Mihalik se ‘moordenaars’ Kersfees agter tralies

Pete Mahilik is by sy kinders se eksklusiewe private skool doodgeskiet. Foto: ANA

Die drie mans wat van die moord op adv. Pete Mihalik beskuldig word, se borgtogaansoek is Donderdag in die Kaapse landdroshof tot aanstaande jaar uitgestel.

Sizwe Sinzokohle Biyela (26), Nkosinathi Khumalo (31) en die taxibaas Vuyile Maliti (35) word ter wille van hul veiligheid in verskillende gevangenisse aangehou. Dit het tot ʼn lang vertraging gelei nadat beamptes van korrektiewe dienste hulle nie betyds by die hof kon uitkry nie.

Anders as met hul vorige hofverskynings, toe hulle eerste op die hofrol geplaas is, is hulle Donderdag eers kort voor die middagpouse na die hof gebring.

Maroela Media het vroeër berig Mihalik (50) is op kort afstand in die kop geskiet op die oggend van 31 Oktober terwyl hy sy kinders by die private skool Reddam House in Groenpunt aan Kaapstad se Atlantiese kus afgelaai het.

Sy agtjarige seun het ʼn skietwond aan sy kaak opgedoen, maar het intussen herstel. Die advokaat se 17-jarige dogter wat agterin die voertuig gesit het, was ongedeerd.

Die staat meen die moord is vooraf beplan. In die klagstaat beweer die staat dat die beskuldigdes Mihalik met opset geskiet het en dat die misdaad gepleeg is “deur ʼn persoon, groep of persone … in belang van ʼn gemeenskaplike doel of sameswering”.

Landdros Greg Jacobs het die borgtogverhoor tot 15 Februarie aanstaande jaar uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.