Middelklas kan dalk effense verligting sien

geld 7

Argieffoto.

Ekonome meen dat Suid-Afrika se middelklas, wat tans die grootste belastingslas in die land dra, nie vanjaar na veel verligting kan uitsien nie – ondanks ʼn positiewe vooruitsig vir die land.

Dawie Roodt, hoofekonoom by die Efficient Groep, sê die skade wat die Zuma-regering aan die land gedoen het, jare sal neem om reg te ruk.

Roodt sê veral op die makro-ekonomiese vlak is daar baie werk wat wag op die nuwe regering wat volgende jaar sal oorneem.

“Dit sluit in die lae ekonomiese groeikoers wat aandag moet kry, die hoë werkloosheidsyfer en die buitensporige salaris-aanspreeklikeid van die staat,” sê hy.

Volgens Roodt sal daar ook indringend gekyk moet word na staatsbeheerde-ondernemings wat swak presteer.

“Belastingbetalers se geld word op nuttelose projekte vermors. Die feit dat die staat nou teen Gupta-gesinde maatskappye optree is goeie nuus,” voeg hy by.

Hy sê egter dat daar nie net slegte nuus sal wees nie. Ofskoon hy ʼn belastingsverhoging in die begrotingsrede verwag, sê hy dat die middelklas baat sal vind by ʼn sterker rand, laer inflasie en stabiele rentekoerse.

Roodt sê dit kan die middelklas moed gee om op groot items soos huiskoop te bestee. En dit kan kleinhandel verkope – wat tans laag is – ʼn hupstoot gee.

Volgens Roodt sal vanjaar ʼn beter jaar as 2017 wees en indien fiskale dissipline gehandhaaf word, kan dit net beter gaan vir alle Suid-Afrikaners.

Hy sê dit is duidelik dat staatskaping gestuit is en dat dit ook tot besparings kan lei wat staatsinkomste meer rooskleurig sal laat.

Richard Downing, ekonoom by die kamer van koophandel en nywerheid (Sacci), is minder optimisties. Hy voorspel dat die middelklas steeds vanjaar sal swaar trek.

Hy skryf dit toe aan die land se ekonomiese posisie en die swak stand van sy finansies. Hy voorspel dat die middelklas nog meer belas sal word. Hy voeg by dat ander items ook belas kan word om die staatskas aan te vul

“Die regering het geld nodig. Dit wil sê die middelklas kan meer belas word wat minder rande in hul sakke sal laat,” sê hy.

Hy het ook sy kommer uitgespreek oor die openbare sektor wat met ʼn te groot arbeidsmag sit. Hy sê dit moet drasties krimp omdat dit belastingbetalers se geld opslurp.

Downing sê dit is noodsaaklik dat die regering saam met die private sektor en vakbonde werk om van die land se knellende probleme op te los. Dit sluit in die lae werkloosheidsyfer, ʼn strewe na hoër ekonomiese groei en gunstige beleggingstoestande.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

andre els ·

Dawie Roodt met sy Russsiese bruid het natuurlik klaar sy eiendom oorsee. Die dat hulle sulke twak kwyt raad….

Piet Pompies ·

Ek was Vrydag 19 Jan 2018 by ‘n seminaar waar SA se ekonomiese groei ter sprake gekom het. Sederd einde November 2017 is daar ‘n stelselmatige ekonomiese groei besig om plaas te vind en die uitsig vir 2018 lyk belowend!

Caru ·

Ek hoop die “nuwe regering” sal sorg vir waterpypleiding vanaf die Oranje rivier Kaap toe of meer damme bou in die Kaap wat die huidige regering mos nie wil doen nie omdat dit onder DA beheer is

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.