Miljard in toerismebedryf reeds verlore weens paniek oor Omikron

tafelberg

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse toerisme- en gasvryheidsbedryf het sedert Vrydag reisbesprekings ten bedrae van meer as R1 miljard verloor. Die besprekings is vir reise tussen Desember en Maart aanstaande jaar gemaak.

Paniek het uitgebreek ná Suid-Afrika se aankondiging oor die teenwoordig van ʼn nuwe Covid-19-variant wat Donderdag gedoen is. Talle lande het ’n dag later hul grense vir Suid-Afrikaanse reisigers toegeklap.

Die nuwe variant is sedertdien in ander lande ook aangemeld.

Die Gasvryheidsvereniging van Suid-Afrika (Fedhasa) en die Suid-Afrikaanse Toerismedienstevereniging (Satsa) het ʼn blitsopname onder meer as 600 toerisme-ondernemings gedoen om die moontlike verliese van die beperkings te bepaal.

Die opname het aan die lig gebring dat indien die reisverbod in plek sou bly, ʼn verwagte 78% van besprekings waarskynlik gekanselleer gaan word.

Sowat 205 000 werksgeleenthede in die bedryf kan boonop geraak word.

“Die uitwerking van hierdie ondeurdagte reisbeperkings is katastrofies vir ʼn bedryf wat reeds die afgelope 20 maande sukkel om te oorleef,” sê David Frost, uitvoerende hoof van Satsa.

“Ons kan net hoop dat die wetenskap sal seëvier en dat lande binnekort die reisverbod sal omkeer. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en wetenskaplikes beklemtoon steeds dat reisbeperkings nie ʼn doeltreffende maatreël is om die verspreiding van die virus te bekamp nie.”

Rosemary Anderson, nasionale voorsitter van die Gasvryheidsvereniging van Suid-Afrika (Fedhasa), meen die onmiddellike prioriteit van die gasvryheidsbedryf is om binnelandse toerisme oor die feestyd te beskerm.

Die vereniging werk hiermee nou saam met Lindiwe Sisulu, minister van toerisme, en het verlede jaar al alternatiewe reëlings vir die beperkings oor Desember ingedien.

SANParke het intussen die afgelope naweek aangekondig dat hy gereed maak vir massakansellasies weens die bevestiging van die Omikron-variant.

Maroela Media het vroeër berig SANParke sal geen geld of boetes hef vir wysigings of vir die uitstel van besprekings vir ʼn tydperk van 12 maande vanaf 26 November tot die reisverbod opgehef word nie. Dit geld vir klante wat reeds vir hierdie tydperk bespreek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Shakespeare ·

Ek is baie teleurgesteld in die ANC. Hulle is skelm en korrup tot op die been. In hulle aard moes hulle nooit die “omikron” virus verklaar het nie. Hulle moes eers die kat uit die boom gekyk het……nou vlieg daar weer miljarde in die see in. Wanneer hulle moet lieg, vertel hulle die waarheid en andersom. :) :)

Baardman ·

Waarom iets uitblaker as jy nog nie voldoende feite het nie. Oorywerige wetenskaplikes kos die wereld weer mijarde.

Kiepie ·

En skielik vry die hele toerismebedryf weer kliphard na Suid-Afrikaners. ‘n Maand terug was hul prys onbekostigbaar vir enige persoon wat in Rande betaal en nou vlieg die “specials” die hele internet vol.

Elmarie ·

Nogals geneig om met jou saam te stem. Jammer dat mens die invloei van buitelandse kapitaal nie gaan kry nie maar ja, tyd dat ons eie mense in ag geneem word met goeie pryse EN diens

Blikkies ·

Ek gaan seker nou ge-judge, jury en execute word? Maar hoekom breek paniek uit in die Kaap se gasvryheids bedryf of enige ander gasvryheids bedryf in die land? Julle is almal nou bang want julle oorsese gaste met die Dollars, Ponde en Euros, kan julle nie nou meer ryk maak nie. As ons gebore burgers by julle plekke wil aanklop moet ons julle buitesporige oorsese pryse betaal! Ons kry nie afslag omdat ons burgers van die land is nie. As julle ons sal toelaat met n ‘local’ prys kan ons eie mense julle dalk verras en aan die lewe hou? andersins, kry maar vir julle…. Dan moet ek nog hoor ‘n wilds boer laat slegs oorsese klante toe op sy plaas, want ons suid afrikaners het nie geld nie……

Johan ·

Dit is die oorsee se geld wat dit moontlik maak vir baie van die plekke om te bestaan, en jy kan dit ook gebruik. Sonder ons toeriste sal baie fasiliteite eenvoudig nie meer met ons wees nie.

Rainer ·

Blikkies ek is geskok met jou uiteringe. Nes mens duur/goedkoop kruidenierswinkels en klerewinkels kry so ook kry mens verskeidenheid restaurante, gastehuise ens wat vir elke sak gepas is. n Stel egte leerskoene is ook duurder as n stel skoene wat uit plastiek gemaak is weens die duursaamheid van die eindproduk. So ook gaan n restaurant wat die best gehalte produkte gebruik duurder wees as die restaurant wat lae gehalte produkte gebruik . Dit klink vir my jy wil vir stokvis betaal en dan kaviaar kry, dan moet die eienaar jou maar subsidieer of sy duere sluit. Die oorhoofse kostes van n restaurant of lodge/gastehuis is belaglik hoog. Indien jy dink wat jy betaal is alles profeit is jy baie naïef en behoort jy jouself eers bietjie wys maak van die gasteindustrie voor jy sulke komentaar lewer.

Anoniem ·

Ongelukkig volg “Jan Alleman se plekke” nou die “Bo Gemiddelde plekke” se pryse en raak gemiddelde akkommodasie en eetplekke se pryse nou onbekostigbaar vir plaaslike mense. Ek verstaan die gehalteverskil ten volle, maar daar kan gerus ‘n lokale prys wees vir Suid-Afrikaners. Dit lyk egter eerder of sommige plekke eerder nie besigheid sal doen nie, as om hul pryse effens te verlaag vir plaaslike besoekers.

Blikkies ·

As my Rand nie goed genoeg is vir hulle nie, sluit maar julle deure.

msp ·

Stem volkome saam met jou blikkies, niemand kon dit beter gestel het nie.

Henri ·

‘Miljard in toerismebedryf reeds verlore weens paniek oor Omikron’.

Ek kry ‘n absolute pyn as daar ‘n syfer genoem word sonder ‘n eenheid. ‘n Miljard wat? Rand, kilogram, liter of meter? In die media sal ook sommer gepraat word van ’18 punt 7 miljoen’ sonder ‘n eenheid.

Daarsy. Dis nou uit my hart uit.

Genis ·

Dis omdat hulle onbevoeg is, weet nie eers wat dit is, dan die wereld in verkondig!

Elize ·

Ek wens die hele wereld wil besef ons het ‘n nuwe tydperk bereik. Pandemies en epidemies gaan deel van ons bestaan word en as alles dadelik toe gemaak gaan word gaan die wereld vinniger vergaan en ons uitsterf want daar sal geen kos beskikbaar wees nie. Ons weet mos nou al lankal ellendes en pes gaan ons tref.

Owlie ·

Onnodige aanhitsing van vrees is nie net nadelig vir ons reeds verwoeste economies en toerisme bedryf nie maar ook n groter gevaar as covid vir die gesondheid van die men’s en die opbou van ons reeds vervalle vertroue in die wat veronderstel is om vertrou te word

Eden ·

Dan proffie van Skelmbos het miljarde se skade veroorsaak. Heel moontlik meer as Julie se selfhelp inkopies in Durban. Wat is sy agenda?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.