Militêre man wat vrou glo skiet verskyn in hof

Carine van Staden. Foto: Via Facebook

Die militêre beampte wat na bewering vir Carine van Staden (28) in Augustus in die noorde van Pretoria ten aanskoue van haar verloofde geskiet is, verskyn na verwagting Donderdag vir die eerste keer in die hof.

Maroela Media het vroeër berig Carine en haar verloofde, Johan Harmse (29), was op 10 Augustus omstreeks 18:00 van Daspoort, waar hulle woon, op Harmse se motorfiets op pad na vriende in Montana toe ʼn amptelike weermagvoertuig Harmse se motorfiets skrams getref en weggery het. Die paartjie het hom agterna gesit en by ʼn verkeerslig voorgekeer, waarna hy Carine glo op ʼn kort afstand in haar linkerbors geskiet het. Die man het daarna glo ook sy vuurwapen op Harmse, wat nog op sy motorfiets was, gerig voordat die verkeerslig groen geword en hy weggery het.

Die weermaglid, vermoedelik ʼn motorbestuurder vir ʼn generaal, het glo aan die Sinoville-polisie gesê hy het gemeen hy word gekaap.

Aanvanklik is ʼn klag van die afvuur van ʼn vuurwapen in ʼn openbare gebied asook roekelose en nalatige bestuur teen die weermaglid aanhangig gemaak voordat hy op waarskuwing vrygelaat is. Die saak is intussen na poging tot moord verander en die man het in September kennis van die Nasionale Vervolgingsgesag ontvang om in die hof te verskyn. Hy is nooit in hegtenis geneem nie.

Van Staden moes intussen talle operasies ondergaan om haar wond te behandel en sy sterk tans tuis aan.

“Sy is Maandag terug hospitaal toe vir ʼn opvolgbesoek en om weer X-strale van haar long te laat neem. Dit lyk nog maar dieselfde, maar haar dokter was tevrede en het gesê dit is nie in dié stadium nodig om weer ʼn operasie uit te voer nie. Hulle gaan oor ʼn maand weer toetse op haar doen waarna hulle oor verdere behandeling sal besluit,” het Johan van Staden, Carine se pa, Dinsdag aan Maroela Media gesê.

Hy het gesê Carine ervaar nog baie pyn. “Sy is uiters gefrustreerd. Sy kan nie werk nie en word vinnig moeg want net die helfte van haar long werk. Sy is nou besig met fisioterapie en ons hoop en bid net dat sy gou ten volle sal herstel.”

Van Staden het gesê die gesin en Harmse fokus nou net op Donderdag wanneer die weermaglid vir die eerste keer ná die skietvoorval op 10 Augustus naby Wonderboom Junction, in die Pretoria Noord-landdroshof gaan verskyn op aanklag van poging tot moord.

“Ek hoop inwoners kom ondersteun ons Donderdag by die hof om te betoog dat daar daadwerklik teen die man opgetree word. Lyk my dit is al wat werk. Ons hoop dat die regstelsel regverdig sal optree en dat reg sal geskied,” het Van Staden gesê. Van Staden het aangedui dat Carine nie die hofverrigtinge gaan bywoon nie.

Die Vryheidsfront Plus asook die burgerregte-organisasie AfriForum het in Augustus gesê dit is kommerwekkend dat die strafregstelsel tans in sommige gevalle met dubbele standaarde toegepas word wat rassisme skep en bevorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pop ·

Ag asb mense wat naby woon, gaan betoog tog teen die man wat waarskynlik nog loop en grootpraat ook, dat hy nog buite rondloop.

Pop ·

Wens ek was naby , dan was ek daar. Sterkte Mnr van Staden. Hoop om te hoor van n siviele eis teen staat.

Callie ·

Ek vra dit ook. Gaan ondersteun. Waarom is Gerrie Nel nie hierby betrokke nie. Ek dra by vir Afriforum. Mense moet besef die saak is n waterskeiding. As die ou hier gaan uitloop is dit totaal verby vir witmense in howe. Kan Afriforum nie reel vir ondersteuning en vir Gerrie Nel nie. Mense, asb gaan ondersteun, sou daar gewees het maar is 400km weg

hantie ·

Ek verstaan nie, MM – die voorval het in Augustus gebeur…..hulle was 10 Oktober ( vandag die 5 de Okt) oppad met die motorfiets??

Dalene de Vente ·

Dagsê Hantie

Dankie vir jou valkoog. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Dalene
nms. Maroela Media

Sies ·

EN hy is nie in hegtenis geneem nie, hy het iemand trompop geskiet. Die KFC manne het nie eers borg gekry nie, terwyl hulle NIEMAND geskiet het nie, hoe siek is die regstelsel deesdae? Hierdie man wat ‘n jong meisie geskiet het vir geen rede nie, mag heerlik by die huis sit en wag vir die volgende verskyning … die wit manne sit in die tronk. Wanneer gaan hierdie onregverdigheid aan ‘n groot klok gehang word? Mense het teen apartheid en onregverdigheid geveg vir jare, maar toe dit OMGEDRAAI word is dit heeltemal reg in almal se oe. Ek vra ook waar is GERRIE NEL? Hoekom help hy vir ENGELS maar nie hierdie dame om geregtigheid te laat geskied nie? SUE die man in sy persoonlike hoedanigheid vir pyn en lyding .. hy is niks anders as ‘n krimineel nie wat beskerm word deur sy uniform.

Louis ·

Hoekom sê die opskrif en die berig dat die man haar “glo” en “na bewering” geskiet het? Is dit dan nie ‘n vasgestelde feit dat hy haar geskiet het nie?
Ek sê ook; kry vir Gerrie Nel of enige uitstekende regskenner om die dame se saak te vat en seker te maak die man wat haar geskiet het word vir baie jare toe gesluit vir poging tot moord.

Hans ·

As hierdie ou vry gaan wees ,dan gaan al wat n blanke wat motorfiets ry n kort afgesnyde twaalfboor haelgeweer moet aanskaf.Die voorval is tragies en ek hoop sy herstel volkome terwyl die gemors in die tronk is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.