Miljoene liters ongekontrakteerde wyn gee boere kopseer

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Plaaslike wynverkope het weens die Covid-19-pandemie verlede jaar met 40% afgeneem. Wynboere sit sedertdien met 300 miljoen liter ongekontrakteerde voorraad – tenks vol wyn wat nog nie aangekoop of bestel is vir lewering nie.

Vrae bestaan of dié wyn eindelik gestort sal moet word terwyl die bedryf inderhaas planne beraam.

Maryna Calow, kommunikasiebestuurder van Wines of South Africa, sê aan Maroela Media die wynbedryf sal alles in sy vermoë doen om nie wyn te stort nie.

“Ons kyk eerder na ander opsies om die wyn te laat wegmaak in produkte soos saniteerder, konsentraat of stookwyn sodat daar ten minste waarde daaruit geput kan word.”

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is verlede jaar lamgelê deur drie verbodsbepalings op alkoholverkope.

Calow sê die verbodsbepalings het uit ’n uitvoerperspektief nie regtig ’n impak gehad nie, afgesien van vlak 5 van die afsondering toe daar ook ’n verbod op die uitvoer en vervoer van alkohol was.

Andricus van der Westhuizen, die DA in die Wes-Kaap se woordvoerder oor landbou en omgewingsake, sê wynuitvoerders het gedurende die streng afsonderingstydperk na raming 80 miljoen liter se verkope verloor.

Calow erken daar is wel ander uitdagings aangesien Europese restaurante en kroeë – die wynbedryf se hoof‑ internasionale mark in Europa – steeds nie oopgemaak het weens die pandemie nie. Baie van Suid-Afrika se premiumwyne word vir dié mark uitgevoer.

Kleinhandel-, aanlyn en spesialiswynwinkels is darem steeds oop, maar daar is beslis nog uitdagings op internasionale vlak, sê Calow.

“Wat ons wel gaan sien is dat daar heelwat prysbedinging gaan wees; dit nadat ons so hard gewerk het om die waarde van SA wyn in oorsese markte probeer opstoot het.”

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die uitvoer van wyn het die afgelope ses jaar met byna 40% afgeneem. Die totale uitvoer van Suid-Afrikaanse wyn het van 525 miljoen liter in 2013 tot 319 miljoen liter in 2019 afgeneem.

Calow sê dit is egter belangrik om te verstaan waarom Suid-Afrika se uitvoersyfer in 2013 so hoog was. Sy verduidelik dat Europa in daardie jaar grootskaalse droogtes beleef het wat tot ’n tekort aan wyn gelei het. Suid-Afrika het destyds heelwat voorraad teen billike pryse beskikbaar gehad en het Europa se tekort aangevul.

“Daarna het ons volumes weer gestabiliseer met volumes wat tussen 2014 en 2018 by die 420 tot 450 miljoen liter gedraai het.”

Calow sê verder Suid-Afrika het tussen 2015 en 2018 self gebuk gegaan onder erge droogte en oesvolumes het jaarliks afgeneem. Daar was natuurlik wyn in die tenks – veral rooiwyn wat eers in die kelder gehou word totdat dit vrygestel word – maar dit het ons uiteindelik in 2019 gevang toe uitvoervolumes met ongeveer 100 miljoen liter tot 320 miljoen liter gedaal het.”

Van der Westhuizen beoog nou om namens die DA parlementêre vrae by die Wes-Kaapse regering in te dien oor die maatreëls en beleide, indien enige, wat deur regeringsfere ontwikkel word om die wynbedryf te ondersteun.

Carlow sê dit sal beslis help indien die regering enige ondersteuning met befondsing vir bemarkingsaktiwiteite bied en sodoende ook die produsente op grondvlak kan ondersteun om hul bedrywe aan die gang te hou.

“Die feit dat daar nie nou enige van die groot wynskoue is nie en dat ons wynmakers nie kan reis om hul wyne aan potensiële kopers voor te stel nie, bly ’n uitdaging.”

Hoewel wynmakers plaaslik mag reis en wynplase besoek, is meer as 70% van produsente uiters afhanklik van sogenaamde kelderdeurverkope. Carlow sê die afwesigheid van internasionale gaste gedurende weeksdae word veral nou gevoel.

“Dit is baie stil op die plase op ’n gewone weeksdag en die boere trek maar bitter swaar, veral deur die tydperk wat tradisioneel ons besigste sou wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

koos10 ·

Hoekom dit nie goedkoper verpak en in die mark in stoot nie?
Of R50.00 per liter, bring jou eie houer.

Pieter ·

Presies, daar is sekerlik ander gebruike vir dit behalwe drink ook.
Laat my dink aan Italië toe ‘n aardbewing hulle getref het en hulle gesukkel het met hulle parmesan kaas… Hulle het plan gemaak…

Zacahara ·

Ek sal my deel doen & so 1,000 liter teen kosprys vat…!!! Hahahaha!!

pompies ·

As hulle koppe so seer is dan is dit hulle eie skuld. Die prys het verdubbel so niemand kan dit bekostig nie, maak dit goedkoper dan sal hulle dit verkoop kry.

Anoniem ·

Van die beloftes om oorskot uitvoerwyn teen plaaslike pryse beskikbaat te stel, het ook niks gekom nie.

Herpiet ·

Maklik. Hou ‘n wynfees. Bring jou eie glas teen R10 hervul of R20 per bottel te koop. Hoef nie labels op te sit nie

Willem ·

“Boere trek bitter swaar” se voet, nie as jy na die wynpryse by die kelders kyk nie

Mad Mike die Rhodesiër ·

Maak druiwesap! Of meng dit met ander vrugtesappe vir ‘n tropiese pons! Dit hoef moes nie wyn te word nie. En natuurlike vrugtesappe is baie gesond, veral met die virus wat die rondte doen en ander kwale. Druiwesap is ook ‘n natuurlike versoetmiddel vir sekere voedsel.

Chris dupreez ·

Dit is klaar wyn wat gemaak is wat die probleem is nie die druiwe nie.

Mallie ·

Eis van die regering. Hulle het mos die drankverbod ingestel.

Oljetter ·

Almal het deurgeloop onder die verbod en ons verstaan dat die wynbedryf gebuk gaan onder ander verswarende faktore. Daar is natuurlik ook die kwessie van stygende inset- en arbeidskoste. Hoe is dit moontlik dat dit enigsins oorweeg kan word om wyn tot niet te maak of in ander produkte te omskep? Wynpryse het oor die jare heen die prysmodel van wildreservate gevolg tot waar dit uiteindelik net bekostigbaar is vir buitelanders en n beperkte plaaslike mark. Dis eenvoudige te duur vir janalleman om gereeld wyn te drink, tensy hy bereid is om met uitskot tevrede te wees. Boonop staan winkelrakke tot barstens vol van “handsaniteerder” met undrukwekkende etikette om van die pryse nie te praat nie. Die wynbedryf het hom stelselmatig van sy belangrikste melkkoei vervreem, en hier is nou n geleentheid om n bietjie verbruikersvertroue te herwin.

Andries ·

Hulle sal dit eerder weggooi as om dit goedkoper te verkoop.

Tina ·

Herpiet het n goeie idee. Houn fees en verkoop per glas en dan kan jy sommer klaar paar bottels vir goedkoper koop as wat jy in winkels gaan betaal. Sterkte wynboere.

Karina ·

Ek stem saam met kommentare, spesiaal koos10, verkoop in 5 liter bokse teen R120 per boks vir wit en R140 vir rooi, “kwaliteit wyn teen boks wyn prys” Sowaar, dit gaan verkoop aan die binnelanders.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.