Miljoene rande skade toe huise by Beaconbaai vlam vat

Een van die huise wat in die brand beskadig is. (Foto: Verskaf)

Drie huise in een straat is Maandag in die rykmansbuurt Beaconbaai in Oos-Londen in puin gelê toe ’n veldbrand in die omgewing vermoedelik dié huise bereik het.

Samkelo Ngwenya, woordvoerder van die plaaslike munisipaliteit, het gesê twee ander huise in dieselfde straat het brandskade gedurende die voorval opgedoen. Een van die huise het gedeeltelik gebrand terwyl die ander se braaiplek skade opgedoen het.

Die skade beloop sowat R11 miljoen. Geen beserings is egter aangemeld nie.

Een van die huise wat in die brand beskadig is. (Foto: Verskaf)

Volgens Ngwenya is tien brandbestryders, twee brandweervoertuie en een lugtoestel ingespan om die vlamme te blus.

“Die oorsaak van die brand is vermoedelik veldbrande met hoë temperature wat tot 30 grade Celcius bereik het.”

Verskeie ander veldbrande het gister in die omgewing gewoed waaronder Kaiserstrand, Buffalo Flats, asook al langs die N2, het Ngwenya gesê.

“Ons wil mense te midde van sterk winde en droë weersomstandighede daarteen waarsku om brande te stig, asook maan om versigtig te wees wanneer hulle in die veld is. Ons moedig mense aan om ons so gou moontlik by 043 705 9000 te bel indien hulle ’n brand gewaar.”

Die owerhede Maandag op die toneel in Beaconbaai. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hoopvol ·

Dis sekerlik ‘n fout. As die brande temperature van tot 30°C bereik het … wel, dan is dit heerlike koel brande! By ons in die Kalahari is die somertemperature heelwat hoër as dit – sonder dat óns huise skade kry.

Boertjie ·

Ek vermoed ook dis ‘n fout. 30 grade Celsius is net ‘n heerlike somersdag..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.