‘Middelman’ in Panayiotou-moord vasgetrek

Luthando Siyoni en sy prokureur, Zolile Ngqeza, by die hooggeregshof in Port Elizabeth in November 2016: Foto: Raahil Sain/ANA

Byna ses maande nadat die vermeende middelman in die opspraakwekkende Jayde Panayiotou-moordsaak se immuniteit teen vervolging herroep is, is hy Maandag in Kwazakhele buite Port Elizabeth in hegtenis geneem.

Kapt. Anelisa Feni, woordvoerder van die Valke, het bevestig Luthando Siyoni is in hegtenis geneem en sal tereg staan op aanklag van moord. Siyoni is omstreeks 14:00 vasgetrek. Siyoni, wat vir Jayde se man, Christopher Panayiotou, gewerk het, sal na verwagting Woensdag in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn.

Siyoni het vroeër erken dat hy gehelp het om ʼn huurmoordenaar op te spoor om Jayde te vermoor en het Panayiotou uitgewys as die baasbrein agter sy vrou se moord.

In sy verklaring as staatsgetuie het Siyoni beskryf hoe Panayiotou hom genader het om ʼn huurmoordenaar op te spoor om sy vrou te vermoor en hoe hy, ná ʼn paar mislukte pogings, uiteindelik vir Sizwe Vumazonke gekontrakteer het om die moord uit te voer. Vumazonke het sedertdien in ʼn hospitaal gesterf.

Christopher Panayiotou in die hof. Foto: ANA

Tydens ʼn geheime polisieoperasie op 29 April 2015 is ʼn gesprek tussen Siyoni en Panayiotou in ʼn motor op video vasgevang. In die gesprek het Panayiotou homself by sy vrou se moord betrek.

Jayde is op 21 April 2015 buite die Stellen Glen-kompleks in Kabegapark ontvoer waar sy gestaan en wag het vir ʼn saamrygeleentheid werk toe. Haar liggaam is later in die buitewyke van Kwanobuhle gevind. Sy is in haar kop geskiet.

Siyoni, wat veronderstel was om die staat se sleutelgetuie te wees, het later sy verklarings wat hy aan die polisie gemaak het teruggetrek en het geweier om enige van die staatsaanklaer, Marius Stander, se vrae tydens ʼn verhoor-binne-ʼn-verhoor te antwoord.

Siyoni se skielike ommeswaai het gekom ná ‘n soortgelyke ommeswaai van sy vriendin, Babalwa Breakfast, wat aangekla is van meineed nadat sy afgewyk het van haar verklaring aan die polisie waarin sy gesê het haar kêrel het haar vertel van Panayiotou se planne om sy vrou, Jayde, te laat vermoor. Siyoni en Breakfast is gevolglik albei as vyandige getuies verklaar.

Sinethemba Nenembe in die hof. Foto: Raahil Sain/ANA

Siyoni se prokureur het hom geadviseer om nie enige vrae in die getuiebank te beantwoord wat hom kan inkrimineer nie, alhoewel art. 204-getuies veronderstel is om eerlik te wees oor die relevante gebeure.

Siyoni se optrede is deur regter Dayalin Chetty gekritiseer wat in sy uitspraak Siyoni se getuienis bestempel het as ʼn “mengsel van leuens, meineed en bedenksels” wat ontwerp is om Panayiotou se verdediging te bevoordeel.

Panayiotou en Sinethemba Nenembe is in November verlede jaar skuldig bevind aan die moord op Jayde, terwyl Zolani Sibeko skuldig bevind is aan sameswering om moord te pleeg. Panayiotou se regspan het intussen ʼn aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding by die hooggeregshof ingedien. Intussen is Panayiotou, Nenembe en Sibeko besig om hul vonnisse uit te dien.

Lees alle vorige berigte oor die Panayiotou-moordsaak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Derik ·

As ek so luister, pleeg prokureurs nie maar dwarsboming van die gereg nie??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.