Middelburg maande al deur stakers lamgelê

Vullisverwydering in Middelburg is tot stilstand gedwing weens die staking. (Foto: Verskaf)

Ses jaar nadat Middelburg in Mpumalanga met die louere weggestap het in die TV-joernaalprogram Kwêla se Dorp van die jaar-kompetisie (2015), het dit klaarblyklik binne enkele maande verval.

Inwoners sê ’n voortslepende staking deur werknemers van die Steve Tshwete‑ plaaslike munisipaliteit (STLM) lê die dorp se dienslewering sedert September lam. Vullisverwydering is onder meer tot stilstand gedwing terwyl intimidasie en sabotasie glo seëvier.

’n Klag is Vrydag by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien om die skending van menseregte in Middelburg te ondersoek.

“Ek is van 1984 ’n inwoner van Middelburg en ek het hierdie dorp nog nooit in só ’n toestand gesien soos nou nie,” vertel die plaaslike DA-raadslid Hennie Niemann.

“Daar was sprake van stelselmatige agteruitgang in dienslewering, maar dis asof ons van September af by ’n regaf krans afstort.

“Ons inwoners is moeg.”

Volgens Niemann eis die stakende munisipale werkers nié net die munisipale bestuurder se kop weens binnegevegte nie, maar ook ’n hoër gradering van die munisipaliteit, die uitkontraktering van dienste en salarisverhogings.

Marius Potgieter, inwoner en omroeper by die plaaslike radiostasie Kosmos FM, meen die beoordelaars van Kwêla “sal waarskynlik stik in die nasmaak van destyds se aankondiging” sou hulle Middelburg nou jare later sien.

Dié radiostasie word oorval deur luisteraars wat antwoorde oor die chaos eis.

Vullisverwydering het glo reeds enkele dae nadat die staking op 19 September begin het, in die slag gebly, terwyl krag- en wateronderbrekings ’n al meer alledaagse verskynsel geword het.

Lede van die DA verwyder self vullis in Middelburg, (Foto: Verskaf)

Niemann sê sommige dele van die dorp, waaronder die sakesentrum, het onlangs sowat sewe dae lank sonder water gesit. Dit is nie duidelik of dié onderbrekings bloot aan verouderde infrastruktuur toegeskryf kan word nie, maar daar word beweer dat die wateronderbrekings die gevolg is van stakende munisipale werkers wat met die infrastruktuur peuter.

Intussen word die munisipale werkers wat wél vir werk opdaag, geïntimideer en gedreig, wat eindelik daartoe lei dat hulle óók wegbly en al minder dienste gelewer word.

Niemann vertel dat petrolbomme onlangs na wetstoepassingsowerhede se huise geslinger is en dat ’n elektriese kontrakteur in Mhluzi in die omgewing van Middelburg aangerand en van sy toerusting beroof is.

Teen Vrydag het die situasie net vererger nadat die stakende munisipale werkers hul afleggingsbriewe ontvang het. Niemann vertel dat kontrakteurs se voertuie beskadig is, terwyl elektrisiteit in sekere dele van die dorp moedswillig afgeskakel en waterkleppe toegedraai is.

ʼn Munisipaliteit se graad word onder meer bepaal deur die munisipaliteit se inkomste en die grootte van die bevolking. Groter en meer welvarende owerhede se raadslede verdien dus meer.

“Die stadsraad kan ‘n hoër gradering eerlikwaar nie bekostig nie,” meen Niemann.

Middelburg het in Augustus ook onder betogings deurgeloop, toe inwoners die strate ingevaar het weens korrupsie en die toekenning van tenders.

Só lyk dit in Middelburg, Mpumalanga. (Foto: Verskaf)

Volgens Potgieter verskaf die stadsraad geen betroubare inligting oor die huidige staking nie en is die enkele boodskappe wat wel uitgestuur word, niksseggend.

“Ons moet raai raai riepa in dié dorp speel.

“Die strate is absoluut vieslik. Jy staan elke dag op met ’n nuwe grilligheid.”

Potgieter vertel dat Middelburg se stadsraad voorheen selfs pryse gewen het “omdat hy die ding reg doen”.

“Dit is hartseer. Die realiteit op die grond is ’n aakligheid. Ons dorp gaan gebuk onder werkloosheid en die Covid-19-pandemie het ons glad nie goed gedoen nie. Die huidige situasie help nie die dorp, sy ekonomie óf sy gemeenskap nie.”

Potgieter sê inwoners betaal vir dienste wat hulle nie kry nie. “Waar laat dit die derduisende inwoners van ʼn eens trotse dorp? Hoe lank kan ʼn groep wettelose kriminele toegelaat word om die septer te swaai ten koste van betalende inwoners wat in STLM éérs moet betaal en dán ontvang?”

Die VF Plus het vandeesweek ’n dringende skrywe gerig aan die premier van Mpumalanga, Refilwe Mtsweni-Tsipane, en die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Semakaleng Manamela, waarin gevra word om dringend in te gryp.

Die party het ook ʼn klag by die MRK ingedien om die skending van menseregte in die munisipaliteit te ondersoek.

Werner Weber, VF Plus-LPW en provinsiale leier, sê dit is onaanvaarbaar dat munisipale werkers die munisipaliteit en sy inwoners “gyselaar” hou deur die vernietiging van infrastruktuur, staat- en privaat eiendom, maar steeds hul volle salaris vir Oktober ontvang het.

“Daar moet nou daadwerklik opgetree word teen die onwettige optrede van munisipale amptenare wat die veiligheid van inwoners bedreig en die eens vooruitstrewende dorp van Middelburg in ʼn rommelhoop verander.”

Maroela Media het die Steve Tshwete‑ plaaslike munisipaliteit vroeër vandeesweek om kommentaar genader. ’n Woordvoerder het Vrydag geantwoord dat die munisipale bestuurder Maandag tydens ’n mediakonferensie meer lig op die situasie sal werp. Die woordvoerder het geen kommentaar op Maroela Media se vrae gelewer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

casper ·

Suid Afrika – Besef dat jy net op jouself aangewese is vir alles wat saak maak in jou lewe.
Die tyd dat munisipaliteite gewerk het is LANK verby !!!

Pieter ·

Middelburg, Mpumalanga is ‘n dorp om nie in te bly nie. Hul drinkwater kom uit die Klein Olifants verby die Guptas se Optimum myn wat die water besoedel. Indien Optimum nie die water behandel nie is die dorpsdam vol sulfaat wat die pype toemaak.

Philip ·

Dit is nie n uitsondering nie in n menigte klein en groot dorpe in SA is dit die standaard om alles in n varkhok te verander.

Jr ·

VF los die briefies en GAAN HOF TOE. OF VRA AFRIFORUM EN SOLIDARITEIT OM JULLE TE HELP. Neem beheer oor die munsipaliteit. Soos Koster

Blomme ·

Geluk aan die ANC government.. Hulle is sowaar suksesvol in hul vernietigingsveldtog! Een ding waarin hul hul woord gestand hou en die waarheid gepraat het!

annie ·

En die nuwe minister van finansies wil weer nuwe geld gooi na ‘n ou probleem: munispale werkers wat betaal word om niks te doen nie buiten skaamteloos hul sakke vul. Wil hy die probleem so oplos? Wie hoop die burgemeesters & kie van sulke rot-hole gaan die probleem oplos? Catch-22 gaan aanstaande jaar presies dit doen… Iets sal moet skietgee…

Jannie van Niekerk ·

Welkom in ‘n dorp waar die ANC en EFF die kitaar slaan. Daar sal dan mos chaos wees.

Nicolaas Hendrik ·

Een van die dae het hulle ook nie meer toeriste nie, want wie wil nou in n varkhok vakansie hou

Tiptol ·

Die naam van die munisipaliteit sê alles. Hoef nie eers die artikel klaar te lees nie.

James ·

Betaal al Middelburg se Polisie af wat wyer om hulle bure en boeties toe te sluit wat Sabotasie pleeg.

David ·

Dit is die standaard van die terroris. Hulle moet alles vernietig.

Jakes ·

Hierdie kultuur is al sedert 1994 aanwesig in SA. Dit is deel van ander stokperdjies soos plundery, korrupsie en diestal. Solank as wat die land regeer word deur n party wat nie optree teen wetteloosheid nie sal dit ons voorland wees.

Hondjie ·

Dit is een dorp wat hier genoem word.daar is hordes dorpe met die sele ou storie.dit net weer n bewys dat die anc niks kan reg kry ni.vir 27 jaar en hulle sukkel nog steeds van n land wat als gewerk het na niks en agter uit gaan.mens neem mos bietjie daai self respek ek en maak bietjie jou dorp skoon maar nee vir 27 jaar was daar kursese uit hoe om af te breek en te verniel en te brand.dis die reenboog droom…..

Peach ·

Kom gerus Oudtshoorn toe….. selfs die eens winsgewende en pragtige Kango Grotte is tot in die afgrond bestuur en, staan nou as wit olifant met geen finansiële wins bestuur in onmiddelike nabyheid :-(

Piet parys ·

Geen dieste geen betaling . Is mense dan brein dood . No work no pay .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.