Mihalik-moord: Drie se borgtogaansoeke uitgestel

Adv. Pete Mihalik is op 30 Oktober 2018 voor sy kinders se skool doodgeskiet. Foto: ANA

Die borgtogaansoeke van drie mans wat aangekla word van die moord op die strafregadvokaat Pete Mihalik (50), is Donderdag in die Kaapse landdroshof uitgestel.

Landdros Greg Jacobs het die borgtogaansoeke tot 13 Desember uitgestel. Vuyile Maliti (35) het saam met sy medebeskuldigdes, Sizwe Biyela (26) en Nkosinathi Khumalo (31), verskyn op aanklagte van moord, poging tot moord en die onwettige besit van besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Tydens hul vorige hofverskyning twee weke gelede het Jacobs die media se aansoek om die hofverrigtinge te verfilm en foto’s van die beskuldigdes te neem van die hand gewys. Die beskuldigdes word in verskillende gevangenisse aangehou vir hul eie veiligheid.

Maliti, wat homself aan die polisie oorgegee het, is van Kuilsrivier terwyl die ander twee beskuldigdes van KwaZulu-Natal is. In die klagstaat word aangevoer dat Maliti vir homself werk. Volgens mediaberigte is hy ʼn taxibaas en het hy na bewering twee sluipmoordenaars gereël om Mihalik te vermoor.

Daar is sedert die moord wyd bespiegel oor die motief vir die moord, veral aangesien Mihalik gereeld berugte karakters uit die Kaapse misdaadonderwêreld verteenwoordig het. ʼn Mediahuis het selfs berig dat R1 miljoen na bewering betaal is vir Mihalik se huurmoord en dat dit vanuit ʼn tronksel gereël is.

Mihalik is buite sy agtjarige seun en 16-jarige dogter se private skool, Reddam House, in Cavalcadeweg, Groenpunt, doodgeskiet. Mihalik se seun het ʼn skietwond in sy kaak opgedoen. Die advokaat se tienerdogter is ongedeerd.

Die skieter het deur die venster aan die bestuurderskant van Mihalik se Mercedes-Benz geskiet. Die staat beweer die moord is met voorbedagte rade gepleeg.

Luidens die klagstaat voer die staat aan die beskuldigdes het Mihalik met opset vermoor deur hom in die kop te skiet en dat die misdaad uitgevoer is “deur ʼn persoon, groep of persone of sindikaat wat opgetree het in die uitvoering of bevordering van ʼn gemeenskaplike doel of sameswering”.

Die staat beweer die beskuldigdes het ook met opset probeer om Mihalik se seun te vermoor deur hom in die gesig te skiet.

Mihalik se vrou het aan depressie gely en drie jaar terug haar eie lewe geneem. Volgens berigte het sy ma en suster ook hul eie lewe geneem. Mihalik was volgens berigte ten tyde van sy dood in ʼn verhouding met Tasmin Tobitt, eksvrou van die oud-Springbokrugbyspeler Percy Montgomery.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sê-MaaR-Net ·

Die beskuldigdes word in verskillende gevangenisse aangehou vir hulle eie veiligheid…regtig??? Wat maak hulle lewens meer werd as die van die man wat hulle vermoor het? Hoekom het hulle die reg op veiligheid?

Cherokee ·

Baie goeie vraag. Miskien is dit terwille van veiligheid van getuienis en nie van getuies.

jakes ·

Volgens die strafproseswet moet die aangeklaagdes buitengewone redes aanvoer om te kwalifiseer vir borgtog. Die kans dat al 3 van hulle sal ontsnap en verdwyn sodra hule borgtog kry is baie groot. Deesdae kry moordenaars en verkragters redelik maklik borgtog want misdadigers het meer regte as hul slagoffers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.