Miljarde nodig vir paaie in KZN

Dit sal na raming sowat R5,7 miljard kos om skade aan die padnetwerk in KwaZulu-Natal te herstel. (Foto: Twitter / Fikile Mbalula)

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Vrydag tydens ʼn mediakonferensie gesê dit sal na raming sowat R5,7 miljard kos om skade aan die padnetwerk in KwaZulu-Natal te herstel.

Dit volg nadat die minister in samewerking met ander nasionale departemente ʼn besoek aan dié provinsie afgelê het waar grootskaalse vloede die afgelope week enorme skade aangerig het.

“Daar is aansienlike skade aan groot gedeeltes van die Sanral-padnetwerk. In die voorlopige verslag van die provinsie word die skade op R5,7 miljard geraam. Die werklike koste sal bepaal word sodra die gedetailleerde kosteraming afgehandel is.”

Mbalula sê skade aan nasionale paaie in die provinsie beloop sowat R7 miljoen. Die N2-snelweg is die hardste deur vloede getref.

“Die departement sal die provinsie oor ʼn tydperk van drie jaar met bykomende finansiële hulpbronne uit die toewysing vir die instandhouding van provinsiale paaie bystaan. Ons sal ook tegniese kundigheid van Sanral gedurende hierdie tydperk benodig.”

Owerhede het vroeër gesê dat 40 723 mense reeds teen Donderdag direk deur die vloedramp geraak is.

Meer as 10 000 huise verwoes, beskadig

Dit sal na raming sowat R5,7 miljard kos om skade aan die padnetwerk in KwaZulu-Natal te herstel. (Foto: Twitter / Fikile Mbalula)

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van menslike nedersettings, het Vrydag gesê dat dié departement befondsing herprioritiseer het om R1 miljard aan KwaZulu-Natal beskikbaar te stel.

Dit sal onder meer gebruik word om gedeeltelik beskadigde huise te herstel en ongeveer 4 000 tydelike skuilings aan gesinne en families te verskaf wie se huise heeltemal verwoes is.

“Volgens ʼn voorlopige verslag van die KwaZulu-Natalse departement van menslike nedersettings is meer as 13 500 huishoudings geraak, minstens 3 927 huise vernietig en 8 097 huise gedeeltelik verwoes.”

Kubayi-Ngubane sê dat eThekwini, wat die hardste deur die vloede getref is, twee finansiële hulpbronne het wat onmiddellik tot hul beskikking is. Dit sluit R539 miljoen uit die toewysing vir die ontwikkeling van stedelike gebiede in en ʼn bykomde R134 miljoen wat onlangs vir die opgradering van informele nedersettings toegewys is.

“Ons doen ʼn beroep op eiendomsontwikkelaars en kontrakteurs wat ons gaan bystaan om vinnig te werk en gehaltewerk te lewer sodat mense wat geraak is so gou as moontlik hul waardigheid kan terugkry.”

“Geld nie ʼn probleem”

Pres. Cyril Ramaphosa het vandeesweek ook ʼn besoek aan vloedgeteisterde gebiede afgelê. Hy het intussen die versekering gegee dat “geld nie ʼn probleem sal wees” om gemeenskappe by te staan nie.

In ʼn reeks kort video’s wat Vrydag sy Twitter-blad geplaas is, sê Ramaphosa dat geld beskikbaar is en dat daar tans beraadslaag word oor die beste manier om dit aan te wend.

“Die onmiddellike prioriteit is om dienste aan ons mense te lewer. Mense het nie water nie. Ons sal watertenks beskikbaar stel waar krane en pype nie dadelik herstel kan word nie.

Dit sal na raming sowat R5,7 miljard kos om skade aan die padnetwerk in KwaZulu-Natal te herstel. (Foto: Twitter / Fikile Mbalula)

“Ons sal verseker dat mense skuiling het daar waar ons nie dadelik huise kan bou nie. Onmiddellike uitgawes is nie ʼn probleem nie, ook nie op medium- en lang termyn nie.”

Hy beskryf die gebeure in KwaZulu-Natal as ʼn “enorme, ongekende katastrofe”.

“Mense is ontwortel en het alles verloor.”

Ramaphosa sê hy het onder meer ʼn besoek aan ʼn familie afgelê wat tien familielede gelyktydig aan die dood afgestaan het.

“Dit was een van die hartseerste oomblikke wat ek as president al beleef het.”

Maroela Media het vroeër berig dat minstens 395 mense reeds dood is, terwyl talle nog vermis word.

Nog reënval word boonop oor Paasnaweek in dié provinsie voorspel, met verspreide donderbuie en sterk winde wat na verwagting Saterdag sal toeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.