Die Thaba Tshwane- militêre basis in Valhalla, Centurion, moes nes talle inwoners in die omgewing, reeds vyf dae lank sonder enige elektrisiteit klaarkom.
“Soldate wat by hierdie basis geplaas is, is tans reg oor die land ontplooi terwyl hul gesinne tuis in die koue en donker gestrand gelaat is,” het Cilliers Brink, die DA se woordvoerder oor samewerkende regering en tradisionele sake, Woensdag in ʼn verklaring gesê.
Volgens Brink word meer as ʼn duisend mense tans deur die kragonderbreking geraak. Die DA wil nou weet watter staatsentiteit die probleem gaan oplos.
“Alhoewel die verwaarlosing van fasiliteite en infrastruktuur by Thaba Tshwane niks nuuts is nie, is dit onduidelik of hierdie vyf dae lange kragonderbreking die verantwoordelikheid van die Stad Tshwane of die departement van openbare werke is,” verduidelik hy.
Luidens die verklaring voorsien die Stad Tshwane elektrisiteit aan die Thaba Tshwane-kragstasie. Die departement is egter verantwoordelik vir die instandhouding van die kragnetwerk.
Maroela Media het intussen verskeie klagtes oor dié kragonderbrekings vanaf inwoners van Valhalla ontvang. Dié inwoners is letterlik in die duister gelaat, aangesien daar nog geen rede vir die kragonderbreking verskaf of aanduiding gegee is oor wanneer hulle weer elektrisiteit gaan hê nie.
Dit lei tot groot frustrasie onder inwoners wat te midde van die algehele landwye afsondering noodgedwonge van die huis af moet werk.
Volgens Brink sou die DA vandag ʼn skrywe aan die minister van verdediging, die minister van openbare werke en die Stad Tshwane se provinsiale administrateur rig, waarin versoek word dat die elektrisiteit by Thaba Tshwane herstel word.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
9 Kommentare
Ek kan darem nou dat van ons wat in Valgalla woon weer krag het maar daar is nog dele wat nie het nie. Dit is net onaanvaarbaar dat dele van Valhalla, wat ‘n gewone woonbuurt is nou moet lei onder DOW, wst staat is. Hoekom COT nie al lankal vir ons af ons eie kragboks of wst hulle dit noem voorsien het nie, weet nugter. As daar iewers aan TT se krag gewerk word of hulle het probleme, affekteer dit ook’ n groot deel van Valhalla en ons kry nooit antwoorde nie.
Eish, donker Afrika.
Danksy anc regering se onvermoë
Dit is ook Nag Middernag en dit word nog donkerder weens die briljante regering; wat alles in bollie laat verander
Wonder wat die regering gaan doen as die Swazilandse vloot en die Lesotho Lugmag ons gaan aanval? Behoede ons daardie dag. Ou Afrika storie, as jy gaan leeus jag, sorg net dat jy vinniger as jou maatjies kan hardloop.