Miljarde se landbouprodukte in gedrang weens power paaie

‘n Verspoelde pad tussen Warden en Vrede in die Vrystaat. (Foto: Vrystaat Landbou)

Agri SA se studie oor die uitwerking van verslegtende padinfrastruktuur op die bedryf skets ʼn beroerde prentjie van die enorme koste wat die swak instandhoudingswerk aan die behoorlike funksionering en groei van die sektor meebring.

Deelnemers aan die studie het die afgelope finansiële jaar landbouprodukte van gemiddeld sowat R23 miljoen per pad vervoer – wat die landwye syfer op ʼn geraamde R12 miljard vir die hele sektor te staan bring, sê Kulani Siweya, landbou-ekonoom by Agri SA.

Die studie wys boonop dat die meeste boere reeds, teen eie onkoste, self ingespring het om beroerde paaie te herstel.

Die reuseverliese wat die swak padnetwerk vir produsente en ander diensverskaffers veroorsaak, maak volhoubare produksie – en dus voedselsekerheid – al hoe moeiliker.

Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê die organisasie het Dinsdag met sy veldtog begin om die benarde situasie onder die aandag van die breër publiek – en ampsdraers wat daarmee getaak is – te bring.

Pres. Cyril Ramaphosa het in Februarie in sy staatsrede beloof dat infrastruktuurprojekte wat ekonomiese groei steun en ʼn beter lewe vir mense verseker, geprioritiseer gaan word. Daar is ʼn besonderse fokus op paaie, energie en waterbestuur.

Die president het in sy toespraak verwys na verskeie projekte wat reeds van stapel gestuur is om landelike paaie op te knap, maar tot dan spring boere noodgedwonge self in.

Boere spring self in – teen groot koste   

Die slegte paaie het ook ‘n uitwerking op landelike veiligheid. Hier word daar gespook om ‘n polisievoertuig in die Noord-Kaap weer op koers te kry. (Foto: Agri SA)

Agri SA se omvattende navorsing oor die padnetwerk wys altesame 96% van diegene wat aan die navorsing deelgeneem het, het reeds self herstelwerk aan die staat se paaie gedoen.

Produsente bestee gemiddeld R200 000 per jaar hieraan. Vir groot boere is dit dalk nog haalbaar, maar vir die gemiddelde produsent is dit ʼn reusehap uit sy begroting. Hulle het egter geen ander keuse nie – nie as hulle lewensverlies wil voorkom en hul produkte in een stuk by die mark wil kry nie.

Willem van der Walt, verbonde aan Agri Limpopo, en ʼn boer van die Springbokvlakte naby Settlers, sê die landbousektor het die afgelope twee jaar onder geweldige druk steeds ʼn uitsonderlike bydrae gelewer om die land se ekonomie aan die gang te hou.

“Die primêre produsente van vleis, graan, vrugte, groente, sitrus, wyn en ander landbouprodukte is hoofsaaklik in landelike gebiede geleë. Dit beteken hulle moet produksie-insette soos kunsmis, saad en brandstof daarheen vervoer, en dit weer oor lang afstande doen om bemarkbare produkte by verbruikers te kry.”

Die toestand van paaie vanaf die plaashek tot waar produkte eindelik by die verbruiker uitkom, eis egter ʼn al hoe groter tol. Produsente het geen ander keuse as om paaie te gebruik nie omdat die spoornetwerk op talle plekke heeltemal in duie gestort het.

Maar brûe is verspoel, paaie toegegroei deur plante en padtekens is weg of verwaarloos. Provinsiale padskrapers word nie behoorlik onderhou nie, personeel is nie opgelei om dit te gebruik nie en op sommige plekke moet motoriste langs die pad ry om ʼn begaanbare oppervlak te probeer vind.

‘n Vragmotor wat in Limpopo vasgeval het. (Foto: Agri SA)

“Produsente is innoverend en professioneel en staan nie terug om noodherstelwerk te doen nie. Dit is egter nie hul plig nie en is heeltemal onwettig. Die herstelwerk word sonder die toestemming van die betrokke owerhede gedoen en teen geen vergoeding nie,” sê Van der Walt.

Hy meen produsente wat self ingryp, kan ten minste teen vervolging gevrywaar word, of herstelwerk kan toegeken word aan landbou-organisasies wat dit weer uitkontrakteer aan mense wat die werk behoorlik kan doen.

Boonop eis misdaad, brandstigting en openbare onrus dat die lewering van produkte vertraag of selfs heeltemal gekanselleer word – en produsente dan die reputasie kry dat hulle onbetroubaar is. Al hoe meer skade op pad na markte word aangerig. Dit behels nie net skade aan die voertuie nie, maar produkte word gekneus of lewende hawe beseer, of die vrag gesteel.

Waar paaie deur informele nedersettings loop, word spoedhobbels opgerig om sterftes te verhoed. Die noodgedwonge vermindering in spoed gee opportunistiese misdadigers egter genoeg kans om ʼn vragmotorseil oop te sny en die vrag te plunder.

Kontrakteurs wil onttrek

Vervoerkontrakteurs wil weens die slegte paaie nou nie meer sekere gebiede bedien nie en die probleem is beslis nie beperk tot een provinsie nie; die meeste provinsies steier onder soortgelyke vervalle infrastruktuur.

Lion du Plessis, wat Mpumalanga-boere by die konferensie verteenwoordig het, sê sommige vervoermaatskappye het reeds gewaarsku dat hulle moontlik nie vanjaar hul vragmotors na sekere gebiede gaan stuur om oeste op te laai nie – ʼn besluit wat katastrofiese gevolge vir voedselsekerheid kan inhou.

Mpumalanga beslaan 6,5% van Suid-Afrika se oppervlakte, maar is verantwoordelik vir 24% van die land se algehele mielieproduksie. Nagenoeg 41 miljoen liter diesel, oftewel sowat 1 360 vragte diesel, moet na die provinsie vervoer word. Een ton kunsmis per hektaar mielies is nodig, wat op nog 17 160 vragte neerkom. Dan moet die 3,4 miljoen ton mielies binne die volgende drie maande vervoer word – nóg 170 000 vragte.

Die syfers sluit geen vervoer verbonde aan wol, braaikuikens, beeste, makadamianeute of suikerriet in nie.

Die R48 in die Vrystaat is in ‘n haglike toestand. (Foto: Agri SA)

Ook Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap en adjunkpresident van Agri SA, sê in dié provinsie dreig vervoeroperateurs om hul dienste in sommige gebiede op te skort. Die Noord-Kaap huisves dalk net 2% van die land se bevolking, maar het nietemin sowat 26 000 km se grondpaaie – plus teerpaaie – om in stand te hou. Weens die lae bevolkingskoers, is die begroting hopeloos te klein daarvoor.

Dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder van Vrystaat Landbou (VL), sê hulle navorsing het gewys uit die provinsiale departement se vloot van 30 geel masjiene het 26 masjiene suiers deur die enjinblok gehad. Dit beteken dit moet waarskynlik nuwe enjins kry – iets wat tussen twee en tien maande kan duur.

VL het reeds in Mei ʼn voorstel aan die provinsie gemaak om ʼn samewerkingsooreenkoms met die private sektor aan te gaan om die paaie te begin regruk, maar hulle wag nou nog op ʼn antwoord.

  • Die inligting wat Agri SA ingesamel het, sal nou onder die aandag van die presidensie, asook die kantoor vir belegging en infrastruktuur binne die presidensie, gebring word. Daar word ook binnekort met die adjunk-direkteur-generaal van landbou daaroor vergader en Agri SA het opnuut ʼn beroep op die regering gedoen om met die landbousektor saam te werk om die probleme te begin pak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Alex

Gebruik, maar nie onderhou is deesdae die mode. Geld wat ingesel word vir instandhouding word nie aangewend nie. Dit word iewers elders seker gebruik

Marshall

So what do the sheep who voted for De Klerk’s fantacy expect. Putting a group with a mean IQ of 69 in charge can only lead to destruction. The more intelligent people predicted this scenario and now the prediction has materialised. These unfortunate people are cognitively unable to run a sophisticated country. (If you disagree with my figures, show me your data.)

Now, let us stop weeping and wailing and start finding a solution. The only viable solution is secession in a Federal State comprising the Caucasian, Indian and Coloured Peoples.