Mihalik-moord: Derde beskuldigde in hof

Adv. Pete Mihalik is op 30 Oktober 2018 voor sy kinders se skool doodgeskiet. Foto: ANA

ʼn Derde verdagte wat Woensdag in hegtenis geneem is in verband met die moord op die strafregadvokaat Pete Mihalik sal na verwagting vandag in die Kaapstadse landdroshof verskyn.

Die verdagte sal saam met sy medebeskuldigdes, Sizwe Biyela (26) en Nkosinathi Khumalo (31) in die beskuldigdebank wees. Die drie staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Die eerste twee verdagtes is Dinsdag in hegtenis geneem kort nadat Mihalik (50) buite sy 8-jarige seun en 16-jarige dogter se private skool, Reddam House, in Cavalcadeweg, Groenpunt, doodgeskiet is. Mihalik se seun het ʼn skietwond in sy kaak opgedoen. Die advokaat se tienerdogter is ongedeerd.

Die skieter het deur die venster aan die bestuurderskant van Mihalik se Mercedes-Benz geskiet.

Die staat beweer die moord is met voorbedagte rade gepleeg en aanklaer Helene Booysen het verlede week die hof gevra om die twee verdagtes by die Seepunt-polisieselle te laat aanhou aangesien daar rede is om te glo hulle “sal leed aangedoen word” as hulle in Pollsmoor aangehou word.

Luidens die klagstaat voer die staat aan die beskuldigdes het Mihalik met opset vermoor deur hom in die kop te skiet en dat die misdaad uitgevoer is “deur ʼn persoon, groep of persone of sindikaat wat opgetree het in die uitvoering of bevordering van ʼn gemeenskaplike doel of sameswering”.

Die staat beweer die beskuldigdes het ook met opset probeer om Mihalik se seun te vermoor deur hom in die gesig te skiet.

Daar is sedert die moord wyd bespiegel oor die motief daarvan, veral aangesien Mihalik gereeld berugte karakters uit die Kaapse misdaadonderwêreld verteenwoordig het. ʼn Mediahuis het selfs berig dat R1 miljoen na bewering betaal is vir Mihalik se huurmoord en dat dit vanuit ʼn tronksel gereël is.

Mihalik se vrou, wat aan depressie gely het, het drie jaar gelede haar eie lewe geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.