Miljoene nodig vir kankerlyer (2) se behandeling

keanu glimlag

Klein Keanu Moore. (Foto: Verskaf)

Slegs enkele maande gelede was klein Keanu Moore van Brackenfell in die Wes-Kaap nog ʼn energieke, blondekop tweejarige wat gehou het van rondhardloop saam met sy maats. Sy wêreld is egter op sy kop gekeer toe hy van erge pyn in sy maag en bene begin kla het en hy kort daarna deur dokters met fase vier neuroblastoomkanker gediagnoseer is.

Só het ʼn woordvoerder, wat deur Keanu se familie aangestel is om navrae namens die familie te hanteer, aan Maroela Media vertel. “Keanu se ouers het natuurlik hulle hande vol met hom en sy ma moes haar werk as kommunikasiebeampte prysgee om voltyds na hom om te sien.”

Teen die tyd toe Keanu in Oktober verlede jaar gediagnoseer is, het die kanker reeds 65% van sy beenmurg deurtrek. Daar is ook twee gewasse in sy lyf gevind, een in sy buik en een agter sy hart naby sy rugwerwels. Dokters het onmiddellik by die Tygerberg-hospitaal met chemoterapiebehandeling begin. Tygerberg is die enigste private hospitaal in die Wes-Kaap met ʼn kinderonkologieafdeling wat pasiënte jonger as 12 jaar oud behandel.

“Keanu het teen Desember reeds vier rondtes chemoterapie ontvang en dokters het gesê sy beenmurg is so te sê silwerskoon. Daarna het hy nog agt rondtes deurgemaak, en ons kan gelukkig sê dat sy beenmurg nog steeds silwerskoon is en dat een van die gewasse klein genoeg geword het sodat dit veilig is om te opereer,” het die woordvoerder gesê.

Op 1 Maart vanjaar is die gewas in Keanu se buik saam met sy bynier verwyder. “Die ander gewas is te naby sy rugwerwels en ook naby die hart en moet eers nog krimp voordat dit met opebors-chirurgie verwyder kan word,” het die woordvoerder verduidelik.

“Hy ontvang tans ʼn aggressiewe soort chemoterapie wat bekendstaan as ‘the red devil’. Hy ontvang vir vyf dae aaneen chemo, dan rus hy vir drie weke en ontvang dan weer chemo vir vyf dae aaneen. Hy moet Maandag weer begin met die volgende rondte.”

keanu in die hospitaal voor hy al sy hare verloor het

Keanu in die hospitaal voordat hy al sy hare verloor het. (Foto: Facebook)

Volgens die woordvoerder is stamselbehandeling die enigste behandelingsopsie wat ná die chirurgie in Suid-Afrika oorbly. “Ongelukkig het neuroblastoomkanker die lelike neiging om in 60% van gevalle terug te kom – en dan is dit te laat. Dit is belangrik dat Keanu tussen Augustus en November immunoterapie moet ontvang.”

Dié behandeling behels die herprogrammering van die liggaam se selle, sodat dié selle kankerselle vinniger kan optel en vernietig voordat dit skade aanrig indien dit sou terug kom, en die liggaam homself van binne kan reinig.

Daar is slegs ʼn handjievol hospitale ter wêreld wat dié immunoterapie beskikbaar stel en die gesin het kwotasies by hospitale in Amerika, Engeland, Italië en België hiervoor aangevra.

“Memorial Sloan Kettering-hospitaal in New York kwoteer meer as R15 miljoen vir die eerste rondte van die behandeling. Ons is tans besig om verdere navorsing te doen vir goedkoper opsies en om te kyk na die Sant Joan de Due-hospitaal in Barcelona, asook opsies in Londen en België te oorweeg, waar kwotasies by R5 miljoen begin.”

Vir die deposito en reiskoste moet die familie teen einde Julie R2,5 miljoen insamel en moet hulle die res van die geld drie maande later gereed hê indien die behandeling verleng sou word. “Die gesin se lewenskostes sal ook vir ses maande gedek moet word. Jy kan vir jouself dink wat die koste in euro sal beloop,” het die woordvoerder gesê.

In ʼn poging om geld in te samel sodat Keanu die behandeling so gou moontlik kan ontvang, het die familie ʼn Facebook-blad “Cure 4 Keanu” op die been gebring. Die familie het ook, met ondersteuning van vriende uit die Brackenfell-gemeenskap, talle geldinsamelingsinisiatiewe van stapel gestuur.

“Die familie wil nie net vir donasies vra nie. Ons wil graag iets doen, nie net vir Keanu nie, maar ook om bewustheid te skep rondom die siekte,” het die woordvoerder gesê. “Daar is baie mense wat sê hulle het nie geld om te skenk nie, maar ons kort nie net geld nie, ons kort ook hande. Daar is ʼn aparte Facebook-bladsy geskep vir vrywilligers wat help tydens die pretstappe en bootreise en ander geleenthede wat ons reël om geld in te samel.”

Intussen het hulp uit alle oorde begin instroom en selfs bekendes soos Radio Raps sit handjie by om geld in te samel. Radio Raps, of te wel Rikus de Beer, het aan Maroela Media gesê hy nooi die publiek persoonlik uit om deel te neem aan die SABAT Hero Run-pretdraf wat eersdaags in Pretoria, ten bate van Keanu, gaan plaasvind.

sabat hero run

Kaartjies is beskikbaar by iTickets.

De Beer vertel dat hy al ʼn geruime tyd ten nouste saam met die Caring Daisies-liefdadigheidsorganisasie werk en dat hy daagliks pleidooie om hulp van die publiek en mense soos Keanu ontvang. “Kyk, dit breek my,” het hy gesê.

“Ek het gevoel ek wil graag ʼn pretdag reël wat lekker is vir die hele gesin en die idee van die Hero Run het in my kop opgekom. Jy hoef nie ʼn fiksheidsfoendi te wees om deel te neem nie, jy kan net laf en van jou kop af wees en saam met ons kom pret hê.”

Hy verduidelik dat daar hindernisbane, ʼn biertent en vermaak gaan wees. “Robbie Wessels gaan kom sing en Lollos gaan optree vir die kinders. Daar is ook ʼn speelarea vir die kinders waar hulle kan rondhol en hul gesiggies laat verf.”

Hy het gesê hy beplan om te gaan as Die Raps Man en dat die publiek ook welkom is om soos hulle eie soort superhelde aan te trek. “Jy hoef nie, maar dit sal lekker wees as mense die idee hul eie maak. Moet net nie kom as die Tax Man nie,” het hy geskerts.

“Almal soek altyd na ʼn held, maar dit begin by jou. As jy ʼn held vir een persoon kan wees, en daardie persoon vir die volgende, kan die rimpeleffek daarvan ʼn enorme uitwerking op mense se lewens hê.”

Die SABAT Hero Run word op Saterdag 14 April in samewerking met GrootFM aangebied en vind by die Pretoria Old Boys-klub in Lynnwood in Pretoria plaas. “R50 van elke kaartjie wat ons verkoop word net so aan Keanu se fonds geskenk. Hierdie kanker wat hy het, is ʼn helse ding en ons wil baie graag help om ʼn verskil te maak,” het hy gesê.

Enigiemand wat ʼn donasie wil maak aan Keanu se fonds kan die Facebook-bladsy “Cure 4 Keanu” besoek vir kontak- en bankbesonderhede. Vrywilligers wat betrokke wil raak kan die “Cure 4 Keanu Volunteers” bladsy besoek.

“Ons is baie gelukkig dat Keanu goed gereageer het op die behandeling wat hy tot dusver ontvang het en dat hy die minimum pyn ervaar en nie dikwels aan ʼn siekbed gekluister is nie. Afgesien van die tye wat hy stil moet lê wanneer hy chemo ontvang of soms naar of koorsig is weens die newe-effekte van die chemo, is hy steeds die lewenslustige seuntjie wat ons onthou,” sê die gesin se woordvoerder.

“Ons is ook baie hartseer oor die bos hare wat hy verloor het. Party dae is dit moeilik om te dink hy is eintlik baie siek, en hierdie goeie oomblikke dra ons en gee ons hoop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Henneman ·

Nou vra ek myself af,al die multi miljoeners,kom mense,maak julle harte en beursies ook oop asb,die Hero se lewe het nou net begin en sal als kan ervaar as kind met almal se hulp.

jean ·

Suid Afrika het seker nog nooit van “pro bono” dienste gehoor nie. Ek weet dis veral prokureurs wat dit oorsee doen, maar kan daar nie in hierdie geval waar die behandeling so ekstreem is gehelp word nie?

Henneman….die moeilikste ding op die aarde is om ‘n ryk man van sy geld te skei….

@ Jean ·

Dit wil voorkom asof die behandeling slegs in ander lande beskikbaar is so al sou ‘n dokter sy dienste gratis aanbied, sou dit nie in SA werk nie. Ek stem egter met jou saam dat daar slegs enkele dokters of hospitale of prokureurs of professionele manne is wat bereid is om pro bono te werk . dalk kry hulle nie genoeg aansien daardeur nie, en beteken die miljoene wat hulle elke maand ontvang vir hulle meer as ‘n liefdesdaad aan ‘n siek kind. DIT GESE moet ek ook byvoeg dat daar WEL ryk en professionele mense is wat WEL hulle hande diep in hulle sakke steek om siekes te help maar dat dit maar die middelklas is oor die algemeen wat help met fondsinsameling en events om geld in te samel vir siek kinders . Dis nie asof een persoon bereid sou wees om R1 miljoen te gee nie . maar hulle sal dit vir ‘n politieke party gee of vir ‘n staatsinstansie waar hulle media dekking kry .. JAMMER maar ek moet gedeeltelik met jou saamstem . daar is uitsonderings maar oor die algemeen is die “rykes” in SA se beursies en hande toe .. dit is die middelklas wat die hulp aanbied ..Vat maar enige prokureur of dokter .. vra hom of jy kan afbetaal aan enorme fooie? Uhm nee!

Valerie ·

Empatie. Erens het dit van die brug afgeval. Die wat kan help en nie wil nie, moet bid of in hul hiout/klip afgode glo dat so iets nooit met hulle gebeur nie. Vra ‘n ma hoe dit voel wanneer jou kind met meningitis gediagnoseer word en jy het nie die R15 000 wat die hospitaal soek voor hulle hom eers toelaat vir die LP en isolasie saal nie. Ek het daardie dag nie weeklike onmenslike gesig van die mens hesien, en ek sal dit nooit vergeet nie.

Keanu behoort behandel te word teen amper geen koste. Dit is menslikheid; niks anders nie.

Ek skaam my vir die wat het en nie wil help nie, en ek glimlag vir die wat kelp al kan hulle nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.