baie positief. Anderdag het ʼn seuntjie haar gevra: ‘Weet jy dat jy kanker het?’ Toe sê sy ‘ja’. Toe vra hy: ‘Weet jy dat jy gaan doodgaan?’ Toe sê sy: ‘Ek gaan nie nou doodgaan nie, man. Ek gaan eers doodgaan as ek oud is.’ Sy is ons klein vegtertjie – saam sal ons hierdeur kom.”

Die gesin moes ʼn ooreenkoms met die Philadelphia-kinderhospitaal aangaan om die koste van die behandeling oor twee jaar af te betaal. Dié behandeling gaan meer as R9 miljoen beloop waarvan die gesin nog net die helfte ingesamel het.

“Ons probeer om nié op die struikelblokke te fokus nie,” sê Ferreira. “Die belangrikste is nou dat sy die behandeling kan ontvang sodat sy kan beter word. Ons het dit tot hier gemaak – nou is dit nog net die laaste paar treetjies.”

ʼn Trustfonds is in Mia Cara se naam gestig om die gesin te help om geld vir die T-sel-behandeling in te samel. ʼn Facebook-blad, Hope for Mia Cara, is ook gestig om lede van die publiek oor haar vordering op hoogte te hou. Om betrokke te raak, besoek dié Facebook-blad of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

LB S ·

Dit is presies wat ek ook sê, “Ek gaan nog 85 haal”. Ek het CLL “Chronic Lymphocytic Leukemia”, drie jaar in remissie en was ook nog nooit regtig siek hiervan nie.
Sterkte vir jou en jou ouers, Mia-Cara, jy het die regte benadering om positief te bly.

Mariëtte ·

Mia Cara
Jy sal nog baie oud word. Ek het dieselfde bloedkanker as jy gehad toe ek 4 jaar oud was. Ek is spekvet en gesond. Ek is 33 jaar oud en verwag my 2de babatjie. Sterkte sussie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.