Miljoene benodig om befondsing van politieke partye te monitor

Argieffoto

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het Donderdag gesê hy benodig ʼn aanvanklike toewysing van R11 miljoen om met die implementering van nuwe wetgewing te begin wat vereis dat politieke partye die bronne van hul private finansiering openbaar maak.

Sy Mamabolo, hoofverkiesingsbeampte, sê dié R11 miljoen word vir personeel benodig.

“R11 miljoen is die minste wat ons gaan benodig om die struktuur mee te begin,” het Mamabolo Donderdag gesê.

Hy sê daar is ook addisionele kostes wat benodig word vir kantore, advertering en bemarking en toerusting.

Mamabolo het gesê hy hoop dié wetgewing kan in plek gestel word voordat die nasionale verkiesing in 2019 plaasvind.

“Ons het volgende jaar ʼn verkiesing en dit sal ʼn verbeurde geleentheid wees indien alles nie reeds in plek is nie,” het hy gesê.

Dit kom nadat die Wes-Kaapse hooggeregshof verlede jaar beslis het die parlement moet binne die volgende 18 maande voorsiening maak dat politieke partye die bronne van hul private befondsing openbaar moet maak.

Regter Yasmin Meer het in hofdokumente gesê die bekendmaking van die private befondsing van politieke partye en onafhanklike kandidate is noodsaaklik vir die doeltreffende uitoefening van die reg om te stem en om politieke keuses te maak. Meer het die parlement opdrag gegee om die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) sodanig aan te pas.

Sommige partye het in die verlede teenstand gebied uit vrees dat dié openbaarmaking befondsing in gedrang kan bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marinda ·

En julle wonder waarom meer as 140 CIT aanvalle net vir die jaar?

Basjan ·

Netso! Ek sal graag die ware antwoord op hierdie vraag wil hoor.

Ella ·

Hoe bepaal hulle wat nodig sal wees voor hulle nog begin het? Hoeveel personeel, ens het hulle nodig? Dis mos n bestaande entiteit.
Almal praat van GROOT geld asof dit sente is en die melkkoei moet maar net opdok vir nog meer korrupsie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.