Middelburg-moord: Man kry lewenslank

court-hammer_thumbʼn 26-jarige man is lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op Jan du Toit (68) van Middelburg, Mpumalanga.

Brig. Selvy Mohlala, woordvoerder van die polisie, het gesê Thabang Mohlala het vroeër skuldig gepleit op aanklag van moord. “Hy is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir huisbraak met die doel om te roof en roof met verswarende omstandighede. Hy is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word,” het Mohlala gesê.

“Die hof het gehoor dat Du Toit omstreeks 04:00 op 18 September 2012 wakker geword het toe hy ʼn geluid gehoor het in sy huis in Kanonkop in Middelburg. Hy het sy vuurwapen gekry en gaan ondersoek instel.”

Volgens Du Toit se vrou, Maria, het haar man vir Mohlala in die huis aangetref, die vuurwapen op hom gerig en hom beveel om op die grond te lê. Du Toit het glo vir hom gevra hoeveel mense is in die huis.

“Mohlala het gesê daar is vier mense in die huis en Du Toit het na die ander verdagtes begin soek. Mohlala kon daarin slaag om op te staan en hy en Du Toit het in ʼn struweling betrokke geraak oor die vuurwapen.”

Maria het aan die hof gesê sy het gesien wat gebeur waarna sy ʼn mes gegryp het en Mohlala in die rug gesteek het. Mohlala het die mes by haar afgeneem en haar en haar man daarmee gesteek. Mohlala het die vuurwapen en selfone gevat voor hy gevlug het. Du Toit is op die toneel dood terwyl Maria ernstige beserings aan haar oor opgedoen het en na ʼn hospitaal geneem is vir behandeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Patat ·

Ai, dit kon anders uitgedraai het. Sommige mense sê “skiet eers en vra agterna die vrae”. Ek dink in hierdie geval sou dit Jan du Toit se lewe gered het, maar in hierdie wonderlike land van ons met sy lae misdaadsyfer, mag ons mos nie so optree nie.

Sterkte aan Maria en familie. Die moordenaar het nou wel lewenslank gekry, maar julle ook. Julle lewe lank sal julle Jan mis.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.