Miljarde gemors op mislukte proeflopie vir NGV

Argieffoto (Foto: DarkoStojanovic, Pixabay)

Die regering se voorgenome Nasionale Gesondheidsversekeringsplan is reeds in die intensiewe sorgeenheid al is dit nog nie eens van stapel gestuur nie.

Die besonderhede wat vervat is in die verslag oor die loodsprojekte wat uiteindelik deur die nasionale gesondheidsdepartement vrygestel is ná langdurige en volgehoue druk van die DA, wys dat dit min of meer absoluut rampspoedig was en reguit op pad is na volkome mislukking.

Gegewe die verdoemende inhoud is dit miskien nie verrassend dat die ANC en die regering elke jakkalsdraai in die boek gegooi het om met die sak patats vorendag te kom nie.

Eerstens is daar min tasbare kwalitatiewe en kwantitatiewe doelwitte gestel vir die loodsprojekte, wat dit onmoontlik maak om sukses of mislukking empiries-wetenskaplik te meet, wat op sigself onbekwaamheid in die ergste graad verteenwoordig, gegewe dat die loodsprojek nie minder nie as R4 miljard kos met die doel om te kyk hoe en of die voorgestelde stelsel werk. Met geen meetsnoer om sukses en mislukking te meet nie, is die sin van die besteding ten beste onduidelik en ten ergste nie-bestaande.

Die verslag waarop die regering en die ANC so lank gesit het, bevat skrikwekkende besonderhede oor hoe ongekoördineerd en onbepland daar opgetree is, hoedat daar basies geen kontrole, beheer of deursigtigheid was oor hoe die enorme bedrag geld bestee is (as dit wel bestee is, alternatief wat daarvan geword het) nie.

Trouens, die miljarde rand, en dit vir net elf projekte, was óf te min, óf baie daarvan het weggeraak, om dit lig te stel.

Omdat die geld op een of ander wyse opgeraak het, is vakante poste gevries so daar is geen aanduiding of die beplande posstruktuur sou werk nie, aangesien dit weens die vermiste/onderbegrote geld nooit optimaal getoets is nie.

Die infrastruktuur wat opgerig moes word, is byna nêrens behoorlik voltooi nie weens swak beplanning en die geld wat opgeraak het, en omdat die infrastruktuur nie eens op die mees basiese wyse in stand gehou is nie, het dit reeds begin verval.

‘n Ander probleem is dat net 350 dokters tydelik aangewys is om in die elf projekte te werk, wat ‘n groot tekort verteenwoordig.

Siviwe Gwarube, onder wie se leiding die DA tot dusver die enigste party is om ‘n volledig uitgewerkte en in besonderhede begrote alternatief tot die Nasionale Gesondheidsversekering daar te stel, het gesê Zweli Mkhize (minister van gesondheid) sal deur die DA voor die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid gedaag word om verantwoording te doen oor die verstommende omvang van die mislukking.

“Benewens dat die hele konsep doodgebore en rampspoedig is, is daar veral drie sleutelvrae wat die minister moet beantwoord. Die eerste is hoe die verslag oor die loodsprojek se mislukking die inhoud van die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering beïnvloed. Die tweede is op watter gronde die kabinet ingestem het om die wetsontwerp goed te keur gegewe dat die implementering ‘n volslae mislukking was. Die derde is wie aanspreeklik gehou sal word vir hierdie mislukking, met watter straf en hoeveel geld nog op kunsmatige asemhaling vir hierdie dooie projek bestee gaan word,” het Gwarube, die DA se skaduminister van gesondheid, uitgewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Ian ·

Het ons iets anders verwag? Selfs Amerika kan hulle program nie behoorlik implimenteer nie. En met hierdie spul amateurs wat ‘n land probeer regeer. It was always going to be a disaster. En EK betaal nie daarvoor nie…..

Attie ·

Midas het als in goud laat verander. ANC verander als in riool. Slim mense soos FW, Roelfie en hul meelopers het toestemming verleen.

Gert van Wierdapark ·

Die Gans wat die vrot eiers le, slaan weer toe! Viva die a en see, viva!!!

Besorgde Suid-Afrikaner ·

Is hierdie dalk nie reeds ‘n voorspelling op onteiening sonder vergoeding nie? Dis presies die rampspoedige gevolge van ‘n sosialistiese bestel. Als val uitmekaar. Tshwane vandag (met die Baas wat in Sjina rondjakker), Eskom gister, werkloosheid 29%, krediet afgradering. Waar is die beloftes van beleggings Mnr President? Die ekonomie moet groei om voorsiening te maak vir julle droom ideale. Julle is besig om die gans dood te druk!

ne ·

Lekker ou soustrein! As anc aan iets raak is dit ‘n mislukking. R4 miljard kon al baie huise gebou het en kos voorsien het aan ouetehuise.

C VL ·

Miljarde….en dis die geld waarvoor ek en jy en elke belastingbetaler elke maand hard werk- wat SARS vat en die ANC wegsmyt met uiterse minagting van ons wat gee.

J ·

Baie makliker om te noem wat die ANC n sukses van gemaak het, ZERO, ZERO

Sarel ·

DA julle jaag wind, julle weet as hulle iets wil implimenteer sal dit gebeur. Heel moontlik om ander tekorte te verdoesel.

John ·

Hierdie grootse projek gaan deurgevoer word want die Groot Ses sè so. En met ons grense wat volgens die wense van Malema en die grootse AU gaan verdwyn sal al wat lewe of darem nog bewe hierheen opruk om hul pilletjies te kom kry. En met Eskom wat gou weer op die been gaan wees, kan ons seker wees dat die mediese dienste deurentyd gelewer gaan word en dit spotgoedkoop… Ons kan nie wag om in die lang rye te gaan wag nie.

piper ·

ja en as n 70 plus pensionaris mag ek nie meer alle mediese uitgawes aftrek teen belasting nie om die NGV te befons nie.

Dis Nou ·

My Huishulp kry maandeliks haar medikasie gratis by die kliniek. Daar’s min kere wat hulle genoeg pille het vir die maand, sy mos soms 2x gaan om genoeg vir die maand te kry – dit gaan ons voorland wees

Ekke Dink ·

En wie lees of doen iets omtrent ons klagtes, aanbevelings en kommentare wat ons hier opper?
Niemand nie. Hierdie forum is n mors van tyd, daar kom nooit iets van nie. Inteendeel maroela is dieselfde as die ANC en EFF hulle hits net aan en sweep net mense frustrasies op.

Charlie ·

Goeie visien.
Nou kort nog net
STRATEGIESE DOELWITTE
OPERASIONELE BEPLANNING.
GE-INTEGREER DE UITVOERING met DOELTREFFENDE TERUGRAPPORTERING en BEHEER.

Glo nie die Minister is HEELTEMAL op hoogte van hierdie addisionele vereistes nie.
Om ‘n goeie visie te hê is vir kaders voldoende om dit in werking te stel – “Come hel or high waters”

Anoniem ·

Casper de Vries se kommentaar hierop sou seker wees: Nie ‘n gesonde situasie nie……

A Mac ·

Meeste van ons het geweet dat hierdie kite nooit sou vlieg nie. Net jammer miljoene rande mos in die drein afgespoel word om dit te bewys. Die regering sien en hoor dinge van ander lande, eerste wêreld lande (gewoonlik), en dink hulle kan dit nadoen. En miljoene later sien almal dat dinge nie gaan werk nie behalwe die regering.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.