Miljoene minder vir OVK in verkiesingsjaar

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die regering het dit goed gedink om die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se begroting met miljoene rand te sny. En dít in ’n verkiesingsjaar.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake het Dinsdag, presies 92 dae voor die nasionale en provinsiale verkiesings, gehoor dat die OVK se begroting vanjaar R2,3 miljard beloop nadat dit met altesame R281 miljoen gesny is.

Die syfers toon verder dat die OVK se verkiesingsbedrywighedeprogram tans met R163,5 miljoen onderbefonds is.

Om sake te vererger, is die plaaslike regeringsverkiesing in 2026 ook tans onderbefonds.

Tog is meer geld – ʼn bykomende R200 miljoen om presies te wees – vir politieke partye beskikbaar gestel. Dit is onderworpe aan die parlement se goedkeuring van die konsepwet oor toewysings.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Die tesourie sal die geld aan die OVK oorbetaal wat dit dan aan politieke partye oorbetaal.

Die ANC sal na verwagting die meeste ontvang weens sy verteenwoordiging in die Nasionale Vergadering.

Die OVK beplan nou om van sy spaargeld te gebruik om alle verwagte tekorte vir vanjaar se nasionale en provinsiale verkiesings te finansier en ’n behoorlike verkiesing te lewer. Die kommissie moet egter nog die tesourie se goedkeuring hiervoor bekom.

Die komitee het ook gehoor dat die OVK se begroting met R607,2 miljoen in 2025‑’26 en 2026‑’27 gesny is, wat beteken dat die 2026-plaaslikeregeringsverkiesing nie ten volle befonds is nie.

Die OVK hoop om ook dan van spaargeld gebruik te maak om die tekort te pak.

(Foto: GCIS)

Nuwe wet = meer koste

Nie net het die OVK vanjaar minder geld om aan die verkiesing te spandeer nie, maar die goedgekeurde wysigings aan die Kieswet gaan hom ook meer geld kos.

Maroela Media het vroeër berig die omstrede wysigingswetsontwerp op die Kieswet is sowat tien maande gelede bekragtig met die gevolg dat Suid-Afrikaners op 29 Mei vanjaar hul kruisies agter onafhanklike kandidate se name kan trek.

Dié wysigings noodsaak ’n derde stembrief wat ’n uitwerking op die kommissie se begroting vir verkiesingsmateriaal sal hê.

Die OVK het Dinsdag daarop gewys dat hy ook sy elektroniese stelsels in ooreenstemming met die gewysigde wet sal moet wysig. Die kommissie het boonop meer personeel nodig om die stemme te tel.

Daar is ook ’n groot waarskynlikheid dat daar meer litigasie sal wees, wat die kommissie geld gaan kos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Papsak ·

Ek bid hard dat hierdie verkiesing ons lig sal bring regtig genoeg is genoeg ?????

Pieter ·

So begin die gaos. As daar Gaos is, is dit waar die lot die meeste skelm is… Check this space.

Tania ·

Sny hulle fondse om minder mense te kan he sodat meer bedrog tydens die verkiesing kan plaasvind … dink soos die ANC

SjN ·

Met die huidige tegnologie kan die stemproses mos baie makliker en boonop meer regverdig wees, korrupsie met tellery, en uitslae is ook dadelik rekenaarmatig beskikbaar?

Pieter ·

@SjN – Tegnologie wat meestal in ander exchange rates betaal moet word. Dan praat ons nie van Wilskrag of Competency nie. Hierdie land het nie die geld om sulke infrastruktuur ordentlik te kan manage nie. Gaan probeer bietjie weer jou bestuur lic hernu? Die proses was al fully online, nou staan ons maar weer is rye…. Ens Ens Ens Ens Ens. Daar was ook eens altyd krag…
Maar ek stem 100% saam jou. Die probleme wat ons het is nie tech nie, maar eerder die wat die job doen. Wie se miskien is die huidige pros juis in plek om ons ratte voor die oe te draai… Ek glo deesde net wat ek self doen want history has proven… Die lot is boos.

Willempie ·

Daar word nie meer ń groot getal beamptes benodig nie. Die stemme is alreeds getel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.