Miljoene om Dewani in die land te kry

Shrien Dewani op 8 April 2014 in Kaapstad Foto: Leigh-Anne Jansen/eNCA/SAPA

Shrien Dewani op 8 April 2014 in Kaapstad Foto: Leigh-Anne Jansen/eNCA/SAPA

Dit het die belastingbetaler glo miljoene gekos om Shrien Dewani na Kaapstad te bring om tereg te staan vir die moord op sy jong bruid, Anni.

Dewani het omstreeks 09:00 op Kaapstad Internasionale Lughawe geland met ʼn privaatvliegtuig wat deur die departement van justisie gehuur is.

“Hy is met ʼn privaatvliegtuig van Bristol-lughawe in die Verenigde Koninkryk na Suid-Afrika gebring,” het Mthunzi Mhaga, woordvoerder van die departement, in ʼn verklaring gesê.

Volgens ʼn lugvaartbedryfbestuurder, wat anoniem wou bly, kan die vlug van 10 000 km miljoene rand gekos het.

Die basiese koste vir soortgelyke vlugte beloop tussen R50 en R70 per kilometer, afhangend van die tipe vliegtuig wat gebruik word.

Mhaga wou nie Dinsdag die koste van die vlug bekend maak nie.

Hy het vroeër gesê een van die redes waarom ʼn privaatvliegtuig gebruik is, is omdat Dewani vroeër selfmoordneigings getoon het.

Dewani het Dinsdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof verskyn.

“Ja” was die enigste woord wat Dewani in die hof voor regter John Hlophe geuiter het. Sy saak is tot 12 Mei 2014 uitgestel. Hlophe het aan hom gesê hy sal volgende maand in die hof verskyn. Toe hy nie reageer nie, wou Hlophe by hom weet: “Hoor jy my?”

Dewani sal by Valkenberg-hospitaal aangehou word.

ʼn Onderneming tussen die departement van justisie, Nasionale Vervolgingsgesag en Britse owerhede is by die hof ingedien. Volgens die ooreenkoms sal Dewani in ʼn enkelsel in die siekeboeg van die Goodwood-gevangenis aangehou word. Staatsaanklaer Rodney de Kock het egter gesê dit word vervang met ʼn versoek deur Dewani se dokter dat hy by Valkenberg aangehou moet word. Volgens sy dokter is hy geestelik siek en benodig volgehoue sorg.

Hy staar vyf aanklagte wat verband hou met die moord op sy vrou Anni in November 2010 in die gesig. Hy word beskuldig dat hy die Wet op Oproerige Vergadering oortree het. Die staat beskuldig Dewani dat hy onwettig en doelbewus saam met Zola Tongo, Mziwamadoda Qwabe en Xolile Mngeni vergader het. Die beweerde ooreenkoms was dat Tongo die dienste van ʼn persoon of persone sal bekom om ʼn kaping na te maak, wat dan die ontvoering, roof en moord tot gevolg sou hê. Die staat voer aan Dewani sou die oortreders betaal.

Tongo, Qwabe en Mngeni dien reeds tronkstraf uit in verband met die moord.

Die tweede aanklag hou verband met ontvoering nadat Anni op 13 November 2010 in Gugulethu in Kaapstad met ʼn vuurwapen gedreig is om in Tongo se voertuig te bly. Sy is glo teen haar wil van NY112 Gugulethu na Singolamthistraat in Ilithapark, Khayelitsha geneem.

Die derde aanklag is roof met verswarende omstandighede. Dewani en die ander het glo haar Giorgio Armani-horlosie, witgoud- en diamant-armband, handsak en Blackberry-selfoon gesteel.

Die vierde aanklag is moord. Dewani het saam met Tongo, Qwabe en Mngeni saamgesweer om Anni met ʼn vuurwapen dood te skiet.

Die laaste aanklag hou verband met dwarsboming van die gereg. Die staat voer aan Dewani het onwettig en doelbewus op 14 en 15 November 2010 twee oneerlike verklarings by die Gugulethu-polisiestasie en die polisie se georganiseerdemisdaad-eenheid afgelê.

Hy het aangevoer hy, Anni en Tongo is gekaap, gedreig met ʼn vuurwapen, en deur twee onbekende mans in Gugulethu beroof. Hy het gesê die kapers het hom en Tongo met geweld uit die motor gepluk en met Anni weggery. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Peter Says ·

En nog baie meer miljoene gaan nodig wees, en ons betaal daarvoor. Vonnis hom en deporteer hom terug na sy land.

Adel Koch ·

Dis hartseer om te hoor hoeveel dit gekos het om n buitelander Dewani Suid Afrika toe bring om hier verhoor te word terwyl van ons eie Suid Afrikaners in ander lande in tronk sit en ons eie Suid Afrikaanse Goewerment doen nie niks daaraan nie. Soos my vriendin Kathryn Dunn wat lewenslank gekry het in Indonesia. Het nog kontak met haar gehad op fb ( Bring Kathryn Dunn back home. Fb blad wat my dogter vir haar gemaak het ) tot onglans maar nou het ons heeltemal kontak verloor want sy mag nie meer foon gebruik nie. Bid dat God sy wakende hand oor haar sal hou.

Carel ·

Dit is reg dat ons betaal – dit is waarom ons betaal om ons regstelsel te laat werk – as hy die moord gereel het moet hy in die hof kom staan en sy saak stel en as hy skuldig is wel dan sal my belasting geld goed werk om vir hom in die tronk te sorg.

sarie ·

As hy die moord beplan het is hy Skuldig. Wanneer n mens moord beplan dan is daar n groot verskil. Dit was nie n ongeluk nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.