Miljoene in droogtehulp in Limpopo ‘steeds nie genoeg’

Argieffoto: Pixabay

Die departement van water, sanitasie en menslike nedersettings het aangekondig dat hy R143 miljoen vir droogtehulp spesifiek in Moutse in Limpopo bewillig. Dit is egter niks om oor opgewonde te raak nie, meen ʼn landboukenner.

Luidens ʼn verklaring deur die departement sal die waterraad Lepelle Northern Water binne die distriksmunisipaliteit Sekhukhune die fonds administreer om nuwe boorgate in Moutse te boor en bestaande boorgate op te knap.

Vyf watertenkwaens en 20 watertenks is ook aan die munisipaliteit geskenk toe Lindiwe Sisulu, minister van water, sanitasie en menslike nedersettings, die gebied Vrydag besoek het.

Louis Meintjes, president van die landbouorganisasie TLU SA, meen egter dat dié bedrag nié genoeg is om die provinsie se boere van finansiële verknorsing te red nie. “Dit is nooit genoeg nie. Die krisis in landbou is ernorm en die probleem word net langer uitgestel.”

Volgens Meintjes maak droogtehulp in werklikheid maar ʼn geringe verskil. “Wat my betref, moet boere se skuld afgeskryf word. ʼn Bietjie voer hier en daar gaan ʼn tydelike verskil in ʼn boer se gemoedstoestand bring, maar maak min verskil aan die land se voedselsekerheid.”

(Argieffoto)

Meintjes verduidelik dat die veilingverbod weens bek-en-klouseer boere ʼn verdere knou gegee het. Dié verbod is Maandag opgehef.

“Boere het weens die verbod verdere finansiële verliese gely en is nou in nog groter moeilikheid omdat hulle nie hul diere kon verkoop toe hulle moes nie. Die boere se veld is oorbewei en hul vee moet in ʼn toestand wees om verkoop te kan word. Droogtehulp hou vee bloot aan die lewe.”

Op die vraag waarom die geld spesifiek in die Moutse-gebied bewillig word, antwoord Meintjes dat dié gebied verskeie kleinhandelboere huisves. “Ons toekoms en voedselsekerheid lê nie in die hande van die kleinhandelboer nie, maar eerder die kommersiële boer,” verduidelik hy.

Meintjes voorspel dat dié droogtefonds ook heel waarskynlik onder korrupsie gaan deurloop. “Na my wete word die geld nooit korrek aangewend nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.