Middernag-wroeging lei glo tot bylmoorde van ma, kinders

Nowa Makula, ʼn 32-jarige Zimbabwiër, het die gesin in November verlede jaar vermoor. (Argieffoto: pixabay)

ʼn Man wat skuldig gepleit het op ses aanklagte van moord nadat hy ʼn ma en haar vyf kinders in November verlede jaar met ʼn byl vermoor het, is ses keer lewenslange tronkstraf vir die misdade opgelê.

Landdros Sizakele Sihlahla het met staatsaanklaer Chumile Mkentane saamgestem dat die enigste gepaste vonnis vir die “wrede moord op onskuldige siele” lewenslange tronkstraf vir elke aanklag is.

Nowa Makula, ʼn 32-jarige Zimbabwiër, het die gesin op 25 November verlede jaar by hul huis by die Sidabekweni-nedersetting, naby Elliotdale, vermoor.

In sy pleitverduideliking het Makula aangevoer hy was sedert 2012 in ʼn romantiese verhouding met die volwasse slagoffer, Nomzamo Mhlanti (42). Toe hy Mhlanti ontmoet het, het sy reeds vier kinders gehad. Hoewel hulle nie amptelik getroud was nie, het hy en Mhlanti saamgebly en ook saam drie kinders gehad.

Op die noodlottige aand het die paartjie ʼn stryery gehad oor Mhlanti se beweerde ontrouheid, waarna hulle in die bed geklim het. Makula het aan die hof gesê dat hy nie kon slaap nie.

Kort ná middernag het hy besluit om vir Mhlanti en haar kinders – wat in dieselfde vertrek geslaap het – te vermoor.

Nadat hy Mhlanti met ʼn byl op die kop geslaan het, het hy dieselfde aan al vyf kinders in die vertrek gedoen: die tienjarige Azakhiwe, die sewejarige Yibanathi, die vyfjarige tweeling Wineka en Thoko, asook die ses maande oue Mhlanti.

Almal het in hul slaap gesterf.

Makula voer aan hy het hom ná die moorde probeer ophang, maar die tou het volgens hom drie keer gebreek voor hy besluit het om van die toneel te vlug.

Die polisie het hom drie dae later in Ginsberg, sowat 300 km van die moordtoneel, in hegtenis geneem.

Adv. Barry Madolo, die direkteur van openbare vervolging in die streek, het die spoedige afhandel van die saak geloof.

“Die ses maande lange omkeertyd moet geloof word en dit moet ook wees waarna ons in die toekoms streef. Ons gemeenskappe wil sien dat geregtigheid so gou moontlik geskied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Debby ·

Nou moet ons n uitlander vir die res van sy lewe onderhou, stuur hom terug waar hy vandaan kom dat hy daar in n tronk gaan le

melaney ·

Daar is nie kos in sy tuisland. Hier sal hy darem al sy jare agter tralies kan eet.

E ·

Ongelukkig ja, net oor sy onbeteuelde jaloesie. En kan die ma regtig NERENS voorbehoeding bekom nie?

Patch ·

As al die uitlanders uit ons tronke na hul tuislande terug gestuur word sal daar meer plek in die tronke wees. Ek stem, hulle moet aan hul lande uitgelewer word. Maar of hulle daar sal tronkstraf uitdien is ook ‘n ander vraag.

JM ·

As iets my dus nie pas nie, dan moor ek maar, want dan is die probleem mos “opgelos.” Dan gaan sit ek boonop op die belastingbetaler se onkoste in die tronk, met lekker gratis inwoning. Só gaan dit omdat die doodstraf afgeskaf is. Ons bly in ‘n verskriklike land, waar jy nie jou lewe seker is nie.

Misky ·

Vonnisse word sekerlik weer gelyktydig uitgedien, dis nie geregtigheid nie. En pos hom terug Zim toe asb

Martie ·

Maak nie saak hoeveel jare tronkstraf hy kry nie, dit bring nie die dooies terug nie! Hulle moet die doodstraf terugbring!

Nozi ·

Martie ek stem volkome saam met die feit dat tronkstraf nie die onskuldige oorledene gaan terug bring nie, maar glad nie omtrent die doodstraf nie. Het jy al gedink hoe gaan ons blanke mense soos vliee aan die glag hang? Ons regstelsel is nie regverdig nie.

Tanniepetoors ·

Daar is net een gepaste straf vir so ‘n afskuwelike daad: Doodstraf.

petro ·

Die duiwel is los op hierdie aarde van ons. Net die Here kan ons help!

Sarel ·

Maar…Word gelyklopend uitgedien so effektief 1 c Lewenslank

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.