Mihalik-moordsaak: Drie hoor oor borgtog

Pete Mihalik (50). (Foto: Noor Slamdien/ANA)

Die aansoek om borgtog van die drie mans wat beskuldig word van die moord op Pete Mihalik, ʼn bekende prokureur, is Maandag in die landdroshof in Kaapstad van die hand gewys.

Die saak teen Sizwe Biyela (26), Nkosinathi Khumalo (31) en taxibaas Vuyile Maliti (25) is na die Kaapstadse hooggeregshof oorgeplaas en gevolglik uitgestel tot 12 Augustus.

Die hofsaal was stampvol en streng veiligheidsmaatreëls het gegeld. Die polisie het mense en sakke deursoek voordat hulle toegelaat is om die hofsaal binne te gaan.

Die drie beskuldigdes word vir hul eie veiligheid ook in drie verskillende tronke aangehou.

Die 50-jarige Mihalik was ʼn strafregprokureur wat vir sommige van Kaapstad se berugste bendelede verskyn het.

Hy is die oggend van 30 Oktober verlede jaar op ʼn kort afstand in die kop geskiet toe hy sy kinders by Reddam House, ʼn private skool in Groenpunt, wou gaan aflaai.

Sy agtjarige seun is in die kakebeen gewond. Hy het sedertdien volkome herstel. Mihalik se 17-jarige dogter het agter in die motor gesit en is nie in die skietery beseer nie.

Die toneel waar Mihalik vermoor is. (Foto: Armand Hough/ANA)

Die aanvaller het ʼn skoot deur die venster aan die bestuurderskant van die Mercedes-Benz gevuur, hoewel bure gesê het hulle het twee skote gehoor.

Die staat voer aan die moord was vooraf beplan. Luidens die klagstaat het die beskuldigdes Mihalik doelbewus vermoor deur hom in die kop te skiet.

Wat betref die aanklag van poging tot moord, voer die staat aan die beskuldigdes wou Mihalik se seun doelbewus probeer vermoor deur hom in die kop te skiet.

Die derde en vierde aanklagte teen die groep hou verband met die beskuldiges se beweerde besit van ʼn onwettige 9 mm-pistool en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.