Mikayla ‘weer haar ou self’ ná spoegkobra haar pik

Mikayla Grové. Foto: Facebook.

Die sesjarige Mikayla Grové van Ballito in KwaZulu-Natal is weer terug by die skool nadat sy vroeër verlede maand op ʼn kleinhoewe in dié provinsie deur ʼn spoegkobra gepik is en drie weke in ʼn hospitaal deurgebring het.

Ludwig Grové, Mikayla se pa, het Donderdag aan Maroela Media vertel die gesin is nog elke dag dankbaar dat hulle betyds by die hospitaal aangekom het om mediese behandeling te ontvang – iets wat duidelik haar lewe gered het.

Op die dag waarop ʼn Mosambiekse spoegkobra Mikayla gepik het terwyl sy in haar bed gelê en slaap het, was hul redding waarskynlik dat hy ʼn familievriend gebel het om onmiddellik die waakeenheid in kennis te stel van haar toestand.

Nou is dit reeds ʼn maand ná die voorval en die gesin vertel Mikayla is weer “haar ou self”. “Sy is nes die klein dogtertjie wat sy veronderstel is om te wees – jy sal nie glo dat ons so tydjie gelede só bekommerd was nie. Sy het vandeesweek al netbal gespeel en gaan vanmiddag tennis oefen saam met die skool. Sy is heeltemal gesond,” vertel hy.

Volgens dr. Bianca Visser, kliniese bestuurder van Netcare uMhlanga se noodafdeling, was Mikayla in die hele proses vier keer in die teater – drie keer om die wond aan haar gesig te ontleed en te verseker dat die wond nie septies raak nie, en ʼn vierde keer vir ʼn operasie.

Visser sê Mikayla se toestand was kritiek by haar aankoms in die hospitaal. “Sy het verskriklik opgegooi en haar gesig het baie geswel. Daar was ook ʼn groot gevaar dat haar lugweg sou toeswel. Die mediese personeel het meer as vyf keer teengif toegedien om haar toestand weer stabiel te probeer kry,” sê sy.

Volgens haar het die selle op Mikayla se wang doodgegaan as gevolg van die gif van die slang en dié infeksie het ook na haar nek en skouers versprei. ʼn Chirurg was egter in staat om haar vel te rek wat verseker het dat ʼn veloorplanting nié nodig is nie.

Inge en Mikayla. Foto: Verskaf.

Grové sê die gesin sien nou daarna uit dat hul lewe weer na normaal terugkeer. “Sy het in die proses baie vetweefsel verloor, maar ons is oortuig dat sy in die volgende jaar volkome sal herstel. Sy is saans maar nog bang, maar ons probeer dit mooi bestuur sodat sy weet dis ʼn enkele voorval wat nie sommer weer in haar lewe met haar sal gebeur nie.

“Ons probeer ook nie in vrees lewe nie. Ons kyk elke aand onder die beddens en in die huis vir slange omdat dit ʼn gevaar in hierdie gebied is, maar ons laat nie toe dat vrees ons oorskadu nie. Ons is net bly dat dit nou verby is en dat Mikayla gesond is,” vertel hy.

Raad aan ouers

Dr. Visser sê ʼn hospitaal hoef nie onmiddellik ʼn slang te identifiseer om ʼn slagoffer se lewe met teengif te red nie. Volgens haar mors ouers in baie gevalle baie tyd om eers die slang te soek om sodoende die inligting aan die hospitaal oor te dra. Sy sê die tyd wat gebruik word om die slang te soek is eintlik ʼn kritieke tyd vir die slagoffer se gesondheid en dat hy of sy onmiddellik behandeling moet ontvang.

Sy raai ook ouers aan om die hospitaal se noodeenheid reeds telefonies in kennis te stel sodat die regte personeel reeds die slagoffer inwag en onmiddellik behandeling kan toepas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

PJC ·

Ek kan net dink hoe bly die ouers van hierdie oulike kind moet wees.

Chrisjan ·

Ons is saam met Mikayla en haar ouers dankbaar. Mag haar getuienis n groot impak op haar onderwysers, maats en familie hê. Baie sterkte vir jou
skoolloopbaan!

Uvonka ·

Ek is so bly en dankbaar jy is weer jou ou self pragtige Poplap. Dankie Liewe Jesus!!!

Lindie Rose ·

So ‘n pragtige ou dogtertjie!!! Ons is saam met jou en jou mamma en pappa bly Liewe Jesus het jou gesond gemaak. Geniet jou skoolloopbaan !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.