Miljarde se PPE-kontrakte ondersoek – SOE

Adv. Andy Mothibi, hoof van die spesiale ondersoekeenheid. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

ʼn Verslag van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) oor bewerings van onregmatige verkryging en korrupsie dui daarop dat miljarde rande aan veral persoonlike beskermingstoerusting (PPE) tydens die Covid-19-pandemie bestee is.

Verkrygingsprosedures is omseil, pryse is opgejaag en in sommige gevalle was daar uiters gebrekkige beheer deur staatsdepartemente oor die proses.

Een van die bevindings wat reeds gemaak is, is dat die Oos-Kaapse departement van gesondheid se aanskaffing van motorfiets-ambulanse onvanpas en onmededingend was. Daar was ook bedrog met die verkrygingsproses vir die Beitbrug-heining tussen Suid-Afrika en Zimbabwe.

Adv. Andy Mothibi, hoof van die SOE, het Vrydag gesê van die R30 miljard wat staatsdepartemente tussen April en November verlede jaar bestee het, word R13,3 miljard se kontrakte in hierdie stadium deur die eenheid ondersoek. Dié kontrakte is aan meer as 1 700 diensverskaffers toegeken.

Altesaam 189 bewerings van korrupsie met die aankope van PPE is by die SOE aangemeld.

Ondersoeke wat verband hou met kontrakte van nagenoeg R3,5 miljard is reeds afgehandel, meer as 51% van sake word nog ondersoek, terwyl ondersoeke nog moet begin na 22% van die kontrakte wat reeds uitgewys is.

Die eenheid ontvang egter deurlopend nog inligting oor beweerde korrupsie of onregmatige besteding.

Mothibi sê dit lyk of sommige amptenare geglo het die afkondiging van die ramptoestand het beteken alle verkryging word outomaties op ʼn noodgrondslag gedoen, sonder voldoening aan enige van die gewone voorskrifte oor die beheer van staatsgeld.

Talle amptenare het bloot opdragte van hul seniors verwerk en uitvoering gegee aan onregmatige opdragte.

Die SOE se verslag het bevind

  • departemente het dikwels nie die basiese beheermaatreëls om te verseker dit wat bestel word, word afgelewer nie,
  • daar was oënskynlik geen protokol om verskaffers se besonderhede by te hou nie,
  • maatskappye het ander ondernemings as frontmaatskappye gebruik om tenders te bekom,
  • belastings is teruggeëis van ondernemings wat nooit eens daarvoor geregistreer het nie en
  • in sommige gevalle is die noue verhouding wat suksesvolle kontrakteurs met diegene wat die kontrakte toeken gehad nie, nooit bekend gemaak nie.

Mothibi sê uit die ondersoeke blyk dit ook dat politieke druk in sommige gevalle uitgeoefen is wanneer PPE aangekoop is.

Ondersoeke

Volgens Mothibi was daar teen Donderdag altesaam 15 sake voor die sogenaamde spesiale tribunaal wat die ondersoeke hanteer – terwyl die waarde van kontrakte betrokke by die sake voor die tribunaal tans op R365 miljoen staan.

Ambulans-motorfietse  

(Foto: Dr. Zweli Mkhize/Twitter)

Een van die ondersoeke was omtrent die Oos-Kaapse departement van gesondheid wat ʼn kontrak van R10 miljoen aangegaan het om motorfietse aan te koop om pasiënte mee te vervoer.

Die saak teen Fabkomp, in ʼn ondersoek wat nou bekend staan as die motorfiets-ambulans-skandaal, is reeds na die spesiale tribunaal verwys nadat bevind is die proses was onbillik, onmededingend en ook nie kostedoeltreffend nie.

Die tribunaal het die departement verbied om enige betalings aan die verskaffer te doen, hangende die hersieningsproses.

Deur-tot-deur-veldtog

Die ondersoek na ʼn sogenaamde deur-tot-deur-bewusmakingsveldtog in die Oos-Kaap wat die OR Tambo-munisipaliteit byna R5 miljoen gekos het, het reeds gelei tot siviele stappe teen Phathilizwi Training om die kontrak te laat hersien en tersyde te stel.

Die tribunaal hoor die saak binnekort aan.

Gautengse PPE

In die SOE se ondersoek na die Gautengse departement van gesondheid se kontrak met Ledla Structural Development is onder meer bevind pryse vir items is met tussen 211% en 542% opgejaag.

Mothibi sê terwyl die departement geweet het die SOE is besig met ʼn ondersoek na die kontrak en dat byna alle betalings gestaak is aan kontrakteurs wat by die SOE se ondersoeke betrek is, het die departement stééds in Augustus verlede jaar ʼn betaling van meer as R38,7 miljoen aan die verskaffer gedoen.

Dié geld is blitsig beskikbaargestel en daarna vinnig na soveel as 36 ander entiteite oorgeplaas.

In hierdie ondersoek is sowat R46 miljoen reeds aan die staat verbeurd verklaar.

Komberse vir KZN

In KwaZulu-Natal het die SOE ondersoek ingestel na die onregmatige verkryging van komberse ingevolge ʼn kontrak wat sowat R4,8 miljoen beloop het.

Die ondersoekers het bevind daar was na afhandeling van die kontrak uiteindelik minder komberse in die departement se store as voordat hy met die verkrygingsproses begin het. Daar is reeds met siviele stappe teen die verskaffer begin en die spesiale tribunaal is gevra om die kontrak te hersien en tersyde te laat stel.

Daar word terselfdertyd probeer om die departemente se verlies te verhaal.

Beitbrug-grensdraad

Die grensdraad tussen Suid-Afrika en Zimbabwe. Die toekenning van die kontrak hiervoor word ook ondersoek. (Argieffoto)

Dié ondersoek hou verband met die oprig van ʼn heining op die grens tussen Suid-Afrika en sy buurland Zimbabwe.

“Die SOE-ondersoek het bewyse gevind dat die verkrygingsproses onregmatig was. Die kontrak het ʼn waarde van R40 miljoen,” het Mothibi gesê.

Die eenheid het met siviele stappe teen die kontrakteur begin en hy het die spesiale tribunaal gevra om die kontrak tersyde te laat stel. Uitspraak in die saak word voorbehou.

Bedank stel amptenaar nie kwyt

Mothibi sê die SOE het ook reeds talle aanbevelings gedoen dat stappe teen betrokke amptenare gedoen word. Hy sê die dae is verby dat ʼn staatsamptenaar bedank wanneer hy by ongerymdhede betrek word en daarna skotvry daarvan afkom.

“Die SOE gaan al die amptenare wat in die lig van ondersoeke of tugstappe bedank het, opspoor en hul pensioene bevries en siviele stappe doen om die geld wat van staatsinstellings gesteel is in te vorder en enige skade te verhaal wat hulle moontlik aan staatsinstellings aangerig het,” het hy gesê.

Verwysings is reeds teen altesaam 25 amptenare gedoen. Mothibi sê die SOE volg die sake voortdurend op om te verseker daar word wel opgetree.

Pres. Cyril Ramaphosa en Khusela Diko. (Foto: GCIS)

Een van die aanbevelings is gemaak teen Khusela Diko, pres. Cyril Ramaphosa se voormalige woordvoerder. “Die SOE is ingelig dat die kantoor van die president die nodige stappe doen,” het Mothibi gesê.

Die SOE het ook reeds 38 verwysings na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gedoen met die oog op strafregtelike vervolgings.

“Die SOE-ondersoeke het ʼn blatante en baldadige verontagsaming van wetgewing, beleid en prosedures blootgelê. My waarneming is dat dit gedryf word deur ʼn onversadigbare sug na selfverryking wat nie ongestraf kan bly nie,” het Mothibi gesê.

“Ons moet dus verseker die verantwoordelike amptenare en private sektor- partye wat geïdentifiseer word, word swaar gestraf en dat ʼn duidelike boodskap gestuur word teen korruptes en administrateurs wat wandade oorweeg, dat stappe teen hulle gedoen gaan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Anoniem ·

Hoekom kan hulle nie net eerbare skoon besigheid doen nie? Hoekom moet daar alewig korrupsie en selfverryking ter sprake wees?

Blikkies ·

Ja, Kom ons kyk maar eers wat gaan gebeur……moet net nie julle asem ophou nie.

tweeling ·

Gaan lees maar net die nuus oral dan sal jy agterkom hoeveel geld is al terug gekry vanaf die korrupte amptenare, Dit word nie alles gepubliseer in die groot koerante/tydskrifte nie.

Anoniem ·

Behalwe die terugkry van die druppel in die emmer, wie sit al agter tralies hieroor?

henndrik ·

“lip service” die werklikheid wys vir ons daar gebeur niks nie

KB ·

SOE = Spesiale Ondersoek Eenheid.
Nog nooit gehoor van ‘n Spesiale Ondersoeksoek Eenheid nie…????????

Christel Cornelissen ·

Dagsê Stephan
Baie dankie vir die boodskap. Ons vra om verskoning vir die oorsig en het die fout reggestel.
Groetnis
Christel
nms Maroela Media

Jacobus ·

Sulke optrede gee rede tot sinisme wat betref die teenwoordigheid van die virus. Begin lyk na die skepping van massiewe geldmaak geleentheid ten koste van vuisvoos belastingbetaler. Indien daar gebrekkige optrede is/was is wetstoepassers net so aandadig. Gaan dit ooit verander?

Johanncb ·

Alles word deesdae ondersoek, maar ons hoor nie weer wat die uitslae was nie! Sulke ondersoeke kos die belastingpligtige ‘n groot klomp geld, wat vir my ook aan bedrog grens! Is bedrog nou ‘n lonende bedryf vir kommissies van ondersoek?

My siening ·

Dit is hoe n onbevoegde anc werk en dit noem mens diktatorskap nie demokrasie nie!

Paul ·

Wanneer word ‘n afkorting vertaal en wanneer los ons dit in Engels? Kan iemand help met lig hierop?

Keith ·

“Die SOE is ingelig dat die kantoor van die president die nodige stappe doen” . I wonder what steps those might be ? We used to have “commissions of enquiry” , now we have a new kid on the block –
“Special Investigation Unit”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.