Militêre oefeninge ‘diplomatieke misstap’

Die Russiese oorlogskip Admiral Gorshkov aan die Chinese kus in 2019 (Foto: STR / AFP) / China OUT)

Gesamentlike militêre oefeninge tussen Suid-Afrika, China en Rusland neem Vrydag ʼn aanvang langs die KwaZulu-Natalse kus en kenners beskryf Suid-Afrika se deelname hieraan as ʼn “diplomatieke misstap”, wat die land later duur te staan kan kom.

Dié operasie genaamd Mosi ll – die Tswana‑woord vir “rook” – vind tussen Durban en Richardsbaai plaas en is ʼn herhaling van die gesamentlike oefeninge wat in 2019 tussen die drie state plaasgevind het.

Die 10 dae lange oefeninge oorvleuel egter met die eenjaarherdenking van Rusland se inval in Oekraïne, wat groot omstredenheid ontketen het.

“Onder normale omstandighede sou ʼn mens nie die Suid-Afrikaanse regering kon verkwalik nie, maar die tydsberekening kompliseer sake,” sê prof. Theo Neethling, hoof van politieke studies en regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat.

Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging, sê dit is sonder twyfel ʼn diplomatieke misstap. “Buiten die tydsberekening, is dit duidelik dat Rusland én China iets hiermee wil bewys. Rusland wil vir die Weste wys dat sy bande met China ʼn jaar ná die oorlog sterker as ooit is en dat sy militêre invloed besig is om in Afrika uit te brei.

“Vir China gaan dit daaroor om te wys dat hy nie geïsoleer is nie. China het ook die afgelope jare daarop gefokus om sy militêre kapasiteit uit te brei – hy is tans in onderhandelinge met Wes-Afrika-lande om ʼn militêre basis aan die weskus van Afrika te vestig,” sê Kleynhans.

Neethling stem saam dat Rusland sy spiere wil bult. “Die Russe wil ʼn hipersoniese missiel afvuur. Dit is van die mees gevorderde tegnologie in die wêreld. Die Amerikaners het maar einde verlede jaar vir die eerste keer hul supersoniese missiel suksesvol getoets.”

Kleynhans verduidelik verder daar is vir China sowel as Rusland groot simboliek aan hierdie oefening, eerder as wat daar groot militêre waarde daarin steek. Dit sou volgens hom veel meer sin gemaak het indien dit in die Stille Oseaan-gebied van Asië plaasgevind het.

“Deur Suid-Afrika as ligging te gebruik, bevestig Rusland en China albei watter invloed hulle in Afrika het. Hulle gebruik Suid-Afrika – steeds die mees invloedryke land in Afrika – as ʼn useful idiot,” sê Kleynhans.

Steeds verblind deur ideologie

Neethling meen ook dat Suid-Afrika nóg militêre voordeel nóg politieke kapitaal uit hierdie oefening kan trek, wat die ideologiese ondertone daarvan uitwys.

“Daar is vir Suid-Afrika nie ʼn ekonomiese, geo-politieke of veiligheidsoorweging waarom ons sterk bande met Rusland moet hê nie. Die rede kan eintlik net ideologies wees,” stem Kleynhans saam.

Die Suid-Afrikaanse regering het volgens Kleynhans steeds hierdie inherente weersin in Amerika en die Weste, terwyl hulle ʼn romantiese beeld van China en Rusland se ideologieë koester.

“Nou word hierdie samewerking elke keer oor die boeg van Brics-samewerking gegooi, maar Brasilië slaan ʼn ander rigting in. Brasilië is baie versigtiger met hul posisionering wat die oorlog betref en gaan nie nou in ʼn militêre oefening in Suid-Amerika saam met China en Rusland betrokke raak nie,” sê Kleynhans.

Hy meen Suid-Afrika kon eerder vir uitstel gevra het.

SA gaan boet vir dwaasheid

Kenners meen dat Westerse lande Suid-Afrika se voortslepende diplomatieke dwaasheid sonder twyfel gaan straf. Amerika en die Europese Unie verteenwoordig saam meer as 50% van Suid-Afrika se uitvoere, wat hulle noodsaaklike handelvennote maak. Daarenteen het Suid-Afrika weglaatbare handelsbande met Rusland en ʼn groot handelstekort met China.

“Suid-Afrika voer meer produkte uit na Lesotho en Zimbabwe as na Rusland. Indien ons handelsbetrekkinge met Rusland vandag wegval, sal ons ekonomie môre soos normaal voortgaan. Ons verhoudinge met Rusland hou veel groter risiko as voordele in,” waarsku Kleynhans.

Die Suid-Afrikaanse regering se ideologiese blindheid hou ook groterwordende risiko’s vir sy diplomatieke en handelsbande in.

Neethling meen dat Suid-Afrika ten beste ʼn louwarmverhouding met sy belangrikste handelsvennote in die Weste het.

Kleynhans sê die Suid-Afrikaanse regering het geen sensitiwiteit vir hul verhouding met die Weste nie. Suid-Afrika het van sy kant af geen poging aangewend om die verhouding met Amerika en Europa te verbeter, of selfs eers in stand te hou nie.

Daardie venster is volgens Kleynhans besig om toe te gaan.

“Europese parlementslede is eerlik oor hul ongemak en bekommernis oor Suid-Afrika se politieke bande. Hulle voel dat Suid-Afrika op diplomatieke vlak in die verkeerde rigting beweeg. Die goeie guns van die Weste is besig om op te droog.”

Neethling sê ook: “Alles wat hier gebeur, dui daarop dat Suid-Afrika te veel van ʼn pro-Russiese ingesteldheid het wat die Westerse lande ongemaklik maak.”

Verder is daar volgens Kleynhans groot negatiwiteit oor waarom handelsooreenkomste meer gunstig aangepas of selfs hernu moet word met Suid-Afrika.

“Die Republikeine, wat nou die huis van verteenwoordigers in Amerika oorgeneem het, se lede op die Afrika-subkomitee vra ernstige vrae hieroor. Daar is ʼn verskriklike negatiwiteit oor verhoudinge met Suid-Afrika.”

Kleynhans meen Suid-Afrika kan die diplomatieke balanseertoertjie tussen verhoudinge met Amerika enersyds en China en Rusland andersyds beter hanteer.

“Lande soos Brasilië en Meksiko is die lande waarmee ons ons moet vergelyk wat dit betref. Daar is ʼn manier waarop jy die spel kan speel waar dit vir almal aanvaarbaar is.”

“Ons is reeds vinnig besig om in die kolom van muishondlande binne Westerse denke ingesluit te word, wat groot ekonomiese risiko’s vir Suid-Afrika inhou,” sluit Kleynhans af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Danie ·

Vir die afgelope 100 jaar was niemand (behalwe 1-10% van die bevolking) beduidend bekommerd omdat die ANC, China en Rusland bondgenote was nie.

Ek is nogal seker die ANC gaan hulle nie skielik steur daaraan nie.

Adriaan ·

Ek hou op lees wanneer ek die woord “kenners” sien. Dis soos statistieke: jy kan bewys net wat jy wil.

Nie Verbaas ·

Dit hang af wie die kenner is. Daar is persone wat werklik kenners is en dan is daar die wat hulself vertel dat hulle kenners is soos die swart dame wat haarself as n kragkenner beskou.

Samuel ·

Hierdie politieke/diplomatieke kenners weet waarvan hulle praat. Buitendien is hulle nie lakeie van kommunistiese lande of die ANC nie.

TruthDealer ·

Die Westerse lande voel in elk geval n veer vir SA. Ons was nog altyd die muishond. Voor ’94. In die Mandela era was ons vir n tydjie die “Rainbow Nation” en liefies vd wêreld, want dis was mos wat hulle wou hê. Toe hulle begin sien en hoor dat hulle n ramp veroorsaak het met hul Inmenging, toe vergeet hulle weer van ons. As die Westerse lande Enigsins omgegee het vir SA en Suid Afrikaners, sou hulle lankal en daagliks gepoog het om hierdie ANC gedoemde land te help red. Maar nee, niks hulp, niks genade, skaars enige aandag. Nou is ons weer in hul oë die muishond? So kyk nou ook maar verby, Weste!! Of moet ons boere besluit om alle kos vd uitvoermark te weerhou, elke keer wat Amerika of n Europese land, n militêre oefening doen en dit val naby die 27ste April? Die datum waarop SA GESTERF het?? Deur die Weste se direkte inmenging!

Truman Burbank ·

Jammer. Die “boere” het geen keuse nie. Al ons goeie produkte word uitgevoer. En dit wat op die rakke is, was in die 70’s varkens kos genoem. So die boere kan niks besluit nie. Voor 94 was daar ontsaglike “druk” op SA? Waarom? Want SA het iets van waarde vir hulle. Wat weet ons nog nie.

Nie Verbaas ·

Hoe kan enige iemand van enige persoon in ons regering verwag dat hulle moet dink aan nagevolge as die vermoë nie daar is nie? Muishondland perfekte beskrywing.

Eugene ·

Wat van ” minister van diplomatieke misstappe”? Ramp-phosa moet dit oorweeg.

Faraway ·

Vriende met die Rusland & China wat later aan die hakskeen gaan byt

Di ·

Net so! Hierdie klomp is die wat so baie geld aan SA leen. Sodra Rampie nie meer sy skuld terug kan betaal nie, kom vat hulle wat hulle toekom

Mariana ·

Ongelukkig is SA se regering blind en doof vir waarskuwings en ongelukkig dra hulle nie die landsburgers se belange op die hart nie. Op die ou end is dit dan ook die burgers wat die prys gaan betaal, is ons nie maar altyd nie. Die ANC het nou al oor en oor bewys dat hulle nie goeie besluite in landsbelang kan….of wil neem nie.

Althes ·

Dit is ñ growwe flater vanaf ons ANC regering. Aan die een kant staan hul bakhand en bedel by Westerse en Europese lande en aan die ander kant maak hul hul piepklein lyfie styf soos ñ generaal met oefeninge met sjina en rusland.
Ek dink hul oorskat hul waarde.

Prikkie ·

Dit is seker maar net ons 44 Afrikaanssprekendes wat die gevaarligte sien.

Adriaan ·

Maak dit 43 want al gevaarligte wat ek sien is westerse liberalisme. Dinge soos wokeness, 47 geslagte en die gepaardgaande pronouns asook die normalisering van onnatuurlike leefstyle.

annie ·

Nee, maar ons moet aanhou kruip by die VSA. Hulle het al so baie vir SA gedoen soos bv sanksies teen die vorige regering ingestel om boedel oor te gee. En toe luister ons. En toe… Kyk hoe goed gaan dit nou in SA. En natuurlik moet die DA bedank word… Veral vir John en sy liberales wat onlangs vir Zolly-boy gaan kuier het om te leer hoe mens verder moet kruip by Biden ons New Age-oupa.

Nie Verbaas ·

VSA, Engeland en Europa te bly as Afrika kripeer en dieper in skuld in verdwyn. Ramapokker het n massiewe probleem met wittes maar gaan kruip op sy knieë by wit lande vir geld.

Fran ·

‘Rook’…..ek lag my ‘n papie! Seker omdat die weermag deesdae net rookseine kan stuur!

Barend ·

As Amerika nou eers ‘n supersoniese missiel getoets het is hulle baie, baie vêr agter.

Manie ·

Ek dink hulle is baie bekommerd, want Rusland, China en Noord-Korea het hulle so stil stil bekruip.

Matmiet ·

Die ANS gaan nooit vir die russe nee sê terwyl die meeste van hulle inkomste kom van die mangaan myn wat hulle saam met die russe besit nie….

Henk ·

Of ons nou pelle of vyande met VSA, NAVO, Rusland, China en alle ander is maak geen verskil nie. SA is in elk geval gedoem. Ons eie grootste vyand blyk toe onsself te wees.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek voel vir die weste soos ‘n moeder, maar hulle het die rug op Afrikaners gedraai.

gatgogga ·

Sal Rampaphosa nie bly wees as die Weste sanksies teen RSA instel nie! Dan kan die ANC vir ewig die sanksies die skuld gee vir hierdie land se ellendes.

Strandloper ·

n Dapper wyse van die anc om hulself in die voet (kop) te skiet

capie ·

En met sulke vriende van die ANC dink die DA hulle sal die regering met ‘n verkiesing kan oorneem. HA Ha Ha Ha

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.