Mike Schüssler sterf

Mike Schüssler (Foto: Facebook)

Die ekonoom Mike Schüssler is aan kanker oorlede.

Sy vrou, Greta Moodie, het Dinsdagoggend die nuus op Facebook gedeel.

Volgens haar Facebook-inskrywing het Schüssler na ʼn kort siekbed sy stryd teen kanker verloor.

“Ek is vanoggend hartgebroke. Ek het die liefde van my lewe verloor en Suid-Afrika het ʼn reus verloor. Rus in vrede my lief. Ek is liewer vir jou as wat woorde kan beskryf,” lui die inskrywing.

Schüssler is al die afgelope drie dekades breedvoerig in die media as ekonoom aangehaal. Hy was die hoofekonoom by Economist.co.za – ʼn toonaangewende private ekonomiese navorsingshuis – wat in 2005 gestig is.

Volgens Economist.co.za het Schüssler se innoverende navorsing oor indiensneming en huishoudelike kwessies hom baie lof besorg.

Sy innoverende benadering het gelei tot nuwe ekonomiese metingsindekse en bestuursinstrumente soos vervoerkoste-aanpassing en logistieke indekse, die BankservAfrica-transaksie-indeks en die ABSA KMMO-indeks.

Schüssler is sedert 2005 twee keer as Suid-Afrikaanse ekonoom van die jaar aangewys.

Medelye vir Schüssler het op sosiale media ingestroom.

“Mike was geduldig, vriendelik en altyd gereed om die detail van ekonomiese kwessies te verduidelik op ʼn manier wat vir nie-ekonome sin maak,” het Bruce Whitfield, skrywer, omroeper en gerekende sakejoernalis getwiet.

Pieter Mulder, leier van die VF Plus, beaam Whitfield se woorde en sê dat Schüssler altyd in staat was om moeilike ekonomiese kwessies op eenvoudige, verstaanbare maniere oor te dra.

“Mike Schüssler was werklik ʼn begaafde ekonoom en kommunikeerder oor tegniese kwessies,” skryf Magnus Heystek, direkteur van Brenthurst Wealth Management.

“Dit was altyd ’n plesier om met Mike Schüssler te gesels om probleme op te los wat ver bo my begrip is. Hy was een van die goeie ouens. Meegevoel aan sy familie en vriende,” skryf die bekende joernalis Barry Bateman.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Pieter9 ·

‘n Terugslag vir S.A – ons dink aan sy mense; hy sal gemis word.

melaney ·

Baie slegte nuus! Innige simpatie aan al sy geliefdes en vriende.

Kokerboom ·

Groete aan ‘n reus in SA ekonomie. Ons gaan jou as persoon en jou goed beredeneerde ekonomiese insigte mis. Rus sag!!!

Samuel ·

Baie hartseer nuus. Hy was een van die min mense wat ek kon verstaan, wanneer dit by die ekonomie gekom het. Rus in vrede en meegevoel met sy naasbestaandes.

Watsenaam ·

SA het n reus verloor. n Man met sy gawe sal moeilik vervang word. Rus in vrede ou grote, ons sal jou mis. My innige simpatie aan sy vrou, Greta Moodie en ander naasbestaandes.

Genis ·

Dis nou baie slegte nuus… Ons innige simpatie vir die naasbestaandes en vriend.. Ons het n Grootte verloor…

annie ·

Groot skade! Sy kop was reg aangeskoef. Sy slim raad geminag. ‘n Nice ou het ons verlaat.

piet ·

Dis jammer, ‘n verlies. Dis inderdaad so dat hy die gawe gehad het om ekonomiese aangeleenthede op ‘n vereenvoudigde wyse oor te dra aan die man op straat. Ek het ‘n rekeningkunde lektor op universiteit gehad (‘n baie slim man, sal liewers nie sy naam se nie). Laasgenoemde kon myns insiens nie iets behoorlik verduidelik aan die gemiddelde student nie. Hy was so lief daarvoor om so 3 oplossing vir dieselfde probleem te gee. Die probleem is net dat die gemiddelde student nog nie eers die eerste oplossing begryp nie dan gaan hy al aan na sy 2de en 3de metode van doen. Ek dink net die heel top studente kon by sy manier van klas gee byhou.

TRP ·

Inderdaad, ‘n groot boom het geval. Hy was ongelooflik op sy gebied. Jammer aan die familie. RIV.

Wondermaarnet ·

Dit is baie slegte nuus. Hy was ‘n uitstekende ekonoom.

TO ·

Groot verlies, selfs ek wat ‘n ekonomiese leek is kon dinge verstaan wat Mike verduidelik het. RIV

Jakes ·

Nog n groot reus in die ekonomie wat gaan rus het. Ons innige simpatie met sy fsmilie en vriende.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.