Middelburg-seun (13) sterf tragies

Henko Booysen. Foto: Via Facebook / HS Kanonkop

Henko Booysen, ʼn 13-jarige seun van Middelburg, word Vrydag ter ruste gelê nadat hy vroeër die week tragies in dié Mpumalanga-dorp gesterf het.

Kapt. Khanyisile Zwane, woordvoerder van die Middelburg-polisie, het Vrydag aan Maroela Media gesê Henko is Maandag dood nadat hy omstreeks 17:00 van ʼn bewegende voertuig geval het.

Henko en nog ʼn seun het agter op ʼn bakkie gesit toe die bakkie glo om ʼn skerp draai gegaan het. Hy het van die bakkie geval en ʼn ernstige hoofbeserings opgedoen. Die presiese omstandighede rondom die ongeluk word nog ondersoek.

Booysen was ʼn gr. 8-leerder aan Hoërskool Kanonkop nadat hy vroeër vanjaar van HTS Middelburg geskuif het na Kanonkop.

Mnr. Martin Fourie, hoof van Hoërskool Kanonkop, het Vrydag aan Maroela Media gesê Henko sal onthou word as ʼn stil seun wat op sy plek was en nooit in die moeilikheid was nie. “In die vyf maande wat hy hier by ons was, het hy baie goeie vriende gemaak. Sy vriende en hele familie is bitter ontsteld oor sy skielike afsterwe,” het Fourie gesê.

Die skool het die dag ná Henko se dood ʼn oomblik van stilte vir hom gehou en ook beraders gereël om leerders by te staan. Fourie het ook met Henko se ouers vergader om bystand te bied. “Dit is vir hulle baie swaar. Aan sy familie en vriende wil ons sê, julle is in ons gebede. Mag Jesus julle toevou in liefde en vertroosting.”

Amanda Bronkhorst, Henko se ouma, het op Facebook almal in die gemeenskap bedank wat die familie in hul gebede opdra en ook versoek om die familie tyd te gun om te rou en vrede te maak.

Alet Booysen, Henko se ander ouma, het in ʼn hartroerende huldeblyk gesê: “Ouma se lieflingkind, ek sal jou altyd lief hê. Jy was en sal altyd my engel wees. Jy is nou by Jesus. Ek is so ongelooflik lief vir jou.”

Henko word vanuit die Nederduitsch Hervormde Kerk (Moedergemeente) begrawe.

Zwane het gesê die polisie ondersoek ʼn saak van strafbare manslag. “Niemand is in hegtenis geneem nie. Die nodige verklarings sal afgeneem en aan die hof gestuur word. Die hof sal dan besluit of iemand strafregtelik vervolg gaan word,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

MCS ·

Dis tragies, 3 de van een van Middelburg se Hoërskole se seun wat dood is die afgelope twee maande.

Annie ·

Sterkte aan die ouers en familie. Nog ‘n baie hartseer storie die week.

Sonja Hall ·

Baie sterkte aan gesin, familie en vriende. Ons bid vir julle. Sonja

Willie ·

Ai wat n tragedie… sterkte aan die familie en vriende…

Maroela ·

‘n stil seun of steun?

Rus in vrede jong man! Sterkte aan sy gesin met die groot verlies! Mag God julle troos in die moeilike tyd en vrede gee.

Gesiggie ·

Dit breek my hart… so n prag van n kind… aan die ouers en familie, mag God jul dra deur die tyd van hartseer… geen woorde kan die seer wegneem…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.