ʼn Gasontploffing is moontlik die rede dat ʼn gebou Maandag in Midrand in Gauteng ineengestort het.
Kapt. Augustinah Selepe, ʼn polisiewoordvoerder, het gesê die saak word kragtens die Wet op Plofstowwe ondersoek. Sy het gerugte ontken dat die gebou ineengestort het ná ʼn poging om ʼn kitsbank op te blaas. “Daar word vermoed dat die gebou deur ʼn gasontploffing beskadig is. Die kitsbank en twee kluise is heel, dit was nie ʼn kitsbankrooftog nie,” het sy gesê.
Volgens Selepe is die gebou ʼn besigheidperseel.
Maroela Media het Maandag berig twee mans is beseer nadat die Ipitombi-gebou die oggend omstreeks 02:00 ineengestort het.
Santi Steinmann, woordvoerder van Netcare911, het gesê een van die mans het ernstige beserings opgedoen. Die mans is op die toneel gestabiliseer voor hulle ‘n nabygeleë hospitaal geneem is vir verdere mediese behandeling.