Miljarde wit skoenlappers sak toe op Gauteng

Pionierwitjies (Foto: ANA)

Miljarde wit skoenlappers het die afgelope twee weke oor die noordelike dele van die land toegesak as deel van hul jaarlikse migrasie na Gauteng asook gedeeltes van Noordwes. Dié massiewe wolk skoenlappers sal na verwagting nog ʼn paar weke lank in die lug te sien wees.

Volgens lepidopteroloë (skoenlapperkundiges) van LepSoc Africa, ’n vereniging van lepidopteroloë, is vanjaar se migrasie van die pionierwitjies of ook bekend as die witgatwitjies (Belenois aurota) die grootste migrasie sedert 1966.

Dié skoenlappers beweeg grotendeels van die droë dele van die Kalahari en Noord-Kaap na die natter noordelike gebiede in die land. Hulle leef op witgatbome (Boscia albitrunca) wat algemeen in die Kalahari-gebied voorkom.

Pionierwitjies vladder rond in Gauteng (Foto: Esté Meyer Jansen, Facebook)

Kenners meen klimaatsverandering mag dalk ʼn groot rol speel in die migrasie van die skoenlappers. “Die jare se droogte het gelei tot drastiese afname in roofdiere, soos virusse, parasitiese wespe, roofvlieë, spinnekoppe en voëls, wat op die pionierwitjies jag maak. Gewoonlik word 99% van die skoenlappers se eiers, larwes en ruspes gevreet.”

Kenners sê ook die onlangse reënval lei tot gunstige toestande, ʼn bevolkingsontploffing asook migrasie van dié skoenlappers.

Tydens die migrasie kan dié skoenlappers meer as 1 000 km deur gunstige windtoestande beweeg. Die skoenlappers wat nader aan die grond in die stede rondbeweeg, sal snags op ʼn plant of grassie oornag. Die skoenlappers word op hul reis deur roofvlieë en spinnekoppe bedreig.

Kundiges sê navorsing het bevind dat die skoenlappers nie enigsins ʼn bedreiging vir aangeplante gewasse inhou of bydra tot die vernietiging van plante of weiding nie. “Hulle dra eerder by tot die bestuiwing van plante,” meen kenners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
katerinadiekat

Hier in Mpumalanga Laeveld fladder hulle ook nou al vir dae lank orals rond.

Gato

In Limpopo vlieg hulle ook vir die laaste paar weke in hulle hordes almal in een rigting

henndrik

Ek verstaan hulle hou geen bedreiging in as skoenlappers nie maar wat word hulle en hou dit ‘n bedreiging in?

Nel

Die swerms het al klaar deur Centurion getrek laas week. Dit was omtrent ‘n gesig om te sien

Atta

Mmmm… grootste migrasie sedert 1966. En klimaatsverandering kry weer die skuld. So dan was daar seker in 1966 alreeds klimaatsverandering…