Miljoene meer ly vanjaar honger

Mense in Madagaskar soek na water in een van die ergste droogtes in vier dekades. Sandstorms het oeste en weiding verswelg en groot gedeeltes vrugbare grond is in woesteny verander. (Foto: WFP/Tsiory Andriantsoarana)

Die getal mense op die rand van hongersnood in 43 lande het tot 45 miljoen toegeneem, terwyl akute honger wêreldwyd die hoogte inskiet.

Die getal het vroeër vanjaar op 42 miljoen gestaan en in 2019 op 27 miljoen.

“ʼn Bodemlose put staar miljoene mense in die gesig. Ons het konflik, klimaatsverandering en Covid-19 verhoog boonop die getal mense wat akuut honger is. Die jongste data wys meer as 45 miljoen is op pad om van honger om te kom,” sê David Beasly, hoof van die Wêreldvoedselprogram (WFP).

Alia Hassan gee haar dogtertjie, Rawan, iets om te eet by ‘n mobiele kliniek van die Wêreldvoedselprogram. (Foto: WFP/Saleh Bin Haiyan)

“Die koste van brandstof styg, voedselpryse skiet die hoogte in, kunsmis is duurder en alles dra by tot nuwe krisisse soos dié een wat nou in Afghanistan ontvou en lankal reeds op plekke soos Jemen en Sirië heers,” sê hy.

Die WFP en sy humanitêre vennote doen alles moontlik om diegene wat deur hongersnood in die gesig gestaar word te help. Die behoefte is egter veel groter as die beskikbare hulpbronne en tradisionele bronne van finansiering word reeds tot op breekpunt gedruk.

Dit gaan nou $7 miljard, sowat R107 miljard, kos om hongersnood wêreldwyd af te weer, ʼn toename van die $6,6 miljard (R102 miljard) waarop dit vroeër vanjaar nog gestaan het.

Kinders in die suide van Madagaskar is onder meer as 1,1 miljoen mense in die land wat weens hongersnood steier. (Foto: WFP/Tsiory Andriantsoarana)

Beasly sê miljoene mense wêreldwyd het bloot nie meer die vermoë om uiterste honger te hanteer nie. ʼn Ontleding in 43 lande wys gesinne word gedwing om minder te eet, etes heeltemal oor te slaan of kinders eerder as volwassenes ʼn maaltyd te gee. In sommige gevalle, soos in Madagaskar, word mense gedwing om sprinkane en wilde blare of kaktusse te eet bloot om aan die lewe te bly.

In ander lande word kinders op ʼn vroeë ouderdom gedwing om te trou, uit die skool gehaal of ʼn gesin se laaste vee of besittings word verkwansel om kos te koop. In Afghanistan is daar berigte dat mense glo gedwing word om hul kinders te verkoop in ʼn desperate poging om te oorleef.

Van die grootste krisisgebiede:

  • Afghanistan: Minstens 24 miljoen mense is onderwerp aan akute honger. Die situasie word onder meer veroorsaak deur veelvuldige droogtes en ʼn ekonomiese ineenstorting wat mense tot op die rand van die afgrond stoot. Die WFP probeer steun aan 23 miljoen mense gee en benodig sowat R3,3 miljard per maand om dit te doen.
  • Ethiopië: Akute honger sou teen September vanjaar meer as 4,3 miljoen mense in die noorde van land in die gesig staar. Konflik in die land het intussen toegeneem en weens die afwesigheid van nuwe inligting, is die verwagting dat die syfer reeds beduidend gestyg het en nou op nagenoeg 7 miljoen mense staan. Die WFP benodig maandeliks R3,7 miljard om in Afar, Amhara en Tigray op die nood te reageer.
  • Madagaskar: Op dié droogtegeteisterde eiland, waar klimaatstoestande hongersnood vererger, word 1,3 miljoen mense deur hongersnood geraak. Laat reëns die afgelope plantseisoen voorspel waarskynlik nog ʼn swak oes en wanhoop vir gesinne wat nou sprinkane en blare of kaktusse eet wat gewoonlik vir vee gevoer word. Die WFP verskerp sy program in die streek en benodig net meer as R1 miljard oor die volgende ses maande om ʼn miljoen mense te bereik.
  • Suid-Soedan: Die humanitêre nood is hopeloos groter as die WFP se vermoë om daarop te reageer en die situasie word vererger deur oorstromings wat hele dorpies meegesleur het. Sowat 7,2 miljoen mense weet nie waar hulle volgende maaltyd vandaan gaan kom nie, 1,4 miljoen ondervind akute honger en katastrofiese vlakke van honger staar meer as 100 000 mense in die gesig. Die WFP benodig R8,7 miljoen oor die volgende ses maande om sy bedrywighede vol te hou en ʼn tekort aan geld het reeds tot die besnoeiing van rantsoene gelei sodat hulp na die kwesbaarste mense herlei kan word.
  • Sirië: In dié land weet 12,4 miljoen mense nie war hul volgende maaltyd vandaan gaan kom nie – ʼn vlak van onsekerheid wat hoër is as tydens die dekade lange konflik in die land. Konflik, die massa-ontworteling van burgers, die uitwerking van die finansiële krisis in Libanon, die verswakking van die Siriese pond en werkverliese weens Covid-19 het alles tot die benarde situasie in Sirië bygedra. Die WFP benodig R10,8 miljard tot Februarie om sy steun aan 5,8 miljoen mense wat op die WFP staatmaak om te oorleef, voort te sit.
  • Jemen: Akute hongersnood staar meer as die helfte van die land se bevolking (16,2 miljoen mense) in die gesig. Die waarde van die Jemense rial daal en stygende voedselpryse maak dit onmoontlik vir gewone Jemen-burgers om basiese voedselitems te koop. Die WFP ondersteun nagenoeg 13 miljoen mense en sowat 3 miljoen ander kry weens ʼn geldtekort elke tweede maand hulp. Die WFP se voedselhulp daar dreig om voor die einde van die jaar op te droog en R12,4 miljard is nodig om huidige vlakke van hulp oor die volgende ses maande vol te hou.

Voedselpryse was vandeesmaand op die hoogste vlak in tien jaar. Dit beteken kos is nie net buite die bereik van die armste mense wêreldwyd nie, dit word ook al hoe duurder om kos op wêreldmarkte te bekom. Die hoë koste van brandstof verhoog vervoerkoste en plaas groter druk op wêreldwye verskaffingskettings en ʼn vraghouer is vandag drie keer duurder as ʼn jaar gelede.

Die toename van 42 miljoen tot 45 miljoen honger mense word toegeskryf aan stygings in Afghanistan en kleiner toenames in Ethiopië, Haiti, Somalië, Angola, Kenia en Burundi.

‘n Vliegtuig van die Wêreldvoedselprogram lewer voedselhulp in ‘n afgeleë gebied van Suid-Soedan af. (Foto: WFP/Gabriela Vivacqua)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Jacobus ·

Hierdie is drakonies! Hongersnood en wanvoeding is die eerste faktor wat voorsien moes word met die pandemie – en nou word klimaat weer bygesleep.
Daai biljoene wat aan twyfelagtige vaksiene bestee word is nodig vir voeding. Of was dit altyd die plan?

Vrijburger ·

En soos gewoonlik, word bevolkingsaanwas nie genoem as een van die oorsake nie.

Drico ·

Nee wat! Haal kinders uit die skole uit om te trou en nog kinders te maak… iewers maak daardie logika vir ander sin maar nie vir my nie. Dis reeds waar die begin van die probleem lê!!

Frank John ·

Here Jesus Christus, help ons, ons weet U het ons gewaarsku dat hierdie dinge gaan gebeur en dan sal ons weet die einde en U koms is op hande. Ons vra U om te help dat ons kan staande bly tot U kom, tot die einde. Dankie vir U genade.

Parmantige samaritaan ·

Dit is ook van die lande wat die swakste regerings het.

MakersMark ·

Almal moet jammer voel vir die muishond lande wie se mense al dekades ly onder hongersnood. Wie moet blameer word ? Die regerings van die gespuis. SA is nie ver weg van hongersnood nie. Plaasmoorde en onsekerheid oor grond groot impak op voedselsekerheid. Om dit aan die cANCer te verduidelik is om soos godsdiens aan ‘n hond te verduidelik.

Alet ·

Die wereldwye situasie sal daartoe lei, dat mense die nuwe werelorde met ope arms verwelkom.

Keith ·

Stem saam behalwe dat al hierdie situasies waarin ons ons nou bevind, was eintlik op ons gedwing ! BV … Covid en die vax, die klimaat verandering ding, die hoe prys van petrol en diesel, en dan voedselpryse wat die hoogte in skiet. Gelowiges, as hulle Jesus en hul Bybel ken, sal nie bloot eenvoudig die NWO se planne aanvaar nie, maar die meeste van die wereld se mense sal. Ek glo dat ons gelowiges “weggeneem” sal word voordat dinge heeltemal hand uit ruk. But yes there are hard times ahead for us all.

Danie ·

En steeds maak hierdie honger mense kinders sonder ophou.
Onnosel of opsetlik.
My foeitog siestog sjeim het opgeraak.

Snowball ·

In SA was daar meer as 600 kinders van 9-10 jaar wat in 2020 geboorte geskenk het en 60% van gerigestreerde geboortes het geen inligting oor die vaders gehad nie. Hulle word waarskynlik almal staatsafhanklikes en deel van die armoede en hongersnood statistieke. Tienerswangerskappe en oorbevolking gaan SA op dieselfde pad van ellende sit.

MakersMark ·

Dit sê veel van ‘n samelewing se waardes as kinders van 8 begin broei.

Jo ·

Hoekom het hulle so baie kinders as hulle nie vir hulle kan sorg?

Kanjynoumeer ·

Bumper sticker
Can’t feed them?
don’t breed them.

Pietertjie ·

Wat anders verwag mense moet gebeur, as hulle alles rondom hulle afkap en verwoes, terwyl hulle ongebreideld voortgaan om ‘n nageslag te bou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.