Miljarde se bestellings wink, maar Denel kort kontant

Denel is besig met die inwerkingstelling van ‘n groot omkeerplan om die wapenvervaardiger weer op sy voete te kry. (Foto: Maroela Media)

Denel is besig om sy huis in orde te kry en is oop vir sake, maar die sukkelende wapenvervaardiger benodig steeds miljarde rande indien hy enigsins weer ʼn kommersiële en volhoubare entiteit wil wees.

Gloria Serobe, voorsitter van Denel se raad, en Riaz Saloojee, hoofherstruktureringsbeampte, het Donderdag terugvoer gegee oor vordering met die wapenvervaardiger se omkeerplan.

Denel ondervind reeds die afgelope paar jaar ʼn likiditeitskrisis – tot so ʼn mate dat hy tot onlangs nie werkers se salarisse ten volle kon betaal nie – ʼn situasie wat toegeskryf word aan onder meer staatskaping en swak bestuur wat die organisasie van binne uitgehol het.

Saloojee sê daar is reeds begin om ʼn omgewing te skep waarbinne Denel as volhoubare entiteit bedryf kan word en opnuut ʼn strategiese bate vir die land kan wees. Terwyl Denel tussen 2010 en 2015 in ʼn betreklik stabiele finansiële toestand was, het inkomste sedert die 2015-’16-boekjaar van R8,2 miljard tot net minder as R2 miljard in die 2021-’22-boekjaar geval.

“Ingryping was van kardinale belang; ons moes die bloeding stop en strategiese en soewereine kapasiteit behou,” sê Saloojee.

“Op ʼn praktiese vlak moet ons verseker daardie kapasiteit word gefinansier.”

In hierdie stadium het Denel ʼn bestelboek van rondom R12 miljard, oftewel ses keer sy huidige jaarlikse inkomste vir die afgelope drie boekjare. Die maatskappy het egter nie die likiditeit en kontantreserwes om die bestellings te voltooi nie.

Nóg R30 miljard se bestelling kan boonop ontsluit word – mits Denel suksesvol omgekeer word, sê Saloojee. Weens hierdie gebrek aan finansiering, sowel as die reputasieskade wat die onderneming die afgelope ruk gely het, is dit nog nie aangegaan nie.

Saloojee sê Denel kry talle navrae uit verskeie lande vir moontlike bestellings en werk nou om die toestande te skep waarbinne hierdie geleenthede benut kan word. Volgens hom het Denel ook steeds die intellektuele en menslike kapitaal om weer sy leiersrol in die verdedigingsbedryf in te neem.

In hierdie stadium is Denel se sakemodel egter een waar die maatskappy teen ʼn verlies bedryf word. Herkapitalisering en die verkoop van nie-kernbates kan op die kort termyn gate help toestop, maar die fundamentele probleem bly dat die koste van die onderneming veel meer is as die inkomste wat hy verdien.

Die enigste manier om hierdie situasie om te keer, is om Denel in die toekoms meer vaartbelyn te maak.

Serobe wou nie Donderdag uitbrei oor watter uitwerking enige herstruktureringsproses moontlik op werkers gaan hê nie en sê alle prosesse, indien nodig, sal ingevolge wetgewing gedoen word.

Uit die R992 miljoen wat onlangs danksy die uitbetaling van die oorskot by Denel se ná-aftrede- mediesevoorsorgfonds betaal is, is R318 miljoen aan die betaling van salarisse bestee.

Die wapenvervaardiger hoop ook om sowat R2,1 miljard uit strategiese bates in te vorder en sowat R190 miljoen is reeds toegewys vir bedryfskapitaal.

Denel gaan egter nog geld benodig as hy weer op sy voete wil kom en die regering se verbintenis tot die herkapitalisering van ʼn hervormde Denel moet die grondslag vir die onmiddellike toekoms vorm.

Saloojee waarsku dat Denel binne die volgende drie tot ses maande bykomende inkomstestrome sal moet begin ontsluit.

“Indien ons dit nie doen nie, gaan die geld opdroog.”

Hy sê die strategiese doelwit is om afhanklikheid van die fiskus te verminder vir die instandhouding van vaardighede.

“Ons beoog om langtermyn- strategiese vennootskappe met die plaaslike verdediging- en tegnologiesektor te versterk en ons posisie in die plaaslike en internasionale mark te verstewig. Die waarde van hierdie vennootskappe is drievoudig: toegang tot markte, nuwe tegnologie en finansiële steun.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Rudolf ·

PMP het ammunisie van wêreldgehalte vervaardig. Nou is dit onbekombaar en ons is afhanklik van invoere. Begin sommer daar.

Sobymykoolkop ·

En laat my raai, die plan is WEER reddingsboei van die belastinbetaler.

PieterJ ·

NOOIT!! “n Staatsdepartement wat geld kort, onmoontlik!!

Janine ·

“Volgens hom het Denel ook steeds die intellektuele en menslike kapitaal om weer sy leiersrol in die verdedigingsbedryf in te neem.” Is dit ‘n grap????

Carel ·

Solank as wat BEE die VOOROPGESTELDE UITKOMSTE moet wees; sal RSA net aanhou verval. Denel gaan NIE op meriete personeel aanstel nie . . . Denel gaan dus nooit weer funksioneel wees nie

Korrelkop ·

Mynsinsiens moet Denel se deure permanent gesluit word. Hulle het my (en baie andere) se lewens opgemors, so, ek hoop hulle maak vir altyd toe en kry geen verdere besigheid nie!

Frank ·

Kentron, een van die grootste diamante in RSA se ingenieursbedryf, in die grond in gery!!

Chris dupreez ·

Toe dit nog Krygkor was , was dit n reus ,en is vinnig deur die anc vernietig

annie ·

Saloojee, is ons land steeds gekaap? Wie is in beheer? Vir wie gaan ons wapens vervaardig? Iemand moet dit koop, wie? Geld van belastingbetalers om wapens vir wie te vervaardig? En die ou werkers byt vas asof dit die edelste werk op aarde is.

Wildemien ·

Herkapitalisering…….uit die staatskas natuurlik. Dan hou ons die besigheid “top heavy” met die spul wat net die soustrein ry stewig in hulle stoele. En so beskaam die hoop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.