Miljoene geëis ná grondverskuiwing woonbuurte nutteloos laat

Hoe dit tans by Tuscan Village lyk. Die huise hier word nie meer bewoon nie. (Foto: Verskaf)

Die plaaslike munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering word tans vir R200 miljoen gedagvaar oor drie ontwikkelings wat weens ʼn grondverskuiwing ontruim moes word.

Boonop doen onbevestigde gerugte tans die ronde dat Mosselbaai se belastingbetalers sal moet opdok vir ʼn R200 miljoen-eis wat ingestel is. Die derde respondent in die saak is die National Home Builders Registration Council (NHBRC).

Die eisers is voormalige inwoners van een van die dorp se spogwoonbuurte wat in 2016 gesloop moes word ná ʼn grondverskuiwing die mure van nuutgeboude wonings laat kraak en onbewoonbaar gemaak het.

Drie ontwikkelings teen die Hartenbosheuwels, Seemeeupark, Seemeeuvlug en Tuscan Village is deur die grondverskuiwing geraak. Die eienaars – hoofsaaklik mense wat by die see kom aftree het – se drome het onverwags in nagmerries ontaard toe hulle drie jaar gelede kennis gekry het om die huise binne sewe dae te ontruim. Daarna moes hulle ook hoor hulle is self vir die sloping van die huise verantwoordelik.

Hoe dit tans by Tuscan Village lyk. Die huise hier word nie meer bewoon nie. (Foto: Verskaf)

Nou sê 62 van hulle in stukke wat voor die hof gaan dien dat hulle vergoed wil word, want iewers het iemand gefouteer toe die grond vir ontwikkeling goedgekeur is.

Die Mosselbaai-munisipaliteit het ʼn gedeelte van die plaas Vyf-Brakke-fonteinen in 1999 hersoneer vir residensiële gebruik hoewel dele daarvan binne-in ʼn ou uitgewerkte gruisgroef was. Die bewering is dat daar kortpaaie gevat is en dat die nodige geologiese toetse nie gedoen is voor die hersonering plaasgevind het nie.

Rinette van Niekerk, wat saam met haar afgetrede ouers ʼn huis in Seemeeupark besit het, dryf die inwoners se saak vanuit Gauteng waar sy woon. Sy het dokumente bekom wat wys dat die destydse munisipale ingenieur pertinent na die gruisgroef verwys het in sy verslag wat in 1999 voor die burgemeesterskomitee gedien het. Hy het ook gewaarsku dat die wal van die gruisgroef steil en waarskynlik onstabiel is en dat daardie gedeelte van die terrein nie vir ontwikkeling oorweeg moet word nie. Dit wil voorkom of niemand op die waarskuwing ag geslaan het nie.

Dié foto van 1975 wys duidelik die gruisgroef waar die huise later gebou is. (Foto: Verskaf)

Uit die dokumente wat Van Niekerk aan haar prokureurs oorhandig het, blyk dit verder dat die destydse burgemeester, raadslid André Nel, homself verskoon het toe die lede van die raadsvergadering oor die hersonering van die grond besluit het. Volgens die titelaktes het die plaas Vyf-Brakke-fonteinen destyds aan Nel se pa behoort.

Die aktekantoor het ook ʼn eienaardige klousule bygevoeg toe die erwe geregistreer is. Dit sê dat die grond slegs vir die prosessering en hergebruik van afvalwater aangewend mag word en dat net geboue wat daarmee te doen het daar opgerig mag word. Dit lyk of niemand dié voorwaarde later onthou het nie.

Die munisipaliteit het kort ná die ontruiming in 2016 aan die inwoners gesê die skade kan nie voor sy deur gelê word nie omdat Seemeeupark deel van ʼn privaat ontwikkeling op privaat eiendom was wat eers jare later as ʼn woonbuurt geproklameer is. Volgens die munisipaliteit was dit nie in 1999 ʼn vereiste dat geologiese toetse gedoen moes word nie.

Die huise wat in die gruisgroef gebou is. (Foto: Verskaf)

Tog het hulle onmiddellik ná die ontruiming in 2016 sulke toetse laat doen wat bevind het dat die stadig bewegende grond veroorsaak word deur gruis wat van die wal af kom of steeds op die vloer van die gruisgroef teenwoordig is. Volgens die verslag was die fondamente van sommige huise ook nie reg vir die grondformasie nie.

ʼn Ingenieursfirma van George het bevind dat die grond natuurlik versteur is deur ʼn onstabiele laag wat baie diep onder die oppervlak voorkom en dat menslike ingryping in die vorm van die oop gruisgroef nie ʼn rol gespeel het in die beweging van die grond nie. Volgens Van Niekerk is dit vreemd, want die gruisgroef is die enigste plek in die omgewing waar daar ʼn grondverskuiwing is.

Die munisipaliteit het kennis gegee dat hulle die komende hofsaak gaan verdedig wat beteken dat dit jare kan neem en ʼn baie duur storie vir al die betrokke partye kan word. Die vraag op die inwoners se lippe is wie gaan vir ʼn uitgerekte hofsaak betaal en wie gaan die eisers vergoed as hulle die saak wen?

‘n Gedeelte uit die verslag van die munisipale ingenieur wat in 1999 gewaarsku het dat die grond nie geskik is vir ontwikkeling nie. (Foto: Verskaf)

Daar word beweer dat die munisipaliteit nie versekering vir openbare aanspreeklikheid gehad het toe die grondverskuiwing plaasgevind het nie en eers in 2017 die nodige versekering bekom het.

Die munisipaliteit het nie op Maroela Media se navrae reageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Gert ·

Dit wil voorkom asof die munisipaliteite nie sy eie “red tape” nagekom het in die vooraf-fase nie en nou word die blaam deur niemand gedra nie! Hier in Centurion is soveel “red tape” vir verdigting, dat al die winkel se voorraad maande vooruit bespreek is. Skynbaar is daar n afdeling wat nog net nie die besonderse naam het nie, maar wat daarin spesialiseer!!!!! In sekere voorste de soos Olievenhoutbos ens, = anything goes” geen planne, sonerings ens ens

Blikke ·

En nou word eerlike hardwerkende pensioen geld ingeboet vir ander se onvermoe en gierigheid. Ek voel jammer vir die mense wat slegs vrede gesoek het en n plekkie van hul eie om te gaan aftree. Sies dis n skande hoe mense mislei is en ek hoop hulle kan elders teen vergoeding n heenkome vind.
Onthou net wat jy saai sal jy maai en dis nie baie ver in die toeokoms nie!!!

Blikke ·

@ Madelein
Skuus ek val jou ni aan ni maar eerder moet jy vrae wie die area vir sonering goedgekeur het. Die argitek teken slegs die huisontwerp en daarna word dit aan die bouers en stads ingenieurs oorgelaat. Feit is daar moes nooit geboue opgerig word nie en die redes daarvoor was BLATANT GEIGNOREER!!

Gerard ·

Verantwoordelikheid vir stabiliteit van geboue is ‘n ingenieursfunksie.

Alta ·

Goeie middag Maroela! Die opsie om te deel is nog nie beskikbaar nie! Groete

Sune van Heerden ·

Dagsê Alta

Dankie vir jou boodskap.
Die tegniese span is bewus hiervan en ‘n nuwe weergawe van die app sal binnekort in die Play Store beskikbaar wees.
Jammer vir die ongerief!
Probeer gerus die deelfunksie direk op die webwerf.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Eben ·

Ek voel baie sleg vir die eienaars se part. Dit gaan ‘n pynlike afêre wees.

Op die ou sal die onakyldige mense die spit moet afbyt.

Andre ·

Eis vd ouens wat geld gemaak het…die ontwikkelaars en nie die onskuldige belastingbetalers nie…gaan staan voor die geldjagters se deure..

Natan ·

Enige gerehabiliteerde grond is onstabiel , selfs na kompaksie, en ongeskik vir boudoeleindes. Versakking kom algemeen voor. Grondverskuiwings kom ook voor bo-op onversteurde grond en rots. Boumagtiging kan slegs oorweeg word na jare se monitering van die grondoppervlak. Dit is taamlik bekend op gerehabiliteerde myngrond. Die watertafel gaan ook versteur wees en waarskynlik hoër wees in die ou gat wat verdere grondverskuiwings gaan aanhelp.

Duidelik ken korrupsie geen kleur nie. Wonder wie leer by wie.

Kabous ·

Die hersonering van die eiendom om die residensiële ontwikkeling moontlik te maak is maar een aspek van die groter prentjie. Dit is stadsbeplanning. ʼn Geotegniese ondersoek om te bepaal of die grond doel-geskik is vir die oprigting van residensiële geboue op die perseel is ʼn aspek van die ontwikkeling wat berus op die nasionale bouregulasies. Dit wil voorkom dit is hier was waar daar groot kortpaaie gevat is. Dalk het iemand by die stadsraad die ontwikkelingsplan vir die perseel goedgekeur sonder dat daar ʼn geotegniese ondersoek uitgevoer is. Die ander moontlikheid bestaan natuurlik ook dat die geotegniese ondersoek wel uitgevoer was, maar dat die siviele en strukturele ingenieurs se bevindings en aanbevelings doodeenvoudig net geignoreer is. Of iemand het iemand betaal om dit ʼn blinde oog te gooi… en toe gebeur die voorspelbare.

Christa ·

Met hierdie regering is enigiets moontlik. Almal jaag agter geld aan en is nie gepla oor die leidende party nie.

lewies ·

Snaaks dat daar nooit aan die bonatuurlike gedink word, wanneer daar oor rampe en ellende wat mense tref, gerapporteer word nie. Nerens vind dit plaas nie, ook nie eers in Suid-Afrika nie. Die feit is waar daar ONREG is, sal dit nie strafloos gelaat word nie. Al is dit 25 jaar later.

Blikke ·

Nie veel hoop dat die ongeregtigheid in die geval aangespreek gaan word nie….indien ooit!!

LBS ·

Ek het 2 jaar gelede vir ‘n week tuisgegaan in hierdie omgewing, dit is werklik tragies om die huise so te sien. Dit was eintlik skrikwekkend!

Bekommerde ·

So word daar ouethuise ens gebou in vloedvlaktes- waar die water afloop en hulle afgesny word as dit baie reen.
So word mense van elders gevang – mense maak julle oe oop en dink – hoekom is daar nog nooit op ‘n spesifieke plek gebou nie.

Natalene Visser ·

Ek stem 100% saam met jou stelling van ouetehuise. Voeg net aftree-oord ook by en die prentjie raak groter. Het dit self beleef.

Herman ·

Waar is die NHBRC. mense betaal n fortuin vir hulle sogenaamde waarborg…
nou staan bulle uit die water….

Francois Joubert ·

Ek sal aangenaam verras wees as iemand vir my ‘n tweede geval noem waar die NHBRC al ooit uitbetaal het. Ek weet van 1. Dit was ‘n groot uitbetaling. Daarna nooit weer nie. Soos Outsurance. Hulle sal ‘n rede soek en mense betaal om iets te kry om nie te betaal nie.

Ig ·

Die saak gaan letterlik miljoene rand kos met al die deskundiges wat sal moet getuig en heelwat getuies wat weet wat gebeur het, kan dalk al dood wees. As die berig korrek is en die titelvoorwaardes van die erwe bepaal dat daar nie huise gebou mag word nie, het die eienaars van huise op daardie erwe ‘n groot probleem en moet hulle liewer nie geld mors op ‘n hofsaak nie.

CJ ·

Is dit nie die ideale plek vir een van die sogenaamde nuwe Super Stede nie?

Adam ·

Ek dink nie so nie. Die superstede se inwoners sal sonder die hulp van ‘n natuurramp die geboue kan vernietig.

Oosie ·

Enige grond waar daar met dinamiet geskiet is, is vir baie jare daarna nie geskik vir bou nie. (Indien ooit)

Koos ·

Die opskrif sê woonbuurte is nutteloos, eintlik is dit net twee ontwikkelings en ”n paar huise om dit waar die probleem is, die ander honderde plekke het geen probleem nie. Tog is daar nou weer twee huise by die probleem areas gebou.

mc ·

Gaan kyk wat gebeur in die onderste gedeelte van Nautica by De Bakke as dit reen. Selfs daar stroom die water deur die dak waar die ou en die nuwe dele probeer las is. My kinders bly in Tuscan Villas, dis net absoluut absoluut hartverskeurend om daardie mooi geboue so te sien. Maar logies is al die skuldiges nou dood en begrawe.

AnonMlunghu ·

Whahaa, en so moet die burgers weer vir die Broederbonders op dok, dis net wat ek lankal al sê, iemand in die munisipaliteit moes dit goed keur en n ou kwarrie gat te kon hersoneer na n bewonings area, en sover dit vir die Dorp van die Jaar se munisipaliteit gaan, wel, dit lyk of “playing possum” hul antwoord is op als, bly stil, ignoreer, die probleem sal self verdwyn. As n inwoner van Mosslebaai, sê ek, dat die raad van 1999 verantwoordelik gehou moet word vir die laaste sent. Bogger hulle. Ek ondersteun enige privaat vervolging van die ieder en elk van daai raad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.