Mike Schutte se seun sterf op 34

Michael Schutte en sy vrou Elizabeth (Foto: Verskaf)

Deur Reza Coetzee

Michael Richard Schutte (jr.), die seun van die legendariese swaargewig-bokskampioen Mike Schutte, is vanoggend op die ouderdom van 34 jaar in die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg dood.

Hy laat sy vrou, Elizabeth, en hul twee kinders, Seth (8) en Michaela (3), agter.

Volgens Schutte se halfsuster, Dalene Schutte-Louw, het Michael vroeër vanjaar twee baie groot beroertes gehad en die afgelope paar maande het hy gesukkel om volkome daarvan te herstel.

Elizabeth het aan Maroela Media vertel hy het Maandagoggend (21 Junie) wakker geword, sy kop vasgegryp en geskree dit voel of sy kop gaan bars. Daarna het hy sametrekkings begin kry wat gelyk het soos ʼn epileptiese aanval.

“Omdat hulle nie ʼn mediese fonds het nie, het hulle vir ʼn staatsambulans gebel, maar niemand het opgedaag nie en nadat hulpkrete op WhatsApp uitgestuur is, het vriende en familie geld bymekaargesit sodat hulle hom met ʼn privaat ambulans na die Helen Joseph-hospitaal kon neem. Daar is hy opgeneem en aan ʼn ventilator en masjiene gekoppel. Die dokters het egter bevind Michael het ʼn aneurisme in sy brein gehad en hy is Dinsdagoggend dood verklaar,” sê Schutte-Louw.

Volgens Schutte-Louw het haar halfbroer sy lewe lank ʼn baie moeilike stryd teen dwelmverslawing gestry. Hy het verlede jaar as gevolg van Covid sy besigheid in Hartbeespoort verloor en April weer ʼn terugslag met dwelms gehad. Die beroerte het kort daarna gevolg.

“My boetie was ʼn baie dapper en moedige mens. Hy het moeilike kinderjare gehad en sy ma het hom basies alleen grootgemaak – hy het nie regtig ʼn goeie verhouding met ons pa Mike gehad nie en ongelukkig het hy op ʼn jong ouderdom met die verkeerde mense deurmekaar geraak en dwelms begin gebruik. Dit was danksy pastoor Peter Pugh by die Redemption Christian Healing Centre dat Michael weer sy lewe teruggekry het en hy het self baie nou by die sentrum betrokke geraak en ander mense help red van verslawing.

“Soveel mense het my vandag reeds gebel en vertel watter groot verlies Michael se dood is, want hy het hulle van dwelmverslawing help genees.”

Michael en sy vrou, Elizabeth, het albei in die bediening gewerk.

Elizabeth het op die oomblik geen inkomste om van te lewe nie en ʼn weldoener, die sakeman Louis Liebenberg, het aangebied om vir Michael se begrafnis te betaal. “Ons familie is hom ewig dankbaar en dis wonderlik dat daar nog sulke goeie mense hier op aarde is.”

“Ek en Mike het vroeër jare saam daar in Germiston by die Primrose Hotel gesing en hoewel ons net kennisse was, kan ek mos nie my rug op sy kinders draai as ek weet hulle sukkel nie,” het Liebenberg gesê.

Mike Schutte se ander seun, Pieter Schutte, het homself in 2013 met ʼn jaggeweer doodgeskiet. Mike is op 14 Julie 2008 dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Misky ·

So hartseer en soveel terugslae die familie al getref. Meegevoel met almal wat agtergelaat is

Bushy ·

En dan dink ons ons het probleme totdat ons van ander se probleme en lewensverhale hoor.
My probleme lyk nou maar netelig na die berig.
Sterkte vir die familie.

Martie ·

Voel bitter jammer vir die mense, half sussie dit was nie nodig om die dwelms te noem nie dit het niks met niemand uit te waai nie!

Sterkte aan almal betrokke.

haimish ·

Stem saam dis nie nodig gewees om dit uit te wys nie. Innige meegevoel aan familie en vriende.

Althes ·

Dalk het sy aangeneem baie weet van sy dwelmmisbruik.
Dwelmmisbruik en gebruik is skriwekkend hoog onder jongmense.

Phillip ·

Rus in vrede my liewe vriend. Jou stryd 8s nou verby. Jy was n rots vir baie. Jy skuld my nog n koppie koffie. Gaan jou mis

Vicky ·

Sterkte aan die naas bestaandes…maar was dit regtig nodig om die man se stryd met dwelms te opper in ñ tyd van rou? Drugs neuk jou liggaam behoorlik op en dit hèt 10/1 by gedra tot baie van sy mediese probleme,maar dit was onnodig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.