Miljoene J&J-dosisse in SA teruggetrek

Johnson & Johnson-entstof (Foto: Justin Tallis/AFP)

Die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra) het Sondag gesê hy gaan miljoene dosisse van die Johnson & Johnson (J&J)-entstof terugtrek ná probleme by een van die Amerikaanse vervaardiger se aanlegte.

Maroela Media het vroeër berig die Amerikaanse kos-en-medisyne-owerheid (FDA) het aan J&J gesê miljoene dosisse, wat by die Emergent BioSolutions-aanleg in Baltimore in die VSA vervaardig is, is nie geskik vir gebruik nie.

Ná ʼn hersiening van die FDA se besluit het Sahpra in ʼn verklaring gesê hy het besluit om “nie entstof vry te stel nie”.

J&J se Emergent-aanleg is in April aangesê om vervaardiging te staak, ʼn paar weke ná daar bepaal is dat werknemers bestanddele van die J&J- en die AstraZeneca-entstof deurmekaar laat raak het. J&J het nie bevestig hoeveel dosisse hierdeur geraak is nie, maar dit is waarskynlik miljoene dosisse.

Die FDA het nog nie besluit of hy weer toestemming sal gee aan die aanleg om oop te maak nie.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, waarnemende minister van gesondheid, het Saterdag gesê die betrokke besending entstof word in ʼn hoësekuriteitslaboratorium van Aspen in Port Elizabeth gestoor.

Suid-Afrika is een van die lande wat versoek dat patentreg op Covid-19-entstof kwytgeskel moet word sodat elke land generiese weergawes teen ʼn lae koste kan vervaardig.

“As ons lewens wil red en die pandemie wil beëindig, moet ons vervaardiging uitbrei en diversifiseer en mediese produkte so vinnig as moontlik by mense kry wat die pandemie kan behandel, bekamp en voorkom,” het pres. Cyril Ramaphosa Sondag aan die G7-beraad in Brittanje gesê.

Suid-Afrika maak staat op ʼn aflewering van 31 miljoen dosisse van die enkel-inspuiting J&J-entstof om burgers in te ent. Minstens 30 miljoen dosisse van die Pfizer-BioNTech-entstof is reeds bekom, maar dié entstof moet teen baie lae temperature gestoor word en vereis twee dosisse.

Sahpra het gesê ʼn nuwe besending van sowat 300 000 dosisse van die J&J-entstof “wat deur die FDA goedgekeur is en aan vereistes voldoen”, sal vrygestel en na Suid-Afrika gestuur word.

Suid-Afrika het nog net meer as 1% van sy bevolking ingeënt. Dit is die Afrikaland wat die swaarste getref is deur die pandemie met meer as 1,7 miljoen gevalle en byna 58 000 sterftes. Meer as 9 300 nuwe gevalle is die afgelope 24 uur aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Fritz ·

As die Amerikaners die bestandele laat deurmakaar raak, watse konkoksie gaan ons eie mense aanmaak? Dankie tog ek is min gespin oor beide entstof en ivermektien.

Strandloper ·

Hoop regtig nie jy kom iets oor nie. Dit is angswekend as n geliefde die bug het dan doen mens alles in jou vermoë. Ivermektien hou haar tans stabiel en gee haar n kans om te veg.

Alet ·

En daar is diegene soos ek wat stage 5 kidney disease het en op dialise is wat eerder die entstof sal wil ontvang as om die kans te waag en Covid op te doen en te hoop vir die beste.

Sarel ·

Gaan J& J die betrokke Regerings vergoed vir die ” foutiewe ” produk

Hennie ·

Hoe verstommend dat ons swartgallige palukas in die regering elke eer die verkeerde entstof koop ? Oë en hulle is tog so besorgd oor ons gesondheid en welstand, nie waar nie.

4ntj13 ·

Ek dog Aspen in PE het ʼn lisensie gekry om die Janssen / J&J-entstof te vervaardig! Dis mos nie deel van die Amerikaners se gemors nie? Was SAHPRA ooit in PE by die fabriek? Of swaai hulle maar net die septer in Gauteng?
Op die platteland het ons regtig ente nou dringend nodig voordat digter bevolkte gebiede se variante ook hier uitkom. Mutasies blyk dodeliker te wees vir ʼn groter proporsie mense. En draers gee nog steeds nie ʼn duiwel om dat mediese mense die ergste geraak word deur siekte en erge, langdurige siekte nie.

Marina ·

Kan ons verseker wees dat daar glad nie enige van die beskadigde entstof reeds aan mense toegedien is nie? Hier is soveel bedrog en leuens in ons land. En hoe gou het hul agtergekom die entstof is besmet? Dit moes eintlik nie eers ons land bereik het nie. Hoop hul hou dit mooi agter slot en grendel voor dit onwettig verkoop word.

Darkwing Duck ·

Al in April gebeur maar word nou eers teruggetrek. Waar het SA sy J&J vir Sisonke vandaan gekry = wil jy vir my se dat al daardie vaksienes nou onder verdenking is = geen wonder mense kry nog steeds Covid na hulle gespuit is nie. Kan ons geliefde dept van gesondheid dalk ‘n verklaring hieroor uitreik?

Erika ·

Wat van mense wat reeds toegedien met die J& J endstof……en ander wat Heengegaan het..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.